Meer as net ‘n werk – Bewoon, Bewerk, Bewaar

Die oorgang van studentejare of afhanklikheid van ons ouerhuis na ’n selfstandige, werkende volwassene is ’n uitdagende fase van ons lewe. Skielik kry ons nuwe verantwoordelikhede soos finansiële onafhanklikheid, werksprestasie en om saam te werk met mense in magsposisies.

Meer as net ‘n werk – Bewoon, Bewerk, Bewaar
Photo by Hunters Race / Unsplash

Geskryf deur Lourens Strydom, VGK Pretoria

Die oorgang van studentejare of afhanklikheid van ons ouerhuis na ’n selfstandige, werkende volwassene is ’n uitdagende fase van ons lewe. Skielik kry ons nuwe verantwoordelikhede soos finansiële onafhanklikheid, werksprestasie en om saam te werk met mense in magsposisies. Hierdie lewensfase bied egter ook ’n unieke geleentheid om die Here se skeppingsopdrag uit te leef op ’n manier wat Hom eer.

Genesis 1 en 2 herinner ons daaraan dat ons nie sommer toevallig op aarde is nie. Ons is doelbewus geskep. In Genesis 1:26 (AFR53) spreek God soos volg: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis…” Hierdie kort, maar kragtige boodskap plaas ons hele bestaan in perspektief. Ons is geskep om God se beelddraers te wees. Om dit reg te verstaan, moet ons eers weet wie God is en hoe Hy wil hê ons moet leef. Herinner jouself gereeld daaraan dat ons nie die mag oor ons eie lewens in ons eie hande mag neem soos die wêreld dit aanmoedig nie - ons leef slegs vir Hom.

Die skeppingsopdrag: Bewoon, bewerk en bewaar

Vanaf die begin het God vir die mens ’n plek gegee om te woon: die tuin van Eden. Ons het ook ‘n taak gekry om te verrig. In die eerste plek hoor ons in die skeppingsopdrag dat ons ’n opdrag het om te bewoon. Dit beteken nie net fisies om êrens te bly nie, maar om ons plek verantwoordelik te vul. Ons moet die ruimte wat God vir ons gee waardeer en goed bestuur. Die wêreld sê dikwels dat jou woonplek bloot ’n plek van voorkeur en gemak is. Uit die Woord leer ons egter dat dit deel van ons roeping is.

Tweedens is ons opgeroep om te bewerk, produktief te wees, waarde toe te voeg en te bou. Adam se eerste werk was om die diere name te gee (Genesis 2:19-20). Uit hierdie teksverse sien ons dat werk nog voor die sondeval deel van God se plan was. Dit is dus nie ’n straf nie, maar ’n seën.

Laastens het God ons geroep om te bewaar, te versorg, te beskerm en te onderhou wat Hy aan ons toevertrou het. Hierdie drie opdragte is ook vandag nog van toepassing op ons beroepslewe.

Werk in die lig van God se beeld

Die groot vraag is: hoe leef ons hierdie skeppingsopdrag uit as werkende Christene?

Ons doen dit nie volgens ons eie planne of vir ons eie eer nie, maar volgens die beeld van God. Romeine 1:17 (AFR53) lui soos volg: “Die regverdige sal uit die geloof lewe.” Dit beteken dat ons nie net by sekere geleenthede uit geloof moet leef nie, maar selfs in uitdagende omstandighede. Ons word ook gewaarsku in Jakobus 1:22 (AFR53): “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” Dus moet ons geloof prakties sigbaar wees by die werk. Ons kan nie selektief gehoorsaam wees aan die gebooie wat ons pas nie. Dit is dikwels duidelik dat daar in die werksomgewing sulke gewoontes kop uitsteek. Wees daarom bedag daarop om nie self in daardie strik te trap nie. Ons is almal van nature sondig, wat maak dat dit iets is waarvoor ons voortdurend moet bid. 

Verskillende rolle in die werkplek

As werkendes kan ons in verskillende posisies wees, onder andere:

  • ’n Werknemer onder ’n ongelowige baas.
  • ’n Werknemer onder ’n gelowige baas.
  • ’n Bestuurder met gelowige of ongelowige werknemers onder ons gesag.

Elke posisie bring unieke uitdagings, maar in elkeen bly die beginsel dieselfde: God se lig moet deur jou skyn.

Vir die eerste twee punte kan ons net kyk na Paulus se woorde in 1 Timόtheüs 6:1-2 (AFR43):

“ALMAL wat diensknegte is onder 'n juk, moet hulle eie here alle eer waardig ag, sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie. En die wat gelowige here het, moet hulle nie verag omdat hulle broeders is nie, maar moet hulle des te meer dien, omdat hulle wat die weldade ontvang, gelowiges en geliefdes is. Leer hierdie dinge en wek daartoe op.”

Let op die rede wat Paulus gee: “sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie.” Dit gaan dus nie oor ons eie belange nie, maar soos vroeër genoem, oor die eer van God en die getuienis van die evangelie.

In praktyk beteken dit dat ons integriteit en lojaliteit onder andere in ons werk moet wys en deur hierdie optredes, wie God is. Of jy nou ’n pasiënt versorg, ’n verslag skryf, rekeninge balanseer, of ’n vloer mop – elke handeling sê iets oor Jesus Christus.

Verder, sê Paulus ook vir ons dat ons nie gelowige base minder moet respekteer nie, maar nog meer diensbaar moet wees. Onthou dat die gesagstruktuur ook deur God ingestel is en dat ons deur ons diensbaarheid ook hulle bediening versterk.

Wanneer ons by die derde punt kom waar daar werknemers onder ons gesag is, moet ons onthou dat dit nie saak maak of ons bo of onder op die hiërargie staan nie. Jou verhouding met God behoort te bepaal hoe jy jou werkverhoudings bestuur. Hy is immers ’n God van orde en geregtigheid, maar ook van liefde, geduld en genade. As ons hom navolg behoort daardie eienskappe ook sigbaar te wees in die manier waarop ons ander hanteer.

Laastens, as gevolg van ons sondige natuur sal daar altyd tye van jaloesie of die gedurige begeerte na erkenning en geld wees. Onthou Christus se woorde in Openbaring 2:9 (AFR53): “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede – maar jy is ryk…” Hierdie “rykdom” is nie materieel nie, maar geestelik van aard. Dit is ’n realiteit wat ons reeds in die hede kan beleef sowel as ’n belofte wat in die toekoms vervul sal word.

Nuwe verantwoordelikhede, nuwe geleenthede

Die werksfase van ons lewe is meer as net ’n tyd van salaris verdien en rekeninge betaal. Dit is ‘n stadium waar ons leer om selfstandig te wees en groot besluite te neem. Tegelykertyd is dit ’n tydperk soos elke ander waarin ons ons gawes en talente verantwoordelik moet bestuur tot eer van God. Die wêreld sal ons leer om net vir vooruitgang en gemak te werk, maar die Woord roep ons tot iets hoër. Ons optrede, werksetiek en verhoudings kan ’n getuienis wees wat die evangelie versier.

God se skeppingsopdrag om te bewoon, bewerk en bewaar is nie beperk tot landbou of fisiese arbeid nie. As werkendes word ons geroep om produktief te wees, reg te bestuur wat aan ons toevertrou is en ons verhoudings te onderhou in ooreenstemming met God se Woord.

Bronnelys

  • AROS 2017. Die Pentateug
  • de Bruyn P.J. 2007, Die Gesonde Leer
  • Kleyn C 2005. Die verhouding by die werk moet beheers word deur jou verhouding tot God. https://www.vgk.org.za/preke/24131. 
  • van Alten H.H. 2009. Ons is nie slegs christene teenoor weduwees en ouderlinge in die kerk nie, maar ook teenoor base by die werk! https://www.vgk.org.za/preke/23035.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp