Laaste bekeringsoproep deur die profeet van God se liefde - Hoséa 14
Die profeet het duidelik die sondes van die volk uitgewys: hoogmoed, gebrekkige kennis van God, skynheiligheid, moord, owerspel en nog meer. Is sonde en oordeel al waaruit Hoséa se profesie bestaan? Genadiglik nie. Die kern van Hoséa se profesie is die onvoorwaardelike liefde van God.
Lees Hoséa 14
Ons trek nou by die laaste hoofstuk van Hoséa sowel as die laaste oordenking in hierdie reeks. Om ‘n profeet deur te lees verg inspanning. Die herhaling, beeldspraak, sowel as die verskeie verwysings en beelde wat binne die profeet se historiese konteks verstaan moet word, kan dit vir ons moeilik maak om te lees en te verstaan.
Maar die Here gebruik steeds vandag die profete om Homself te openbaar en om ons op te roep. En so het ons die voorreg gehad om dieper te delf in hierdie profeet en kon ons opnuut weer waarhede uit die rykdom van God se Woord ontgin.
Die profeet het duidelik die sondes van die volk uitgewys: hoogmoed, gebrekkige kennis van God, skynheiligheid, moord, owerspel en nog meer. Die volk Israel het ontrou geword aan die HERE en afgode begin dien. Hulle gee hul liefde vir afgode in plaas van die HERE, net soos ‘n vrou (soos Gomer) wat owerspel bedrywe.
Hoséa het die HERE se oordeel aangekondig deur sy woorde maar ook deur die naamgewing van die kinders: Jísreël, Lo-Rugáma en Lo-Ammi. God is en bly regverdig. Die volharding in sonde het toe ook gelei tot die Assiriese ballingskap van die Tienstammeryk in 722 v.C.
Sonde en oordeel…Is dit al waaruit Hoséa se profesie bestaan? Genadiglik nie. Die kern van Hoséa se profesie is die onvoorwaardelike liefde van God. Net soos wat Hoséa hom weer oor die ontroue Gomer moes ontferm, net so ontferm die HERE Hom herhaaldelik oor sy owerspelige verbondsvolk. God se liefde word deurgaans beklemtoon deur Hoséa. Ons kan hom selfs beskou as die profeet van God se liefde. Hierdie liefde is eeue later volmaak in Christus aan ons geopenbaar.
Ook in hierdie laaste hoofstuk word die HERE se liefde en geduld sigbaar. Die profesie eindig met ‘n oproep tot bekering. Dit is genade dat God steeds tyd gee vir bekering. Die HERE staan soos die vader in die gelykenis van die verlore seuns gereed met sy arms oop om sy kinders wat tot Hom terugkeer te omhels (Lukas 15:20). Kom ons kyk na hierdie laaste bekeringsoproep deur die profeet.
Die woord wat hier in vers 2 vir bekering gebruik word, beteken om “om te draai” of om “terug te keer”. Dit kan vergelyk word met ‘n persoon wat besig is om in ‘n rigting te stap, maar dan draai hy om en loop in die teenoorgestelde rigting as waarin hy aanvanklik geloop het. Bekering behels dus meer as om net ‘n paar verbeterings of opdaterings in jou lewe te maak. Bekering is radikaal van aard. Dit is ‘n 180 grade draai – weg van sonde na Christus toe.
Die daaglikse bekering waaroor Paulus skryf – en wat die Kategismus behandel – volg dieselfde patroon: Afsterwing van die ou mens en opstanding van die nuwe mens (Efesiërs 4:22-24, HBK Sondag 33). Wegdraai van sonde na Christus toe. Slegs die Gees kan so ‘n radikale bekering bewerk.
Kom ons kyk kortliks na ‘n paar belangrike aspekte van bekering wat hierdie hoofstuk ons leer.
Wat moet jy met jou saamneem as jy tot die Here bekeer? Vers 3 gee die antwoord: “Neem woorde met julle…” Ons hoef en kan niks anders met ons saamneem nie, selfs nie offerdiere nie. Ons kom met leë hande voor die Here. Al wat ons met ons kan saamneem is woorde wat smeek om vergifnis op grond van God se barmhartigheid. “Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied.” (Hoséa 14:3)
Bekering behels verder ‘n afsien, ‘n verloëning, van al die ander dinge waarop ons ons vertroue stel: “Assur kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie en tot die werk van ons hande nie meer sê: Onse God nie!” (Hoséa 14:4). Geen politiese leiers of bondgenootskappe kan redding bring nie. Dit help ook nie om op perde, op militêre mag, staat te maak nie. En die afgodsbeelde wat daar deur hul eie hande gemaak, wil hul nie meer aanbid nie.
Israel moet afsien van al die ander dinge waarop hulle hul vertroue gestel het. Dit kon hulle weerloos laat voel het. Dit wat hulle ‘n gevoel van veiligheid en sekuriteit gegee het, moes hulle prys gee. Dit kon hulle soos weeskinders laat voel het – onseker en onveilig. Maar so gaan vers 4 aan: “Want by U vind die wees ontferming.”
Die veiligheid wat al hierdie ander dinge bied, bevat geen ware sekuriteit nie. Die Here alleen gee ware ontferming en sekuriteit vir die wat so kwesbaar soos weeskinders hul vertroue op Hom stel. Dan volg vers 5: “Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.” Vers 6-9 skets vir ons die herstel en verkwikking wat die HERE ook belowe.
Laat ons die waarhede wat die Gees deur Hoséa aan ons leer, ter harte neem soos wat die einde van die boek ons oproep: “Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let! Wie verstandig is, laat hom dit erken! Want die weë van die HERE is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!” (Hoséa 14:10)
Gebed
Troue God en Vader, ons dank U dat ons tot U mag kom in ons gebede met vrymoedigheid. Dat U ons nie wegwys in u toorn nie, maar dat U as Vader na ons wil luister danksy u geliefde Seun. Ons bid dat U ons genadig sal wees en al ons sondes sal vergewe. Sal U ons krag gee om te stry teen die sonde en om ons tot U te bekeer. “Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer” (Klaagliedere 5:21). Dank U vir u Woord wat so ryk aan betekenis is. Dank U vir die profeet Hoséa waardeur U ook vandag u kerk oproep om U te ken en lief te hê. Bewaar ons ook so in u liefde en u Woord. Ons bid dit alles, want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Coram Deo
Bekering is steeds die oproep wat aan die kerk en deur die kerk verkondig moet word. Die radikale omkeer: Weg van sonde na Christus toe. Bekering was ook deel van Christus se prediking: “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mattheüs 4:17)
Bronnelys
- Van Hulst, F.J. Hoofstuk 8: Hosea 14. Bl. 67-75. Profeet van God se liefde. Uitgegee deur Die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad 1991.
- Kempff, D. Hoofstuk 15: Hosea 14. Bl. 97-103. Wees Trou. Uitgegee deur Boekhandel De Jong (Edms.) Bpk. 1979.
Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata