Moet ons volmaak wees?

In Matthéüs 5:48 beveel Jesus Christus ons om volmaak te wees, net soos ons Vader in die hemel volmaak is. Nou kom die vraag: kan ons volmaak wees? Ons is sondig - waarom sal Jesus dit ons beveel?

Moet ons volmaak wees?
Photo by Marek Piwnicki / Unsplash

Geskryf deur Annemarie Antuma, VGK Bellville

In Matthéüs 5:48 beveel Jesus Christus ons om volmaak te wees, net soos ons Vader in die hemel volmaak is. Nou kom die vraag: kan ons volmaak wees? Ons is sondig - waarom sal Jesus dit ons beveel?

Om die vers te verstaan, is dit belangrik om na die konteks te kyk waarin Jesus dit ons beveel. Die voorafgaande verse handel oor hoe ons ons vyande moet liefhê en goed moet doen aan die mense wat ons haat. Jesus gebruik die voorbeeld van ons Vader in die hemel wat sy goedheid uitstraal aan die gelowiges en ongelowiges in terme van sonskyn en reën wat Hy aan beide skenk. Jesus verduidelik verder dat, as ons net díé liefhet wat ons liefhet en ons ons vyande haat, is ons niks beter as die heidene en tollenaars nie (dink in vandag se tyd aan mense soos bendeleiers, ens.). Dit is dus hier waar Jesus vir ons sê dat ons na God die Vader moet kyk in hoe Hy handel en ook sό moet doen. 

Ons moet volmaak wees deur goedheid te bewys aan almal rondom ons. Nie net teenoor ons medegelowiges of ons vriende nie. Dit kan deur eenvoudige dinge gedoen word, soos om ander te groet en vriendelikheid te bewys aan almal wat ons teëkom - al is nie almal noodwendig christene nie. Net soos God son en reën gee aan goeie en slegte mense, moet ons ook ons gawes, soos geld, gebruik vir goeie doele en nie noodwendig net vir ons eie gemeenskap nie. Selfs vir dié wat ons haat moet ons altyd die geleentheid aangryp om liefde te bewys, al is dit hoe moeilik.

Vers 48 verwys dus nie na volmaaktheid in terme van dat ons sondeloos moet wees nie. Ons weet almal dat dit op hierdie aarde onmoontlik is. Daar staan immers in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 3, dat ons is in sonde ontvang en gebore is en self ons beste werke met sonde besmet is. Ons lees ook verder in Matthéüs 6:12 dat Jesus Christus ons leer om God te vra om ons skuldes (ons sondes) te vergewe. Dit wys dus duidelik dat Hy weet dat ons met sonde bevlek is, en daarom sal ons nie volkome volmaak kan wees totdat Hy terugkom nie. Daarom beveel Hy ons om daagliks om vergewing te vra vir ons verkeerde dade.

Ons weet dus nou dat ons hierdie volmaaktheid nie self op aarde kan bereik nie. Beteken dit dan dat ons net moet ophou probeer? Dat ons kan sê: “Jesus Christus het tog vir al my sondes betaal en Hy het die volmaakte lewe gelei sodat ek nie hoef nie”? Nee, definitief nie. Dit is soortgelyk aan dit wat Paulus aan die Romeine skryf wanneer hy sê dat, waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword. Die vers beteken ook nie dat ons nou meer kan sondig, sodat die genade meer word nie. Ons het ons sondes afgesterf saam met Christus in sy dood sodat ons nou in ‘n nuwe lewe kan wandel saam met Hom. Daarom wil ons ook nie langer in die sonde bly nie en moet ons God daarvoor om vergewing vra.

Dit is waar dat dit onmoontlik is vir ons as mens om volmaak te wees. Ons het dus ‘n Middelaar nodig - iemand wat volmaak is. En so ‘n middelaar het God aan ons gegee. Jesus Christus het aarde toe gekom en Hy het in volkome volmaaktheid geleef. Hy was tot die dood toe gehoorsaam aan God. Hy is ons geregtigheid, en deur Hom word die onmoontlike moontlik. Ons moet op ons knieë gaan en God smeek om in ons te bly werk deur sy Gees en in genade. Ons moet in ons daaglikse lewe meer en meer soos Hy lyk, en daardeur ook aan ander wys wie ons Vader is en wie Jesus Christus is. Ons moet ons lewe aan God toewy soos Christus dit ook gedoen het. 

Voordat Jesus se lewe, dood en opstanding nie ons s’n is nie, kan ons nie ons vyande liefhê nie. Ons moet ons sondes en gebrokenheid besef, en keer op keer vergifnis vra op grond van sy werk aan die kruis. Eers dán sal dit vir ons moontlik wees om deur Hom, die volmaaktheid na te streef.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp