Name van Jesus: Messias en Christus

Jesus het baie name, waarvan twee van hulle Christus en Messias is. Hierdie name word op verskillende plekke in die Bybel gebruik - in die Ou Testament en Nuwe Testament. Het hierdie name dan verskillende betekenisse?

Name van Jesus: Messias en Christus
Photo by Thanti Riess / Unsplash

Geskryf deur Margo Drijfhout, VGK Pretoria

Jesus het baie name, waarvan twee van hulle Christus en Messias is. Hierdie name word op verskillende plekke in die Bybel gebruik - in die Ou Testament en Nuwe Testament. Het hierdie name dan verskillende betekenisse? Nee, albei beteken ‘Gesalfde’, maar in verskillende tale - Christus is Grieks vir ‘gesalfde’ en Messias is Hebreeus vir ‘gesalfde’. Jesus word al in die eerste evangelies Christus of die Messias genoem en nie net altyd Jesus nie.

Waarom word Hy egter die ‘Gesalfde’ genoem? En wat beteken dit om gesalf te word?

Salwing kom van die herders wat hulle skape gesalf het om luise en kewers van die wol af te hou om sodoende te keer dat dit in die skaap se ore kom en dit laat vrek. Salwing het op hierdie manier 'n simbool geword van seën, beskerming en bemagtiging. In die Bybel is die salwing ‘n teken van God se seën oor die mens. Byvoorbeeld, om tot 'n koning, priester, profeet of godsdienstige diens gesalf te word. Jesus is die vervulling van Jesaja se profesie, waar hy profeteer dat die Here ‘n gesalfde gaan stuur om aan die volk in ballingskap ‘n blye boodskap te bring, en hulle te verlos uit die ballingskap. Die vervulling van die profesie verwys natuurlik nie net na die ballingskap in Babel nie, maar ook na die verlossing van ons sondes en sondige natuur. 

Jesaja 61:1 (AFR53) sê: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis.” 

Jesus sê  vir ons dat Hy die gesalfde Kneg is wat die blye Boodskap bring. Hier word vertel van ‘n nuwe blye tyding. Hierdie blye tyding word vergelyk of voorgestel deur ‘n jubeljaar. ‘n Jaar van bevryding, waar jy jou besittings en vryheid terugkry omdat jy dit moes verkoop as gevolg van armoede of skuld. Net so word ons van ons sondeskuld vrygekoop deur Jesus toe Hy aan die kruis gesterf het en ons sondes op Hom geneem het.

Jesus het die Christus en Messias geword toe Hy gesalf is met die Heilige Gees tydens sy doop in die Jordaan deur Johannes die Doper. Hy het die amp van Hoëpriester, Koning en Profeet op Hom geneem en met sy verlossingswerk begin. Jesus Christus is besig om vir ons die hemel voor te berei en om ons te bring na die finale oorwinning: die ewige jubeljaar.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp