Lordship Salvation: Word die Evangelie hier verdraai?
“Lordship Salvation” (LS), oftewel, vry vertaal, “Here-heerskappy verlossing”, is ’n leerstelling wat binne die Christelike en die gereformeerde wêreld debat veroorsaak. Dit word dikwels voorgestel as ’n dieper en meer toegewyde verstaan van geloof.
Volgens hierdie leer is reddende geloof nie bloot vertroue in Jesus Christus nie, maar sluit dit ook ’n oorgawe aan Hom as Here, bekering van sonde en ’n veranderde lewe in. Met ander woorde, ’n mens moet nie net glo nie - jy moet ook jou lewe aan Christus onderwerp as deel van wat dit beteken om gered te word.
Hier begin die probleem. Die Bybel leer duidelik dat redding ’n gratis genade gawe van God is - ontvang deur geloof alleen. Wanneer elemente soos oorgawe, gehoorsaamheid of lewensverandering as deel van redding self ingesluit word, lyk dit asof iets by geloof gevoeg word.
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof — en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Efesiërs 2:8-9
Om dit prakties te illustreer: stel jou voor iemand hoor die eenvoudige boodskap: “Glo in Jesus Christus en jy sal gered word.” Hy glo dit opreg. Volgens die klassieke Gereformeerde verstaan is daardie persoon gered, en enige verandering in sy lewe sal met tyd volg as die vrug van daardie geloof. Maar volgens die LS-benadering sou daar gevra word: Het hy werklik oorgegee? Het hy sy sonde laat staan? Is Jesus werklik Here van sy lewe? Indien nie, word sy geloof bevraagteken.
’n Tweede voorbeeld is iemand wat tot geloof kom, maar steeds met sonde worstel. In die gereformeerde siening is geestelike groei ’n proses—’n gelowige kan sukkel en stadig groei. Maar binne ’n LS-raamwerk word daar dikwels gesê dat ’n gebrek aan sigbare verandering daarop dui dat die persoon nooit werklik gered was nie. Dit plaas ’n sterk klem op uiterlike bewys as maatstaf van ware geloof.
Hierdie verskil kom ook na vore in prediking. ’n Eenvoudige evangelie-uitnodiging sou sê: “Glo in Christus en jy sal gered word.” ’n LS-georiënteerde uitnodiging sal eerder sê: “Bekeer jou, gee jou lewe oor, en volg Christus as Here.” Die evangelie word ingewikkelder gemaak en vereistes, “werke”, word bygevoeg wat die Skrif nie as voorwaardes vir redding stel nie - dit is dan nie meer deur geloof alleen nie.
Die kern van die hele debat lê dus in een fundamentele vraag: Is ’n veranderde lewe ’n voorwaarde vir redding, of ’n gevolg daarvan? Ons glo dat verandering die vrug van redding is, iets wat natuurlik volg nadat ’n mens deur geloof gered is. Voorstanders van LS stem saam dat geloof alleen red, maar beklemtoon dat ware geloof noodwendig tot verandering lei. Die probleem ontstaan wanneer hierdie “noodwendigheid” as ’n vereiste begin klink.
Selfs binne die Reformatoriese tradisie word daar gesê: ons word gered deur geloof alleen, maar nie deur ’n geloof wat alleen bly nie. Geloof red, maar ware geloof bring vrug voort. Die gevaar is egter dat hierdie balans maklik skeef getrek kan word, sodat die vrug ’n voorwaarde word.
Uiteindelik bly die evangelie eenvoudig: redding is deur Christus alleen, uit genade alleen, deur geloof alleen. Die debat oor Lordship Salvation gaan nie oor of ’n Christen se lewe moet verander nie—dit gaan oor wanneer en hoe daardie verandering in verhouding tot redding staan.
Die vraag bly dus nie óf daar vrug moet wees nie, maar of daardie vrug deel is van die wortel van redding, of die gevolg daarvan.
Waarom hierdie artikel
Maar, sal jy vra, ons weet dit tog reeds — waarom dan hierdie artikel? Die antwoord is dat hierdie en ander nie-Gereformeerde sienings in ons kringe gereeld sonder voldoende onderskeid gelees, gebruik, aangehaal en selfs aanbeveel word.
Byvoorbeeld: John MacArthur, Paul Washer, C. Marvin Pate, Tim Keller, Don Carson, Arnold Dallimore, W.P. Young en so meer.
Terselfdertyd word daar steeds minder gebruik gemaak van ons eie erfenis aan studieboeke. Dit gee mos te denke?
Deur hierdie “bronne” sonder onderskeid te gebruik, water ons die suiwer Gereformeerde leer af en verwater dit geleidelik met ’n seleksie van moderne-, evangeliese-, baptistiese-, dispensasionalistiese- of Lordship Salvation-invloede. Om wille van ons en ons kinders is duidelikheid van groot belang.
Op die ou end staan ons in gevaar om die rykdom van ons eie belydenisskrifte, die werke van die Reformasie en die duidelike stem van manne soos Calvyn, te verruil vir ’n oppervlakkiger, meer populêre teologie wat nie meer gereformeerd is nie en kan lei tot deformasie in die kerk.
Geskryf deur Herman Waagmeester