Twyfel - So ver van God soos die man na Sy hart

Meeste van ons ken donker tye. Tye waarin jou geloofslewe nie so sterk voel nie, of erger nog, tye waarin jy ver van God verwyderd voel. Tye waarin jy selfs begin twyfel of God jou gebede hoor, of Hy ooit vir jou omgee. In sulke tye kan dit soms voorkom of die Here van jou vergeet het.

Twyfel - So ver van God soos die man na Sy hart
Photo by Md Mahdi / Unsplash

Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria

Meeste van ons ken donker tye. Tye waarin jou geloofslewe nie so sterk voel nie, of erger nog, tye waarin jy ver van God verwyderd voel. Tye waarin jy selfs begin twyfel of God jou gebede hoor, of Hy ooit vir jou omgee. In sulke tye kan dit soms voorkom of die Here van jou vergeet het. 

Dawid, die man na God se hart, was nie onbekend met hierdie donker gevoel nie. In ‘n menigte psalms roep hy uit tot God, “my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank?” (Psalms 6:4) of “O Here, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?” (Psalms 10:1). 

Daar was tye wat Dawid gevoel het dat God hom vergeet het. Daar was tye wat hy uitgeroep het tot God “hoe lank nog”, wanneer hy al jare van Saul gevlug het en dit moeilik geraak het om God se beloftes te bly glo. Maar daar is ook ‘n hele klomp kere dat Dawid bely dat hy van God vervreem is as gevolg van sy eie optrede. Dink aan sy tyd in die land van die Filistyne, sy sonde met Batseba en wanneer hy vlug vir Absalom. Net so is daar by ons ook verskeie redes vir verwydering van God, soms die onverstaanbare raadsplan van die Vader, maar soms deur ons eie toedoen. 

Kom ons leer by Dawid hoe om hierdie donker tye in ons lewe te hanteer. 

Selfondersoek

Ons is vinnig om te voel God hoor ons nie of God het van ons vergeet. Dit is dan maklik om amper onbewus die kerk, die dominee, medegelowiges en soms selfs die Here self die skuld te gee vir ons donker tye. Dit is egter baie belangrik dat ons eers selfondersoek doen. 

Ons is geneig om soms te dink die Here verhoor alle gebede. In die Bybel sê God egter duidelik en herhaaldelik dat Hy soms Sy ore vir ons sluit:

  • As ons onbelyde sondes het (Jesaja 59:2, Miga 3:4, Spreuke 28:9).
  • As ons ander dinge bo God stel (Eségiël 14:7-8, Galásiërs 5:4).
  • As ons nie bereid is om ander te vergewe nie (Markus 11:25-26, Matthéüs 5:23-24).
  • As ons nie bereid is om ander te help nie (Spreuke 21:13).
  • As ons slegs vra om ons eie begeertes te bevredig (Jakobus 4:3).
  • As ons in ongehoorsaamheid lewe (Sagaría 7:13).
  • As daar ongeregtigheid in die huwelik is (1 Petrus 3:7).

Hierdie is alles baie indringende Bybelverse, met ‘n duidelike boodskap. Soms word ons van God vervreem deur ons eie toedoen. Ons sluit ons hart vir God en Hy laat ons dan oor aan ons eie begeertes. Dit is op hierdie punt wat ons saam met Dawid ons skuld moet bely:

“Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed. My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe” (Psalm 32:3-5).

God bring soms donkerte oor ons lewe, maar gelukkig is dit nooit die einde nie. God bly getrou. Sy doel met die donkerte in ons lewe is altyd dat ons weer na Hom sal terugkeer waar Hy verlangend sal wag na ons soos die Vader in die gelykenis van die verlore seun. 

Alle hartseer en ongeluk is die gevolg van sonde, maar ons kan beslis nie die konklusie trek dat alle hartseer en teëspoed die direkte straf op ons persoonlike sonde is nie. In die Bybel vind ons ook talle voorbeelde van gelowiges wat baie swaar gekry het terwyl daar duidelik getuig word dat dit nie ‘n straf op hulle sonde was nie. Dink aan Job, met respek gesê, waar die swaarkry in sy lewe die gevolg van ‘n goddelike weddenskap was. Dink ook aan die blinde man oor wie die Here Jesus self sê: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” (Johannes 9:3)

Wat moet ons dan doen as dit voel of God van ons vergeet het, en ons van harte kan bely dat ons Hom (al is dit met gebreke) wil dien? Weereens kan die Psalms ons van groot nut wees. 

Soek sonder ophou

Soek die Here. Maak nie saak hoe donker jou lewe is nie. Hou aan om die Here te soek. Hy belowe dat Hy Hom sal laat vind, en dat Hy sal oopmaak as ons klop. 

Ja, soms roep ons dit uit met Dawid: “Hoe lank, Here, sal U my altyddeur vergeet? Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg?” (Psalm 13:2). Soms voel die Here so ver weg, dat ons wil opgee. Ons ervaar nie meer Sy nabyheid nie. Maar hoe teenstrydig dit ookal mag voel, moenie opgee nie. God is daar en Hy hoor ons. Hou aan om Hom te soek. 

Psalm 27 is ook ‘n Psalm waarin Dawid uitroep tot die Here, dat sy vader en moeder hom verlaat het en dat die Here hom tog nie ook moet afwys of verlaat nie. Dit is in hierdie konteks dat Dawid uitroep “Ek soek u aangesig, o HERE!” (Psalm 27:8)

Hou aan om die aangesig van die Here te soek en vertrou dan op die seën wat jy elke week in die kerk mag ontvang “Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.” (Númeri 6:24-26)

Wag

Ja, ons weet ons moet die Here soek. Dit is maklik in teorie... maar in jou lewe voel dit dalk so anders. 

Die Here se tyd is nie ons tyd nie. Abraham moes wag tot hy honderd jaar oud was voor hy die seun van die belofte gekry het (Génesis 21:5). Dawid moes 15 na 20 jaar wag voor hy uiteindelik koning kon word soos die Here beloof het, en die meerderheid van die tyd moes hy vlug vir sy lewe. 

Josef was ongeveer 17 jaar oud toe hy deur sy broers verkoop is (Génesis 37:2), dertien jaar later het hy pas onderkoning geword (Génesis 41:46). Hy moes twee jare wag vir die skinker om van hom te onthou (Génesis 41:1) en uiteindelik het hy, eers 22 jaar na hy verkoop is, weer sy pa gesien (Génesis 45:6). En nog kon Josef terugkyk op sy lewe en vir sy broers sê: “Júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om 'n groot volk in die lewe te hou.” (Génesis 50:20)

Ons verstaan nie altyd God se plan en Sy tydskaal nie. Maar ons kan gelowig saam met Dawid bid: “o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie … Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” (Psalms 27:13-14)

Hoop

Dit maak nie saak hoe donker jou lewensomstandighede lyk nie, daar is altyd hoop, want ons het ‘n genadige en almagtige God. Een wat altyd daar is, ‘n God wat so intiem by ons betrokke is dat Hy selfs weet hoeveel hare daar op jou kop is (Lukas 12:7). 

En as jy ooit voel soos Dawid in Psalm 22 en wil uitroep “My God, my God, waarom het U my verlaat” weet dan dat God jou so lief gehad het dat Hy sy Seun na die aarde gestuur het. Hy het al jou skuld en sorge op Hom geneem. Hy is werklik deur God verlaat sodat ons nooit weer deur God verlaat hoef te word nie. 

Leer by die man na aan God se hart wat menigmaal ver van God af gevoel het en wag verlangend op die dag wat ook jy mag sing: “Julle wat die Here vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel! Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp” (Psalms 22:24-25).

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp