Pinkster: 'n Blywende Effek

Pinkster is een van die belangrikste feeste wat ons as Christene vier. Die woord “pentekostos” beteken vyftigste. Dit verwys na die vyftigste dag na die opstanding van Jesus Christus. Vir baie mense is Pinkstersondag net nόg ‘n Sondag in die jaar...

Pinkster: 'n Blywende Effek
Photo by Meiying Ng / Unsplash

Geskryf deur Marnix Boon, VGK Pretoria-Maranata

Pinkster is een van die belangrikste feeste wat ons as Christene vier. Die woord “pentekostos” beteken vyftigste. Dit verwys na die vyftigste dag na die opstanding van Jesus Christus. In ons hedendaagse wêreld word Pinkster nie meer werklik gevier nie. Vir baie mense is Pinkstersondag net nόg ‘n Sondag in die jaar. Dit is daarom goed dat ons nadink oor waarom ons Pinkster vier, en waarom die Pinkstergebeurtenis wat in Handelinge 2 afspeel, vir ons vandag net so belangrik is as 2000 jaar gelede.

In die Ou Testament word hierdie gebeurtenis al op verskeie plekke voorspel. God sê dat Hy sy Heilige Gees in gelowiges se harte sal laat woon. In die Ou Testament het God sy Gees op profete, priesters en konings uitgestort. ‘n Mens kan dit ook so stel: die kraan wat God gebruik het om die Heilige Gees op mense uit te stort in die Ou Testament, het slegs gedrup. God het net op sekere persone of groepe die Heilige Gees uitgestort. In 1 Samuel 16:13 (AFR53) lees ons: “Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die Here het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan.” Dawid het dus, as koning, die Heilige Gees van God ontvang. In die Ou Testament was die Heilige Gees slegs uitgestort op God se verbondsvolk, wat die volk Israel was. Elke gelowige, hetsy in die ou of nuwe verbond, het die Heilge Gees ontvang. Dit is onmoontlik om ‘n gelowige te wees sonder die Heilige Gees. Tog is die Heilige Gees slegs aan een volk geskenk in die ou verbond. Die Heilige Gees het as’t ware gedrup op profete, priesters en konings. Tydens Pinkster het hierin verandering gekom!

Die profeet Joël het Pinkster voorspel as volg: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.” (Joël 2:28-29, AFR53). Petrus het ook met sy preek tydens Pinkster hierdie teks aangehaal in Handelinge 2:16-18.  Tydens die Pinksterdag wat in Handelinge 2 afspeel, het God die kraan waarmee Hy die Heilige Gees uitstort wyd oopgedraai. Die Heilige Gees word nou op gelowiges van alle volke, tale en nasies uitgestort. Die Heilige Gees, wat die evangelie in ons hart werk, is nou nie meer net bestem vir God se verbondsvolk, Israel, nie maar vir alle volke!

Die Pinksterdag was ‘n groot gebeurtenis. Lukas beskryf in Handelinge 2 hoe die Heilige Gees op die mense neergedaal het, soos volg: “En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.” (Handelinge 2:2-3, AFR53). Die Heilige Gees het dus met ‘n rukwind en tonge van vuur op die gelowiges neergedaal. Die feit dat God ‘vuur’ gebruik om sy teenwoordigheid uit te beeld sien ons ook op verskeie plekke in die Ou Testament. In Exodus 3 word God se teenwoordigheid uitgebeeld deur ‘n brandende doringbos, toe God met Moses gepraat het. In Exodus 13 lees ons dat God self in die vorm van ‘n vuurkolom voor sy volk getrek het tydens die uittog uit Egipte.

Vervolgens beskryf Lukas die gebeure in Handelinge 2:4: “En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” Die gelowiges het vervuld geraak met die Heilge Gees en die gawe van die ‘spreek in tale’ ontvang.

Die gelowiges wat die Heilige Gees tydens Pinkster as gawe van God ontvang het, is nou ten volle toegerus om Christus se sendingsopdrag uit te voer. Hulle moet dissipels maak van alle nasies. Christus het in Handelinge 1:8 gesê: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” Die ‘spreek in tale’ was ‘n gawe van die Heilige Gees wat die gelowiges destyds gehelp het om die evangelie te bring na alle volke.

Dit is belangrik om te weet dat die tale wat die gelowiges tydens Pinkster gepraat het gewone verstaanbare tale was. Die omstanders van hierdie gebeurtenis, wat self uit verskillende lande was en verskillende tale gepraat het, kon hulle verstaan. Dit was nie onverstaanbare klanke nie. Die gawe van die ‘spreek in tale’ is dus nie om onverstaanbare klanke te maak, soos wat baie Pinksterbewegings vandag glo, nie. Dit is om bestaande tale te begin praat soos wat met die gelowiges tydens Pinkster gebeur het. 

Die gawe van die ‘spreek in tale’ vind ons nie net in Handelinge 2 nie. In Handelinge 10 lees ons dat bekeerde heidene, wat na Petrus se toespraak by die huis van Cornelius geluister het, die Heilige Gees ontvang het. Hulle het toe ook in tale begin praat. Ook in Handelinge 19 lees ons van ‘n groep dissipels van Johannes wat in Efese was, wat deur Paulus die hande opgelê is en toe die Heilige Gees ontvang het. Hulle het ook in tale begin praat.

Vandag sien ons nie meer hierdie verskynsel van die gawe van die ‘spreek in tale’ nie. Hoekom is dit so? Wel, die kerk in Handelinge was nog jonk en klein. Die evangelie moes vinnig na ander volke versprei word. Die gawe van die ‘spreek in tale’ was aan die eerste Christene geskenk, sodat hulle die vermoë gehad het om die evangelie te versprei na volke wat ander tale gepraat het. Die kerk kon dus as gevolg van hierdie gawe van die Gees vinnig groei. Die kerk het egter met verloop van tyd al hoe meer gevestig geraak sodat die gawe van die ‘spreek in tale’ nie meer so dringend nodig was nie. Alhoewel die sendingsopdrag vandag net so veel geld as 2000 jaar gelede, het ons vandag baie meer hulpbronne tot ons beskikking as die wat die eerste Christene gehad het. Ons het byvoorbeeld vandag die Bybel in sy volledige vorm - dit is iets wat die eerste Christene nie gehad het nie. Hulle het slegs die Ou Testament gehad en dele van die Nuwe Testament, maar dit was nog nie saamgestel nie.

Pinkster was ‘n eenmalige gebeurtenis, maar dit het ‘n blywende effek. Pinkster was die oomblik toe God die Heilige Gees op alle gelowiges van alle volke op aarde uitgestort het. Elke gelowige het die Heilige Gees van God ontvang. Ons, as Geesvervulde gelowiges, is toegerus om die evangelie uit te straal en uit te dra na ander toe. Elke nuwe gelowige sal die Heilige Gees ontvang. Ja, God stort sy Heilige Gees in oorvloed uit! 

Op Pinksterdag vier ons hierdie ongelooflike gebeurtenis wat op daardie dag plaasgevind het, en tot vandag toe ‘n blywende effek in die geskiedenis het. Op Pinksterdag herdenk ons nie net wat destyds in Jerusalem gebeur het nie, maar ook vier ons wat die Heilge Gees deur die eeue heen en ook vandag doen in alle lande van die wêreld! 

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp