Ons as Bruid van Christus
“Die kerk is die bruid van Christus”. ‘n Bekende uitdrukking wat ons al meerdere kere gehoor het. Verstaan ons werklik wat dit inhou, beteken en hoe ‘n groot impak dit op ons lewenswyse en lewensuitkyk het?
Geskryf deur Saskia Moes, VGK Pretoria
“Die kerk is die bruid van Christus”. ‘n Bekende uitdrukking wat ons al meerdere kere gehoor het. Verstaan ons werklik wat dit inhou, beteken en hoe ‘n groot impak dit op ons lewenswyse en lewensuitkyk het?
In 2022 is meer as 20 196 egskeidings in Suid Afrika toegestaan. Huwelike eindig, familiebande word verbreek, kinders ervaar trauma en eensaamheid. Dit bring verwoesting, pyn en hartseer.
Maar ek is mos nie geskei nie? Nee, maar die werklikheid is dat ELKEEN van ons die ware liefde verwerp het. Ons het deur die sondeval ons rug op God gedraai. Ons is ontevrede (soos die Israeliete met die uittog uit Egipte), terwyl Hy na ons bly soek het en ons verlos het uit die slawehuis van die sonde. Ons het ons bruidegom, Jesus Christus, aan ‘n kruis vasgespyker. Die Een wat ons so liefgehad het dat Hy selfs sy eie lewe vir ons gegee het! Ons het op Hom gespoeg en Hom verag, maar Hy het ondanks dit alles opgevaar na die hemel om vir ons ‘n plek in sy huis voor te berei.
In Matthéüs 22:37 lees ons: “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” (AFR53)
Wat nou? Kan ek of jy beweer dat ons Hom werklik liefhet met alles wat ons is en het?
Nee, maar ons kan daarna streef. Jy kan Hom weer soek, en jy sál Hom vind. (Jakobus 4:8 "Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.")(AFR53). Hy sal met ope arms vir jou, verlore seun, wag (Lukas 15:11-32). Hy berei ‘n bruilofsfees voor, want Hy wíl saam met jou en my vir ewig leef. Hy wíl jou beskerm en jou onder Sy vlerke neem. (Psalm 91:4)
Hierdie gedagtes behoort egter ook skuldgevoel, sondebesef en berou te bring, asook ‘n wil om te verander.
Maar hoe doen ons dit?
Leef ‘n lewe van gebed
Maak gebed ‘n prioriteit. Begin en eindig jou dag met gebed. Wees eerlik en persoonlik in jou gesprek met God. Bid sonder ophou en leef bewustelik saam met God deur die loop van die dag (1 Thessalonicense 5:17)
Lees die Woord van God
Doen daaglikse Bybelstudie. Spandeer tyd om die Bybel te lees en te verstaan. Dink diep na oor wat jy lees en hoe dit op jou lewe van toepassing is (Psalm 1:2).
Leef in gehoorsaamheid aan God se wil
Wees ‘n doener van die Woord. Bring dit wat jy in die Bybel lees ook in die praktyk (Jakobus 1:22). Laat toe dat God jou hart daagliks deur die Heilige Gees lei en reinig (Psalm 139:23-24)
Nader tot God deur lof en aanbidding
Sing lofliedere en aanbid God opreg vir wie Hy is (Johannes 4:24). Wees bewustelik dankbaar vir God se seëninge en werk in jou lewe (1 Thessalonicense 5:18).
Dien God en ander mense
Wees nederig en gee van jou tyd en talente tot diens van ander. Jesus het gesê: "vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringste van hierdie broers van My, het julle dit aan My gedoen." (Matthéüs 25:40, AFR53)
Wees 'n lig. Leef só dat ander God deur jou lewe kan sien (Matthéüs 5:16).
Bou jou geloof
Vertrou op God, selfs in moeilike tye. Moet nie steun op jou eie insigte nie (Spreuke 3:5-6).
Omring jouself met gelowiges
Sluit aan by 'n kerk waar jy geestelik kan groei en bemoedig word (Hebreërs 10:24-25). Bespreek en deel die Bybel en geloofservaringe met ander.
Vermy wat jou verhouding met God kan vernietig/benadeel
Erken en bely jou sondes en vra God om jou te help om dit te oorkom (1 Johannes 1:9). Maak tyd vir God deur wêreldse afleidings te verminder.
Streef na Heiligheid en vervulling deur die Heilige Gees
Laat die Heilige Gees jou lei (Galasiërs 5:22-25). Stel jou lewe in diens van God se Koninkryk.
Volhard in jou pad met God
Wees geduldig. Groei in jou verhouding met God vat tyd. Moenie moed opgee nie. Volhard in jou geloof en hou aan om te soek en te streef na die wil van God, maak nie saak wat gebeur nie (Hebreërs 12:1-2).
Wanneer ons hierdie weg volg, sal ons ontdek dat ’n verhouding met God die kern van ons lewens behoort te wees. Hy het die huwelik ingestel as ’n simbool van sy verhouding met ons – ’n liefdevolle, intieme verbintenis. Soos Genesis 2:24 sê: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees wees.” (AFR53)
Ons mag dieselfde vreugde in ons verhouding met Christus ervaar. Openbaring 19:7-9 herinner ons: "Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak." (AFR53)
Jesus se liefde neem onsekerheid oor die toekoms, spyt oor die verlede en kommer oor die hede weg. Ons mag verseker weet dat Hy ons altyd sal liefhê, “dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenswoordige of toekomende dinge, of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39, AFR53)
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp