Jou verhouding met jou ouers.

Is dit belangrik om ‘n goeie verhouding met jou ouers te hê? Wat beteken die vyfde gebod nou eintlik vir ons? In die alledaagse lewe dink ek ons mis baie keer die erns van die saak: hoe belangrik ‘n goeie verhouding met ons ouers is.

Jou verhouding met jou ouers.
Photo by Kelly Sikkema / Unsplash

Geskryf deur Irmari Venter, GK Die Kandelaar

Is dit belangrik om ‘n goeie verhouding met jou ouers te hê? Wat beteken die vyfde gebod nou eintlik vir ons? In die alledaagse lewe dink ek ons mis baie keer die erns van die saak: hoe belangrik ‘n goeie verhouding met ons ouers is.

As ons kyk na die Drie-eenheid is daar ‘n goeie verhouding tussen die Vader en die Seun. Daarom is dit ook God se bedoeling dat daar mooi en gesonde verhoudings tussen ouers en kinders bestaan. Om ‘n goeie verhouding met jou ouers te hê, beteken nie noodwendig dat hulle jou maatjies moet wees nie. Jy moet respek vir hulle hê en gehoorsaam aan hulle wees, soos wat ons ook in die vyfde gebod lees: “eer jou vader en jou moeder”.

In die Drie-eenheid leef die Vader en die Seun in volmaakte harmonie. Die Vader verklaar: “dit is my geliefde seun” (Mat 3:17) en die Seun roep uit: “ek loof U, Vader, Here van die Hemel en aarde” (Mat 11:25). Dit moet ook in ons verhoudings weerspieël.

Dit is nie altyd maklik nie. Ons is sondig, daarom vra dit wysheid om goeie verhoudings met ons ouers te hê. Ons is geneig om die verkeerde te wil doen en nie na die gesag bo ons te luister nie, soos ons in Romeine 7:19 lees: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.”

Goeie verhoudings kan slegs plaasvind wanneer ouers kinders in liefde grootmaak en kinders respek vir hulle ouers het. In Efesiers 6:4 staan daar: “en vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” Met ander woorde is dit ons ouers se plig om ons op te voed in die Naam van die Here, soos wat hulle in die doop belofte bely. Sonder ‘n verhouding met jou ouers gaan jy nie opvoeding in die Naam van die Here ontvang nie.

As jy ‘n goeie verhouding met jou ouers het, gaan jy hulle wil gehoorsaam en eer soos wat God van ons eis. In Efesiers 6:1-2 staan dat ons gehoorsaam moet wees: “Kinders julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder, dit is die eerste gebod met ‘n belofte.” Ons moet onthou dat ons kinders van God is en dat Hy ons Vader is. Ons moet die Here gehoorsaam en doen wat Hy van ons vra. As ons nie die gesag bo ons gehoorsaam nie, gehoorsaam ons ook nie vir God nie.

In Efesiers 4:1 lees ons: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is.” Ons lewenswandel moet in ooreenstemming wees met die roeping wat ons van God ontvang het. Is die roeping wat ons ontvang het nie om ons ouers te eer en te gehoorsaam nie?

Natuurlik gaan ‘n goeie ouer-kind verhouding na beide kante toe en moet die ouers ook die opdrag van die Here uitvoer. Opvoeding moet gaan oor wat die Here wil, nie oor wat die ouers wil nie. Ouers, dit wat julle van julle kinders verwag, moet in lyn wees met wat God van julle verwag.

Kinders, die Here het ons ouers vir ‘n rede aan ons gegee. Die Here het vir hulle lewensondervinding gegee in sy Naam (Spreuke 1: 7-9). Daarom moet ons opkyk na ons ouers en hulle gehoorsaam wees en eer, sodat ons ook opvoeding in die Naam van die Here kan ontvang. Kinders mag ouers ook vra om hul ondervinding en wysheid met hulle te deel. Ouers kan kinders help as hulle twyfel of sukkel met iets soos geloof, sodat hulle nie onder groepsdruk val nie.

Ouers, die Here het ook kinders aan julle gegee met ‘n rede. Voer die opdrag van die Here uit soos wat Hy van julle vra. Die Here bring kinders oor jou pad en sal jou ook met wysheid en geduld toerus om die taak te verrig.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp