Lesse uit die Geskiedenis
Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy bekende 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker. Hoewel Luther met die 95 stellings nog nie die hervorming beplan of beoog het nie, word dit algemeen herdenk as die begin van die Reformasie. Nou kan ons vra, maar wat raak dit ons?
Lees Psalm 78:1-8
Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy bekende 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker. Hoewel Luther met die 95 stellings nog nie die hervorming beplan of beoog het nie, word dit algemeen herdenk as die begin van die Reformasie. Nou kan ons vra, maar wat raak dit ons? Hoekom staan ons vandag nog stil by gebeure soos die Reformasie? Ons kan nog verder gaan deur te vra: Is dit nodig vir ons om kerkgeskiedenis goed te ken?
Geskiedenis is ‘n onderwysing
Om hierdie vrae te beantwoord, gaan ons kyk na Psalm 78. Vers 1 sê dat hierdie psalm ‘n onderwysing van Asaf is. ‘n Onderwysing – dit is dus bedoel om iemand iets te leer. En dan gaan Asaf voort om die geskiedenis van Israel te vertel. Hy wil daarmee sê: “Kyk na die geskiedenis. Dit is nie maar net ‘n klomp vervelige feite en skynbaar irrelevante gebeure nie, maar dit het betekenis ook vir die huidige generasie. God wil ons vanuit die geskiedenis onderrig gee. Daar is belangrike lesse wat ons uit die geskiedenis moet leer.”
Asaf beskryf oorsigtelik die tydperk vanaf die uittog uit Egipte tot by die koningskap van Dawid. Hy skets vir ons ‘n hartseer prentjie van Israel se geskiedenis en plaas die klem op die volk se ontrouheid en wederstrewigheid. Die volk was keer op keer ondankbaar, hulle het gekla en hulle het afgedwaal. En dit alles terwyl hulle die HERE se verlossing en versorging so goed geken en beleef het.
Asaf vertel nie sommer maar net hierdie gebeure nie, maar hy vertel dit met ‘n spesifieke doel voor oë. Hy wil hê dat die jeug belangrike lesse daaruit moet leer (vers 6). Hulle moet vanuit die geskiedenis leer om hulle vertroue op God te stel en sy gebooie te bewaar (vers 7). Hulle moet ook leer om nie dieselfde foute as hulle voorgeslagte te maak nie (vers 8).
Wanneer ons dus na die geskiedenis kyk, ook op ‘n dag soos Hervormingsdag, moet ons besef dat dit ook waardevolle en betekenisvolle lesse vir ons inhou. Die Hervorming leer ons byvoorbeeld om altyd te bly reformeer, om terug te gaan na die Woord. Dit herinner ons hoe kosbaar die waarheid is dat die sondaar slegs deur die geloof in Christus regverdig voor God kan staan. Dit leer ons dat God getrou is en sy kerk bewaar.
Geskiedenis is ‘n onderwysing, juis omdat God aan die werk is in die geskiedenis. Hierdie lesse uit die geskiedenis is dus gegrond en vloei voort uit God se roemryke dade.
Die geskiedenis getuig van God se roemryke dade
“Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.” (Psalm 78:3-4)
Die geskiedenis wys vir ons wie God is. God openbaar Homself op ‘n besondere manier aan ons deur sy Woord, maar ons leer Hom verder ken deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die wêreld (NGB Artikel 2). Die geskiedenis val natuurlik onder die regering en onderhouding van die wêreld.
Psalm 78 hou nie net aan ons Israel se ontrou voor nie, maar dit besing tegelyk die onwrikbare trou en deugde van die HERE. Gaan lees gerus deur die hele psalm. Dit gaan nie in die eerste plek oor wat Israel in die verlede gedoen het nie, maar oor wie God is en wat Hy in die verlede gedoen het. As ons dus na die verlede kyk, moet ons ons oë vestig op die getroue God van die verbond wat sy verbondsvolk bewaar.
Net soos Israel se geskiedenis is die kerk se geskiedenis ook die geskiedenis van ‘n sondige volk en ‘n genadige God. As ons kyk na die geskiedenis van die kerk dan sien ons baie gebrokenheid, sonde en ontrouheid. Maar ons sien daarmee saam hoe God getrou is en hoe Hy die kerk van sonde reinig en heilig. Ons sien hoe Hy deur die eeue heen sy kerk bewaar teen Satan se aanvalle, vervolging en dwaling.
Dit is wat kerkgeskiedenis is. Dit is die Seun van God wat sy gemeente deur sy Gees en Woord van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou (vlg. HK Sondag 21 v/a 54). Dit is die Bruidegom wat sy bruid gereed maak vir die bruilofsmaal van die Lam. Dit is geskiedenis wat God se trou en lof uitbasuin.
In die geskiedenis van die Reformasie sien ons op ‘n besondere manier hoe God die kerk bewaar het en die waarheid van sy Woord weer laat klink het. Dit getuig van God se almag, genade en trou.
Die geskiedenis leer ons om op God te vertrou vir die toekoms
Die psalm eindig by koning Dawid. Dit wys vir ons dat God met die geskiedenis ‘n doel het. God is besig om sy plan uit te voer. Uit Dawid se nageslag is ons ewige Koning, Jesus Christus, gebore. Dit is die roemrykste daad van God in die geskiedenis wat ons moet hoor, weet en vertel.
Ons weet dat die geskiedenis nie bloot ‘n lukrake sameloop van gebeure is nie, maar dat God oor elke vingerbreedte van die geskiedenis regeer. Net soos alles in die Ou Testament opgebou het tot die koms van Christus, so bou alles na sy dood en opstanding op tot sy wederkoms. En omdat God getrou was aan al sy beloftes in die verlede, kan ons met sekerheid weet dat Hy al sy beloftes vir die hede en toekoms ook sal vervul.
Mag ons dan op hierdie Hervormingsdag weer opnuut sien hoe God die kerk in die verlede bewaar het, en laat dit ons dan aanmoedig om ons vertroue op God te stel vir die toekoms. Die toekoms van die kerk is veilig in God se hand, want ons Koning het belowe dat die poorte van die doderyk dit nie sal oorweldig nie (Mattheüs 16:18).
Psalm 78 roep ons dan in vers 3 en 4 op om drie dinge te doen met die geskiedenis: Ons moet God se roemryke dade hoor, weet en vertel. Aan God alleen alle eer en dank, want sy trou is van geslag tot geslag.
Coram Deo: Gewortel in kerkgeskiedenis, geanker in die Woord
Op ‘n dag soos Hervormingsdag kan ons met dankbaarheid God se trou in die geskiedenis van die kerk herdenk. Ons is gewortel in die geskiedenis en dis belangrik om daarin gewortel te bly. Aan die een kant is daar vandag baie mense wat beweer dat die geskiedenis glad nie belangrik is nie - dit staan as ahistorisme bekend. Aan die ander kant is daar ook vandag ‘n groot beweging onder sekere groepe binne die wyer Evangeliese kringe om terug te keer na die historiese kerke soos die Rooms Katolieke Kerk en die Grieks-Ortodokse Kerk. Een van die argumente wat hulle dikwels gebruik is dat die Protestantisme ‘n relatief nuwe beweging is, met leerstellings wat eers in die 16de eeu ontstaan het.
Die Reformasie het egter nie ‘n nuwe leer op die tafel gebring nie, maar het eenvoudig teruggekeer na dit wat die Woord ons leer. Net soos die kerkhervormers moet ons onsself nie by ‘n kerk voeg bloot omdat dit skynbaar ‘n historiese kerk is of omdat dit baie tradisies het nie, maar ons moet altyd bly soek na die suiwer verkondiging van Christus. Die Reformasie herinner ons dus ook om gewortel te bly in die rykdom van die kerkgeskiedenis en belydenisskrifte. Ons is deel van die algemene Christelike kerk wat God deur die geskiedenis heen bewaar het. Bo dit alles, herinner dit ons om geanker te wees in die Woord van God.
Gebed
Onse Vader wat in die hemel is, ons wil U loof en prys dat U nooit die werke van u hande sal laat vaar nie. U trou is groot. Ons dank U dat U deur al die eeue heen u kerk bewaar het. Ons dank U dat ons mag weet dat Christus ‘n ewige Koning is wat nooit sonder onderdane sal wees nie, maar dat daar altyd ‘n kerk van gelowiges sal wees, gegrond in die bloed van u geliefde Seun. Ons bid dat U die kerk sal seën en laat groei en ook sal gee dat ons die evangelie sal uitdra in hierdie wêreld. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Bronnelys
- Boon, PG (2022). Vertel aan die jeug die roemryke dade van die HERE [aanlyn]. vgk.org.za. Beskikbaar by: https://www.vgk.org.za/preke/25675
- Boon, Dr PG & J. Inleiding. Bl. 2-9. Kerkgeskiedenis vir jonk en oud (30 – 500 AD). Uitgegee deur Fontein Uitgewery 2024.
- Van Rooyen, W (2022). Wat ons gehoor het, sal ons vertel [aanlyn]. www.youtube.com Beskikbaar by: https://youtu.be/ewzU7-xBLyQ
Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata