‘n Familie in Christus
Terwyl Hy besig is, word aan Hom gesê van sy ma en broers wat aan die rand van die skare staan en vir Hom soek. Jesus antwoord hierop op ‘n ongewone manier wat ons begrip van familie heeltemal verander: Hy vra aan hulle wie Sy moeder en broers is. Daarna antwoord hy self en sê: almal wat by Hom was.
“’n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.”
Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?”
Hy het die mense aangekyk wat in 'n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers!
Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”
- Markus 3: 32-35
In die Markus-evangelie lees ons van Jesus Christus wat besig is om ‘n skare mense te onderrig. Terwyl Hy besig is, word aan Hom gesê van sy ma en broers wat aan die rand van die skare staan en vir Hom soek. Jesus antwoord hierop op ‘n ongewone manier wat ons begrip van familie heeltemal verander: Hy vra aan hulle wie Sy moeder en broers is. Daarna antwoord hy self en sê: almal wat by Hom was.
Almal wat in Hom glo en die wil van God doen.
Hierdie antwoord laat nie net die volk nie, maar ook ons, dink aan wie ons familie is. Ons dink aan familie as ons bloedverwante. Ons ouers en boeties en sussies. Jesus verruim ons begrip van familie en wys ons daarop dat ons deel vorm van ‘n veel groter familie. Een waarvan Jesus Christus self die hoeksteen is en God ons Vader.
Hierdie besef herinner ons ook aan die verhouding wat ons elkeen het met ons mede- gelowiges. Ons is almal met mekaar verbind deur meer as net vriendskapsbande. Dit maak nie saak waar jy vandaan kom, hoe jou verlede lyk of wie jy is nie – as jy in God glo en Sy wil doen dan vorm jy deel van hierdie familie.
Jesus se woorde bring hoop en vrede. Niemand wat glo staan alleen nie. Jy vorm deel van die familie van God waarvan Jesus die hoeksteen is. Ons het almal ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar: om mekaar se laste te dra, mekaar te ondersteun in lewe en geloof asook mekaar lief te hê soos kinders in ‘n gesin. Ons moet elkeen respekteer en vergewe soos God ons vergewe. Hierdie liefde wys vir die wêreld iets van God se hart.
Jesus se woorde bring nie net hoop en vrede nie, maar is ook ‘n herinner aan elkeen van ons dat ons gehoorsaamheid aan God sentraal staan. Ons vorm nie sommer net deel van die familie nie - Jesus sê dat die wat die wil van God doen, deel vorm van die familie. Maar nou is die vraag: leef ons op so ‘n wyse dat die wêreld kan sien dat ons deel vorm van God se familie? Weerspieël ons dade en ons woorde dat ons kinders van God is - dat Hy ons uitgekies het?
Almal weet dat die gesin ‘n afbeelding is van die kerk en Christus, maar partykeer vergeet ons die praktiese implikasie daarvan. Moet nooit vergeet dat ons saam as gelowiges die familie van God is nie en om dit uit te leef nie. Dit is ‘n groot vreugde en seën!
Geskryf deur Anneke Roos, VGK Bellville