‘n Lewenslange Roeping - Bewoon, Bewerk, Bewaar
In ‘n wêreld wat vinnig beweeg, waar jongmense dikwels gefokus is op prestasie en vooruitgang, is dit waardevol om terug te kyk — nie net na die geskiedenis nie, maar na die mense wat daardie geskiedenis beleef het.
Geskryf deur Jorienke van der Linden, VGK Bellville
In ‘n wêreld wat vinnig beweeg, waar jongmense dikwels gefokus is op prestasie en vooruitgang, is dit waardevol om terug te kyk — nie net na die geskiedenis nie, maar na die mense wat daardie geskiedenis beleef het. Die Bybel gee vir ons ‘n duidelike roeping: bewoon, bewerk en bewaar. Hierdie drie woorde word in die Gereformeerde wêreld as die opsomming van die Here se eerste opdrag in Genesis 1:28 gesien.
Hierdie opdrag geld nie net vir een lewensfase nie. Inteendeel, ek sien dit daagliks in die manier waarop ouer mense hierdie woorde uitleef — stil, getrou en met wysheid. Laat ons ‘n slag met nuwe perspektief na hierdie bekende en eerste opdrag van die Here kyk. (Terloops, hierdie opdrag begin met die woorde “God het hulle geseën”... sien ons dit ooit raak wanneer ons na hierdie opdrag verwys? Dat God ons as’t ware seën in en met die eerste opdrag?)
Bewoon: Aanwesig wees met betekenis
“God het die mens geskape… en vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde…”
- Genesis 1:28, AFR53
Om te bewoon verwys nie noodwendig net na ‘n fisiese plek nie. Dit beteken ook om met teenwoordigheid en waardering te leef. Wanneer ek na die ouer mense in die gemeente kyk — oumas, oupas en mentors — sien ek hoe hulle die aarde op ‘n ander manier bewoon. Nie deur haastigheid nie, maar deur diep betrokkenheid. Hulle leef met ‘n rustigheid en wysheid wat vir jongmense ‘n voorbeeld is: om teenwoordig te wees, om sinvol te leef en om elke dag te sien as ‘n gawe van God.
Bewerk: ‘n Lewenslange hand aan die ploeg
“Die Here God het die mens in die tuin geplaas om dit te bewerk en te bewaak.”
- Genesis 2:15, AFR53
Die idee van bewerking is vir baie jongmense gekoppel aan werk, drome en doelwitte. Wat dan van die ouer generasie? Mense wat nie meer kan werk nie, of wat klaar hulle persoonlike doelwitte bereik het? Dan besef ek dat die opdrag oor bewerking soveel groter is as net ‘n loopbaan - dit verwys ook na die kinders wat grootgemaak is, na die "aktiwiteit" van lewe. Die bewerking van harte, verhoudings, gemeenskappe en geloofsgemeenskappe is iets wat baie ouer mense op ‘n stille en effektiewe manier doen. Hulle wys vir ons dat werk nie net in aksie lê nie, maar ook in invloed. Op hierdie manier bewerk hulle steeds die wêreld—deur gebed, raad, voorbeeld en getrouheid.
Bewaar: Die kuns van versorging en verantwoordelikheid
“…om dit te bewaar.”
- Genesis 2:15, AFR53
Bewaring is dalk een van die kosbaarste lesse wat ons van ouer mense leer. Hulle verstaan hoe om dinge te beskerm—waardes, tradisies, geloof, familie-eenheid, selfs die natuur. In ‘n tyd waar alles vinnig vervang of vergeet word, leer hulle ons die waarde van volharding en versorging. Ouer mense is dikwels die stil wagters van herinnering en betekenis. Hulle dra ‘n nalatenskap wat nie net beskerm nie, maar ook gedeel word. En ek besef: ek is wie ek is, ek is deel van iets, omdat iemand anders iets bewaar het.
Gevolgtrekking: ‘n Roeping vir elke seisoen
As jongmens leer ek uit die Bybel én uit die voorbeeld van die ouer generasie dat God se roeping nie by ‘n sekere ouderdom ophou nie. Die opdrag om te bewoon, bewerk en bewaar geld vir elkeen van ons—van kindsbeen tot grys hare. Die ouer mense in my lewe wys my wat dit beteken om getrou te bly, om betekenisvol te leef, en om met die regte perspektief te bou aan God se koninkryk. En dan sien ek ook die seën van die Here in die ouer generasie se lewe in hierdie drie woorde: om te bewoon, bewerk en te bewaar. En ek weet seker dat ook ons jong generasie deur die Here geseën sal word om hierdie mooi opdrag te kan nakom. En ja, ons is jonk, ons moet nog leer, ons maak foute! Maar God wat Adam en Eva in die paradys geseën het met hierdie opdrag, beloof ook in sy Woord dat Hy sal gee wat nodig is om sy opdragte na te kom: “Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” (1 Thessalonicense 5:24, AFR53) asook: “God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.” (1 Korinthiërs 1:9, AFR53)
Ek dank die Here vir die generasie na wie ons vandag mag opkyk — wat vir ons wys hoe om te leef, te werk en te sorg. Hulle is nie agter in die storie nie; hulle lê die fondament waarop ek bou.
“Hulle sal nog vrugte dra in die grys ouderdom, hulle sal fris en groen wees, om te verkondig dat die Here reg is."
- Psalm 92:15-16 (AFR53)
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp