Paasnaweek: Die ware betekenis van nuwe lewe in Christus

Paasfees is een van die mees betekenisvolle feeste in die Christelike geloof, waar die opstanding van Jesus Christus gevier word. Oor die eeue heen is hierdie fees egter verweef met sekulêre tradisies vanuit heidense feeste. Hoekom vier ons as Christene Paasfees?

Paasnaweek: Die ware betekenis van nuwe lewe in Christus
Photo by Bruno van der Kraan / Unsplash

Geskryf deur Hanneke Van Renssen, VGK Bellville

Paasfees is een van die mees betekenisvolle feeste in die Christelike geloof, waar die opstanding van Jesus Christus gevier word. Oor die eeue heen is hierdie fees egter verweef met sekulêre tradisies, soos die paashaas en paaseiers, wat hul oorsprong het vanuit heidense feeste. Tog bly die kern van Paasfees vir Christene die oorwinning van Christus oor die dood en die nuwe lewe wat Hy bring.

Waar kom die paashaas en paaseiers vandaan?

Die paashaas en paaseiers het geen Bybelse grondslag nie en word eerder geassosieer met die antieke heidense fees van Eostre. Sy was die godin van die lente (Noordelike Halfrond) en die mense het haar geëer vir die vrugbaarheid en nuwe lewe wat sy na die aarde gebring het. Een van haar simbole was die haas, wat vrugbaarheid simboliseer. In die fees wat aan haar gewy is, het mense ook eiers gebruik, wat ‘n simbool van nuwe lewe was. Hierdie fees is gevier wanneer die seisoene verander het en die wêreld weer tot lewe gekom het na die koue wintermaande. Met die verspreiding van die Christendom in Europa het sommige van hierdie gebruike hul weg gevind na sekere Paasvieringe, alhoewel dit nie die werklike betekenis van die fees weerspieël nie.

Waarom vier ons as Christene Paasfees?

Vir Christene gaan Paasfees oor soveel meer as kulturele tradisies – dit is ‘n viering van Christus se oorwinning oor die sonde en die dood. Deur sy kruisdood het Hy die prys vir ons sondes betaal, en deur sy opstanding bring Hy nuwe lewe vir elkeen wat glo. 

In een van Ds. PG Boon se preke beklemtoon hy dat Paasfees nie net 'n herdenking van 'n historiese gebeurtenis is nie, maar 'n lewende werklikheid vir elke gelowige is. Ds. Boon verduidelik dat Christus se opstanding die fondament van ons geloof is en dat ons deur Hom 'n nuwe lewe ontvang. Ons vier dus nie net 'n gebeurtenis vanuit die verlede nie, maar ons leef daagliks in die lig van sy oorwinning.

Die verskil tussen wêreldse en Christelike Paasvieringe

Die wêreldse vieringe van Paasfees fokus dikwels op gesinsaktiwiteite soos paaseiers soek, sjokoladehase eet en ander kommersiële gebruike. Hierdie gebruike mag onskuldig lyk, maar hulle bring nie die ware boodskap van Paasfees na vore nie. Dit is belangrik vir Christene om ons kinders te leer dat Paasfees nie oor mites gaan nie, maar oor Christus se oorwinning oor die dood en ons nuwe lewe in Hom.

In ʼn preek deur Ds. C Kleyn word dit duidelik gestel dat Paasfees ons moet lei tot 'n lewe van dankbaarheid en heiligmaking. Dit is nie net 'n eenmalige feesdag nie, maar 'n oproep om daagliks in die oorwinning van Christus te leef.

Die ware nuwe lewe in Christus

Paasfees herinner ons dat ons deur Christus se opstanding vergewe is en ‘n nuwe lewe ontvang het. Dit is ‘n oproep om in sy oorwinning te leef en in gehoorsaamheid aan God te wandel. Mag hierdie Paasfees ‘n tyd van dankbaarheid wees waarin ons fokus op die ware betekenis van Christus se opstanding!

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp