‘n Voorbeeld te wees in ons jonkheid
Wat is die jeugmentaliteit in vandag se wêreld. "Ek kan dronk word, ek kan alles self doen, ek het nie my ouers nodig nie." Dan word jy dalk deur die polisie gevang. Vir baie jongmense lyk die lewe soos een groot partytjie. Geniet jou jonkheid soveel as wat jy kan.
Lees 1 Timoteus 4:12 en Lukas 2:41-52
Wat is die jeugmentaliteit in vandag se wêreld. "Ek kan dronk word, ek kan alles self doen, ek het nie my ouers nodig nie." Dan word jy dalk deur die polisie gevang. Vir baie jongmense lyk die lewe soos een groot partytjie. Geniet jou jonkheid soveel as wat jy kan.
Geliefde jong broer en suster, Paulus vermaan ons in ons fokusteks:
“Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid” (1 Timotheüs 4:12)
Om jonk te wees gaan nie net daaroor om die lewe soveel as moontlik te geniet omdat jy eendag gaan sterf nie. Ons moet die Woord van die Here verkondig, sy werk doen, ‘n goeie karakter openbaar en in geloof wandel. Jeug is nie 'n beperking nie.
Prediker 12:1 sê: “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie.”
Salomo herinner ons daaraan dat ons God in ons jong dae moet prioritiseer. Hy moet eerste kom bo alles. Die eerste ding wat baie van ons doen wanneer ons wakker word, is om op Instagram deur stories en reels te blaai. Voor jy jou kom kry, het jy al 'n halfuur op jou foon spandeer. Daardie halfuur kon gebruik word om die Woord van God te bestudeer en die dag met gebed te begin.
Wanneer ons elke dag met die Here begin, word ons verhouding met Hom versterk. Die God wat ons geskape het, verdien ons mees aktiewe en gesonde jare. Ons liggame is sterk, ons gedagtes is skerp, ons sintuie is ontvanklik, ons entoesiasme is groot en ons wilskrag is sterk. Daarom moet ons Hom onthou in ons energieke jare.
Verder lees ons in Lukas 2:41–52 van Jesus Christus in die tempel in Jerusalem. Hy het tussen die leermeesters gesit, na hulle geluister en vrae gevra. Almal was verbaas oor sy begrip en sy antwoorde. Hierdie gebeurtenis dui op sy geestelike volwassenheid en sy begrip van God se wet.
In vers 49 lees ons: “Waarom het julle na My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?”
Christus was slegs twaalf jaar oud, maar Hy het reeds geweet wat sy doel op aarde was. Hy was die Lig van die wêreld (Johannes 8:12). Net so moet ons ook die lig van Christus laat skyn gedurende ons jonkheid.
“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik”(Mattheüs 5:16)
Wat beteken dit vir die jeug om in reinheid te wandel? Hoe kan hulle hul pad suiwer hou?
“Deur dit te hou na u woord”(Psalm 119:9)
Om volgens God se Woord te leef, beklemtoon hoe belangrik die Skrif is om jongmense te lei tot integriteit en 'n godvresende lewe.
Jongmense kan op baie maniere in hulle bediening groei. God het hulle met verskillende talente en gawes geseën wat gebruik kan word in die werk van die kerk. Daar is baie praktiese maniere waarop jongmense kan dien, soos om te sing, 'n instrument te speel, huisbesoek te doen en vele ander take te verrig. Alles wat hulle doen, moet gerig wees op Jesus Christus, die Hoof van die kerk.
Verder seën God jongmense deur hulle ouers, veral ouers wat die Here dien. Dit is belangrik, want baie jongmense leer die Here ken deur die voorbeeld van hulle ouers. Dit is nie altyd maklik vir ouers nie, aangesien daar tye is wanneer kinders nie luister nie. Jongmense moet hulle ouers respekteer en eer in alle opsigte (Eksodus 20:12). Veral tieners moet nie dink dat hulle beter weet as hulle ouers nie. Hierdie geld vir alle jongmense. Julle moet nog steeds God eer en respekteer selfs as hulle nie Christene is nie.
Daarom moet die jeug in hierdie aspek soos Jesus wees. Ons volmaakte God het sy onvolmaakte aardse ouers heelhartig en ten volle gehoorsaam.
Die werk van die Here begin reeds vroeg in 'n jongmens se lewe. Daarom moet jongmense bereid wees om 'n voorbeeld te wees vir ander kinders en jongmense. Soos ons in 1 Timotheüs lees, moet jongmense 'n voorbeeld wees vir die gelowiges. Die jeugbediening wat binne en buite die kerk plaasvind, wys hoe jongmense in liefde, gees, geloof en reinheid wandel.
Liewe jong broer en suster, onthou om eerstens aan jou Skepper te dink in die dae van jou jonkheid. Maak tyd vir die Here. Werk, sport en ontspanning kan wag. Begin elke dag in sy teenwoordigheid sodat jou verhouding met Hom kan groei.
Tweedens, moenie wag totdat jy ouer is om die Woord van God te verkondig nie. Begin nou. Met die krag, energie en kennis wat God aan die jeug gee, kan sy werk gedoen word.
Laastens het God elkeen van ons met talente en gawes geseën sodat ons die werk van die kerk kan bevorder tot eer van Jesus Christus, die Hoof van die kerk. Van kleins af leer baie van ons die Woord van God deur ons ouers en deur die kerk.
Soos Jesus Christus reeds op twaalfjarige ouderdom sy Vader se werk gedoen het, moet die jeug ook die lig van Christus uitstraal na ander jongmense wat Hom nog nie ken nie — by die skool, in die gimnasium, by die werk en oral waar hulle gaan.
Gebed
Onse Vader wat in die hemel is, ons dank U vir alles wat U elke dag vir ons doen. Ons dank U vir ons ouers deur wie ons meer van U kan leer. Help ons, Here, om hulle te respekteer en te eer.
Ons vra dat U ons sal help om u Woord te verkondig gedurende ons jeugjare, om meer tyd saam met U deur te bring en om altyd bewus te wees van u grootheid, genade en liefde.
Help ons om te onthou dat die werk van Jesus Christus voortgesit moet word. Dit alles bid ons in Christus se Naam.
Amen.
Coram Deo
- Streef na wysheid en begrip (Spreuke 1:7; Spreuke 4:7).
- Handhaaf suiwerheid en integriteit (Psalm 119:9).
- Vertrou op God se plan en leiding (Jeremia 29:11).
- Stel 'n positiewe voorbeeld deur jou taal, dade en geloof.
Lees Verder
- https://learn.ligonier.org/articles/4-reasons-remember-your-creator-your-youth
- https://learn.ligonier.org/articles/youth-driven-culture
- Titus 1 en 2
- Kolossense 3
Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Maranata