Van bo gebore: Die wonderlike werk van die Heilige Gees
Christus het die verlossing vir ons verwerf aan die kruis. Maar sonder die werk van die Heilige Gees sou ons nooit daaraan deel gekry het nie.
Vandag merk ons dat daar by sekere Charismatiese- en Pinksterbewegings ‘n onderskeid tussen bekering en die ontvangs van die Heilige Gees gemaak word. Volgens die Gereformeerde verstaan, skep díe idee die indruk dat geloof die vernuwende werk van die Heilige Gees voorafgaan.
Die Skrif leer egter dat die mens van nature nie uit homself na God draai nie. Paulus sê ons was "dood deur die misdade en sondes" (Effesiërs 2:1). 'n Dooie mens kan homself nie lewend maak nie! Daarom neem God die inisiatief en blaas die asem van lewe weer in ons. Jesus bevestig dit wanneer Hy sê: "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie" (Johannes 6:44). Ware geloof ontstaan dus nie uit die mens se eie vermoë of besluit nie, maar uit die Gees se werk. Regdeur die hele verbondsverhaal sien ons hierdie beginsel: God roep Adam en Eva ná die sondeval; Hy sluit die verbond met Abram deur alleen tussen die stukke vleis te loop. En Christus roep sy dissipels op om Hom te volg. Die voorbeelde illustreer dat God die eerste stap neem. God inisieer die liefdesverhouding tussen Hom en sy kinders.
Ons is van nature blind en dwaas in ons sondes (Titus 3). Alhoewel Jesus dalk nie vandag fisies in ons midde is nie, het ons wel die geskenk van die Heilige Gees wat ons oë oopmaak en wys: Kyk na die Kruis, vandaar kom jou verlossing.
Dit is onmoontlik om ‘n Christen te wees sonder dat die Gees in jou werk.
“…niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.” (1 Korinthiërs 12:3)
Sonder die Heilige Gees se toepassing van Christus se verlossingswerk sou ons nooit die vrug daarvan ontvang nie. Want hoe sou ons dan glo in ‘n verlossing wat ons nie eers kan raaksien nie? Ons is dood in die sonde en MOET deur die Heilige Gees weergebore word om Christus as ons Koning en Saligmaker te herken.
Artikel 12 van die NGB lui so: “Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat word en tot ‘n nuwe mens maak, hom ‘n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing van sonde bevry.”
In die verlede – voor die sondeval – was ons goed geskape (Genesis 1:31): “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en - dit was baie goed.” Ons het as gevolg van die sondeval die verhouding tussen ons en God belemmer. Alles waarvoor ons geskape is, het ons geskend. Ons het dooie beendere geword. Wie of wat kan die verhouding tussen ons en God herstel? Hoe word wedergeboorte bewerkstellig? Hoe word ons weer “goed” voor God se oë?
Die woordeboek beskryf wedergeboorte as 'n nuwe groeitydperk of die herlewing van iets wat voorheen bestaan het. Die Heilige Gees bewerk die nuwe lewe vir ons. Hy sit die volkome, bonatuurlike proses aan die gang. Daar is ‘n massiewe stryd wat woeker om van ons nuwe mense te maak. Van ons kant af is dit ‘n passiewe proses. In Johannes 3:3, in die 2020-vertaling, vertel Jesus vir Nikodemus: “as iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Wedergeboorte kom van BO. Die geboorte kan nie van die aarde, of die mens self, voortkom nie. Ons is nie in staat om agter te kom dat ons gered moet word van die verslawing van sondes nie. Om die koninkryk van God te beërf, moet ons van “bo af” verander word. Deur die verkondiging van die evangelie kom ons tot die besef dat ons ons moet bekeer (Hebreërs 12:14).
Nadat die Heilige Gees wedergeboorte bewerk het, gaan Hy voort om die gelowige te vernuwe. Van die oomblik af wat die Heilige Gees in jou werk, is Hy voortdurend besig om jou te laat groei in die nuwe lewe. Daar is soms tye wat jy die Heilige Gees bedroef. Maar, met die bomenslike krag van die Gees, is die geboorte van bo af - ‘n intensiewe proses wat jou help om keer op keer weer jouself te kan bekeer (Jeremia 31:18).
God skenk die geboorte, deur die prediking. Jy word heeltemal kop-onderstebo gedraai, tot ‘n nuwe mens, deur die prediking. Dit klink effens soos ‘n antiklimaks. Maar bybelstudie, katkisasie en die samekoms van die heiliges, is die instrumente wat die Heilige Gees gebruik om ons te maak “soos ons was”. Hoe bevoorreg is ons nie dat ons wel hierdie middele, amper vanselfsprekend, tot ons beskikking het nie. Die instrumente het ons elke Sondag. Elke Woensdag. Ons het die belangrikste instrument op ons bedkassie. Nuwe lewe en verkwikking deur die Gees is net ‘n klipgooi ver, en ons moet nie die krag van die Heilige Gees se instrumente onderskat nie.
Sondag 12 van die Heidelbergse Kategismus sê dat: “[Christus] deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is, tot ons hoogste Profeet en Leraar, wat ons met sy Woord en Gees regeer.”
Christus is die Gesalfde, dit is sy titel wat dui op sy amp. Hy is deur God die Vader gestuur, en deur die Heilige Gees gedoop. Christus is bevestig in sy amp as Verlosser, deur die doop van die Heilige Gees. Net so gee die Heilige Gees ook vir Hom die krag om die moeilike taak te vervul. In Jesus se lewe draai alles om sy ampsdiens en die taak wat hy moet voltooi as Verlosser (Matthéüs 3:13-17).
Net soos ons Koning gesalf is tot ‘n amp, is ons ook deur die Heilige Gees gesalf en geroep tot diens aan God. Ons is, deur die werking van die Gees, Christene. Die Gees gee ons wat Christus vir ons verdien het. Hy kom en pas die verlossing op ons lewens toe, Hy maak dooie beendere weer lewend (Esegië. 37). So vorm ons weer ‘n eenheid met Christus. Hy het die volle krag van die Gees ontvang, en ek en jy mag nou ook daaraan deel kry.
Ons word nie gesalf deur die Gees om jou en my gelukkig of opgetoë te laat voel nie. Inteendeel die Gees eis van ons iets baie moeiliker, en onaangenaam. Naamlik om ons eie begeertes en natuur te laat vaar om Sy doel te bereik. Die Gees dwing ons oor tot aksie, om standvastig te bly teen die liste van die duiwel en ons lewens ten volle toe te wy aan die Here. Dis waartoe die Gees ons roep.
En soos verskeie kere genoem is, is ons dood in die sonde. Ons sal ons rieme styf loop as ons die doel self moes bereik het. Daarom, soos die Gees ons oproep tot sy diens, bemagtig Hy ons ook om die doel te kan bereik.
“Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem wat aan my behoort, en aan julle verkondig.” (Johannes 16:14)
Die Gees plaas die kollig op Christus. Jesus verduidelik dit aan sy dissipels in Johannes 14 en 16. Die Gees leer ons van Christus, en bewerk ‘n al groter liefde in ons vir Hom. Dit is die Gees wat die verlossing in ons harte toepas, ons daaraan laat deel kry en ons daarvan leer. Sonder Sy werk sou ons die genadegawe in die bek kyk!
Die Heilige Gees is nie 'n bykomstigheid tot ons verlossing nie. Hy is die Een wat ons dooie harte lewend maak, ons oë vir Christus oopmaak, geloof in ons werk en ons dag vir dag vernuwe. Christus het die verlossing volkome verwerf, maar die Gees maak ons deelgenote daarvan. Daarom kan geen Christen roem in sy eie geloof of bekering nie. Van begin tot einde behoort ons redding aan die drie-enige God alleen.
Bronne
- Verskeie preke van Ds Pieter Boon, hoofsaaklik: Wie is die Heilige Gees en wat Hy doen? (13/03/2022), Die Heilige Gees skenk aan sondaars geboorte van bo (12/11/2023)
- Verskeie preke van Ds Erik van Alten hoofsaaklik: ‘n ernstige roeping in verbondenheid aan God se Gesalfde (12/04/2026) en Die Heilige Gees is die band van liefde wat my aan God verbind (28/05/2026)
Geskryf deur Eleanne Kerkhoff, VGK Pretoria