Ongemaklike tekste van Jesus: "Laat die dooies die dooies begrawe" (Lukas 9:60)
Sommige van Jesus se woorde kan skokkend of selfs onsensitief klink. ’n Voorbeeld hiervan is waar Jesus vir iemand sê: “Laat die dooies hul eie dooies begrawe. Maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.” Dit klink vreemd en hard. Hoekom sou Jesus nie toelaat dat iemand sy eie pa begrawe nie?
Geskryf deur Erik van Renssen, VGK Bellville
Sommige van Jesus se woorde kan skokkend of selfs onsensitief klink. ’n Voorbeeld hiervan is Lukas 9:60 waar Jesus vir iemand sê: “Laat die dooies hul eie dooies begrawe. Maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.” Dit klink vreemd en hard. Hoekom sou Jesus nie toelaat dat iemand sy eie pa begrawe nie?
Om hierdie woorde reg te verstaan, moet ons besef dat Jesus nie teen die begrawing van en respek vir familielede is nie. Die Skrif leer juis dat kinders hul ouers moet eer (Eksodus 20:12 en Efesiërs 6:2). Hier wys Jesus op iets baie belangrik. Dit is dat wanneer Hy jou roep, dit belangriker is om te gehoorsaam. Dit kom bo alles anders, selfs familiepligte.
Die man in Lukas 9 wou Jesus volg, maar sê toe dat hy eers sy pa wil gaan begrawe. Volgens die oorspronklike teks was die pa waarskynlik nog nie dood nie. Met ander woorde, hy wou wag totdat dit hom pas om Jesus te volg. Jesus antwoord dan dat mense wat geestelik dood is (mense sonder die lewe van Christus in hulle) besig kan wees met aardse sake. Die wat egter aan Hom behoort, is geroep tot ’n hoër taak: die verkondiging van God se koninkryk.
In die Heidelbergse Kategismus, Sondag 1, bely ons dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Jesus Christus. Dit beteken dat Hy die hoogste gesag oor ons lewe het. Wanneer Hy roep, mag niks belangriker wees nie – nie werk, famile, vriende of selfs tradisies soos begrafnisse nie.
Jesus se woorde is nie koud of liefdeloos nie, maar dringend en reguit. Hy roep nie net tot 'n godsdienstige byvoeging tot ons lewens nie, maar tot 'n volledige verandering, tot ware dissipelskap. In Sondag 48 bid ons dat God se koninkryk sal kom. Ons bid dat ons onsself en alles anders ook aan Hom onderwerp.
Ja, hierdie teks is ongemaklik, want dit wys vir ons hoe maklik ons verskonings maak om nie vandag gehoorsaam te wees nie. Ons stel so maklik en so baie keer uit. Dit is juis in hierdie ongemak waar die Gees ons hart toets. Hier sien Hy of ons regtig vir Jesus volg of dit net doen wanneer dit gemaklik is.
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp