Jesus > Religion

“The Bible isn’t a rule book. It’s a love letter. I’m not an employee. I’m a child. It’s not about my performance. It’s about Jesus’ performance for me.”

Jesus > Religion
Photo by Aaron Burden / Unsplash

Geskryf deur Wicus van der Linden, VGK Kaapstad

“The Bible isn’t a rule book. It’s a love letter. I’m not an employee. I’m a child. It’s not about my performance. It’s about Jesus’ performance for me.”

Gebaseer op sy gedig met dieselfde titel, Jesus > Religion, spreek Bethke ‘n algemene vergissing teë wat hy in sy universiteitslewe raakgeloop het. Mense – Christen of ateïs – beskou Christenskap net as ‘n lys take, ‘n lewensstyl, reëls wat jy moet volg om in ‘n goeie verhouding met God te bou. Sodra ‘n mens só begin dink, word Christenskap weg gedraai van die genade van God, na die vermoëns van die mens.

Bethke betrek hierby sy eie lewensverhaal – sy gesprekke met medestudente van verskeie agtergronde, sy ervarings met geloof en die kerk, asook wat hy self geleer het langs die pad.

Jefferson Bethke het op universiteit gespesialiseer in sosiale wetenskappe – politiek en regering. Hy is heel bewus van sy tekortkominge en sê nederig dat hy self geen kwalifikasies het om teologiese boeke te skryf nie – geen graad, opleiding, of kennis van antieke tale nie. Wat hy wel het, is ‘n verhaal van struikel en val, waardeur hy geleer het tot watter mate die wêreld Jesus en Christenskap misverstaan – en hoe verkeerd ons as Christene dit soms uitbeeld.

Tydens die skryf van hierdie boek is Jefferson getroud met Alyssa. Hul verhouding, verlowing en troue is ‘n deurlopende tema in die boek, waar Bethke dit gereeld as spieëlbeeld gebruik van die huweliksverhouding tussen die kerk en Christus.

Een manier om die boek te beskryf is ‘kort en kragtig’, met 10 kort hoofstukke van om en by 20 bladsye elk. Die skryfstyl is vloeiend en eenvoudig, maar dra tog die boodskap goed oor.

Die kern van die boek is Bethke se verhaal – sy ervarings op hoërskool en universiteit, en wat hy daaruit geleer het. Tog staaf hy sy argumente met die Skrif, asook ander liturgie en gebeurtenisse. Daar is ook duidelike onderskeid tussen die argumente wat direk uit die Skrif kom, en die stellings wat uit ervaring gemaak word. Elke hoofstuk word ook aangevul met ‘n handvol vrae wat die deur oopmaak vir bespreking, nadenke en (self)ondersoek.

Dit is noemenswaardig dat die argumente in die boek Jefferson Bethke se eie ervaring is – en dit is goed moontlik dat elke leser nie met alles sal saamstem nie. Bethke moedig sy lesers aan om na te dink, self die verwysings te bestudeer en te bespreek. Verder kan dit ook voel asof sekere punte herhaal word, aangesien baie van die ervarings wat Bethke wil deel, eenderse boodskappe oordra.

“Thinking you can earn eternal life by just reading the Bible a lot is like staring at the wind shield while driving, hoping you’ll get where you want to go. The windshield isn’t there to be looked at; it is designed to be looked through.”

Hierdie boek is geskik vir jongmense en volwassenes, en kan aanlyn gevind word in e-boek of harde kopie formaat, asook by boekwinkels soos CUM boeke. Die uitleg, tema en aanvullende vrae en verwysings maak dit goeie leesstof vir persoonlike of gesamentlike Bybelstudie.