Nuwe jaar - Leef doelgerig, dag vir dag!
Die nuwe jaar is ’n spesiale tyd vir nadenke en nuwe vooruitsigte. Hoe het die afgelope jaar jou geloofslewe en planne gevorm? Spreuke 16:3 sê: “Laat jou werke aan die Here oor...” Hierdie oomblik van refleksie kan inspireer tot ’n lewe van hoop, vertroue en doelgerigtheid.
Geskryf deur Corbin de Jager, VGK Bellville
Waaraan dink jy as ons praat van nuwe jaar? ‘n Nuwe kalenderjaar wat begin in Januarie? Dalk ‘n nuwe jaar met die viering van jou verjaarsdag? Dalk is dit vir jou so ‘n “awesome” jaar dat jy hoop dat dit net net so kan aangaan. Is jy dalk bly dat die jaar wat agter is, verby is? Dat soos met die nuwe jaar, jy op ‘n skoon en nuwe bladsy wil begin.
Wat was die datum van die nuwe jaar in die bybelse tyd? Met al die vrae en antwoorde, bly dit ‘n jaar met 365 dae. ‘n Lang tyd! Klomp dinge kan gebeur in ‘n jaar! Die begin van 'n nuwe jaar is 'n unieke geleentheid wat oor die wêreld heen gevier word. Dit is 'n tyd van refleksie, hoop en nuwe voornemens.
Hier is so paar vrae waaroor jy kan nadink as deel van refleksie. As jy terugdink oor die afgelope jaar, waaraan dink jy eerste? Die mooi en positiewe dinge, of die slegte en negatiewe dinge?
Het jy dalk ‘n kêrel of meisie? Gaan dit goed by die skool en presteer jy? Het jy dalk liefde teleurstelling? Sukkel jy dalk akademies? Voel dit of jy nie iewers inpas nie en dalk nie vriende het nie? Hoe voel jy in jou hart as jy dink aan jou geloofslewe? Kan jy met oorgawe bely dat die Here jou lief het en jy Hom lief het? Is jy bly om kerk toe te kan gaan? Is jy getrou met jou Bybel lees en stilte tyd hou? Voel jy dat jy groei in jou verhouding met die Here?Wat is nog nuus en wat is belangrik? Is jy darm ge”update” met almal se status en “posts” op die “gram”? As ek ongelukkig is oor dinge in my lewe of as ek wonder oor goed, met wie kan ek dit deel? Ek hoop jy het antwoorde op die eerste vrae, want dit is amper weer einde van die jaar. Dis amper vakansie!
Tyd vir refleksie. Om die ou jaar af te sluit bied 'n geleentheid om terug te kyk op die ervarings, prestasies en uitdagings van die afgelope jaar. Mense neem dikwels tyd om oor hul lewens na te dink, en dit kan selfs lei tot geestelike groei en verandering. Een van die mees algemene tradisies van Nuwejaar is die maak van voornemens.
Mense stel doelwitte vir hulself, soos om gesonder te leef, meer tyd met familie deur te bring of nuwe vaardighede aan te leer. Hierdie voornemens kan 'n groot motivering bied om positief die jaar te begin.
Die vraag is egter, word voornemens vir die regte doel gedoen en hoe lank word dit vol gehou? Wat sê die Bybel hieroor en hoe ervaar jy dit?
“Die planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die Here. Al die weë van ‘n man is suiwer in sy oë, maar die Here toets die geeste. Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word.”
- Spreuke 16:1-3
Lees ook gerus die boek Spreuke. Soveel wyshede word ons voorgehou. Ook Spreuke 3: 1-6. Soek gerus nog tekste wat praat oor die mens wat planne het, maar die Here wat alles bepaal.
As ons kyk wat in die wêreld om ons gebeur, in ons land, in ons omgewing; by die skool; dan sien ons baie keer dat die meeste nuus oor slegte dinge gaan. Daar is oorloë, geweld, misdaad, siekte, wêreld gelykvormigheid, eie gemak, groepsdruk. Op sosiale media word net goeie dinge gewys. Hoekom?
Die gevaar in ons lewens is dat die mense regte so hoog gestel word, dat jy kan besluit wat reg is vir jou. Wat jy wil wees. Wie bepaal wat waarheid is? Wat reg en goed is? Wat is waarheid?
Wees waaksaam en weet dat tyd kosbaar is. Koop die tyd uit! Beplan en leef doelgerig. Bid oor jou planne. Bid dat die Here jou planne sal seen en dat dit onder leiding van die Here gebeur.
“Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” Kyk ook na Psalm 90: 12, “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!”
- Jesaja 40:31
Bid ook dat die Here ons mag leer om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom! Soek die Here en vra wat Sy wil is, as jy besluite moet maak. Leef in afhanklikheid van jou Koning. Vertrou die Here vir die nuwe jaar. Leef elke dag vir die Here en ervaar Sy seën vir jou!
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp