Moet nie net rympies opsê nie

Van tyd tot tyd kom elke persoon in gesprek met ander persone. Party dae kom ‘n mens meer mense teë as ander dae. Baie van hierdie gesprekke laat nie ‘n groot indruk op jou nie en jy vergeet dalk daarvan ná ‘n paar minute. Kan party gesprekke dan as belangriker as ander beskou word?

Moet nie net rympies opsê nie
Photo by chris liu / Unsplash
“Bid sonder ophou.” (1 Thessalonicense 5:17)

Van tyd tot tyd kom elke persoon in gesprek met ander persone. Party dae kom ‘n mens meer mense teë as ander dae en party mense is ook meer geneig om met ander ‘n gesprek te begin. Baie van hierdie gesprekke laat nie ‘n groot indruk op jou nie en jy vergeet dalk daarvan ná ‘n paar minute. Ander gesprekke word weer as belangrik beskou. Kan party gesprekke dan as belangriker as ander beskou word? Ja, jou gebed tot God is die belangrikste gesprek van jou dag.

Hoekom moet ek bid?

Deur gebed versterk jy jou verhouding met God. Gebed is ‘n toevoerlyn tussen jou en God.  Mense dink dat God tog alles weet en daarom voel die gebed vir hulle onnodig, maar dit is juis ‘n voorreg wat ons van Hom ontvang het. Dit moet nie gesien word as iets wat ons móét doen nie, maar as iets wat jy mag en kan doen. Dit is ‘n manier waarop ons met God kan praat en vir Hom vertel wat in ons harte en lewens aangaan. Ons moet nie net bid wanneer ons iets nodig het nie, maar kan eenvoudig voor etes of by enige geleentheid met Hom praat. Só kom ons in diepe verbintenis met God.

In Vraag en Antwoord 116 van die Heidelbergse Kategismus staan dat gebed die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis. Dit is dus noodsaaklik vir ‘n Christen om te bid. 

terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Efesiërs 6:18). 

Die gebed vorm deel van die wapenrusting van God en is daarom ‘n manier om teen die aanslae van die duiwel te veg. Sorg dat gebed jou  first line of defense is in plaas daarvan om dit as ‘n laaste uitweg te gebruik wanneer alles anders nie gewerk het nie. God beveel ons in Filippense 4:6-7 dat ons nie bekommer of angstig moet raak nie, maar om in alles, met gebed en smeking, en met danksegging, ons versoeke aan Hom bekend te maak.

Hoe moet ek bid?

Daar is baie mense wat met gebed worstel. Jy sukkel dalk om voor ander mense te bid of is bang dat die regte woorde nie betyds in jou kop gaan kom nie. Moedeloos dink jy dalk:  Ek weet nie hoe nie…

En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.” (Romeine 8:26)

Die Heilige Gees tree vir ons in omdat ons swak en afhanklik van Hom is. As ons die Heilige Gees vra om ons te help bid, dan sal Hy ons leer om ooreenkomstig die wil van God te bid. 

Vraag en Antwoord 117 van die Heidelbergse Kategismus verduidelik hoe ‘n gebed moet wees wat God behaag en deur Hom verhoor word. Ten eerste moet ons net tot die enige ware God, en nie deur ander middele of beeldjies nie, bid. Ten tweede moet ons ons nood en ellende reg ken. Sondag 45 vorm deel van die derde deel van die Heidelbergse Kategismus - die deel wat handel oor die dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is. Sonder om eers ons sondes en ellendes te ken en hartlik berou daarvoor te hê, kan ons nie verstaan hoe ‘n groot geskenk Christus se kruisiging is en dankbaar daarvoor wees nie. Ten derde moet ons vas glo dat ons gebede ter wille van Christus sekerlik verhoor sal word, soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het.

Ons kan gerus wees omdat die Heilige Gees ons altyd in ons gebed sal korrigeer en help. Dit is omdat Hy wil hê dat ons volgens God se wil moet bid. Die Heilige Gees tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. 

Die Onse Vader

EN toe Hy op 'n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het.

En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê:” (Lukas 11: 1) Nie as julle bid nie, maar wanneer julle bid.

Die dissipels het erken dat hulle nie weet hoe om te bid nie, en daarom vir Jesus gevra om hulle te leer. Ons lees in Lukas 11:2-4 en in Matthéüs 6:9-13 van die gebed wat Christus vir die dissipels geleer het. Die gebed dien as ‘n model wat riglyne bied waarop ons moet fokus in ons eie gebede. Dit bestaan uit ses bede. 

Begin jou gebed deur op God te fokus en Hom te loof en prys en te dank vir alles wat Hy doen. Bid vir die uitbreiding van die koninkryk van God - dat die kerk mag groei en bewaar word. Bid vir dinge wat jy nodig het - omdat God die bron is van alles wat goed is. Tree ook in vir ander mense en bid vir hulle behoeftes. Erken dat jy weer gesondig het en aanvaar die vergifnis deur Christus. Bid ook dat Hy jou sal help en bewaar teen die werke van die duiwel. Eindig jou gebed deur weer op God te fokus.

Ons kan ‘n troos vind in die wete dat wanneer ons bid, ons woorde nie vir ander bedoel is nie. Ons hoef nie groot woorde te gebruik of intellektueel te klink nie. Wat ons sê, is vir God se ore bedoel. Hoe bid ek dag en nag? Met nederigheid, volgens sy Woord en met ‘n opregte hart en begeerte om sy wil te doen.

Geskryf deur Iwan Sterk, VGK Pretoria