Jesus.
Jesus. ‘n Naam van groot belangrikheid en gesag. ‘n Naam wat almagtig en reddend is. ‘n Naam wat as koning gekroon is en ‘n naam wat wêreldwyd bekend is. Hoekom is onse God se naam so wonderlik en almagtig? Wat beteken Jesus?
Geskryf deur Marissa Kerkhoff, VGK Pretoria
Jesus. ‘n Naam van groot belangrikheid en gesag. ‘n Naam wat almagtig en reddend is. ‘n Naam wat as koning gekroon is en ‘n naam wat wêreldwyd bekend is.
God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus, elkeen wat in die hemel en op aarde is en onder die aarde is, die knie sal buig (Fillipense 2:9-10).
Hoekom is onse God se naam so wonderlik en almagtig? Wat beteken Jesus?
Die naam ‘Jesus’ is bekend gemaak aan Maria en Josef deur die engel wat aan Josef verskyn het in Mattheus 1: 21. ‘Jesus’ is die Griekse weergawe van die Hebreeuse naam ‘Josua’ of ‘Yeshua’ wat beteken: “Die Here is verlossing”. Met hierdie verlossing sal Hy sy volk van hulle sondes verlos. Die verlossing is nie net vir die Jode nie, maar vir almal wat besef dat hulle hulself nie kan red nie.
Die engel het gesê dat hulle Jesus ‘Emmánuel’ sal noem, wat beteken: God is met ons (net soos die profeet Jesaja voorspel het in Jesaja 7:14). Deur Jesus is God by ons teenwoordig. In Hom het God dus letterlik tussen ons kom woon.
Die naam Jesus was baie algemeen in die eerste eeue in en om Judea. Om hierdie rede word ons Heer gereeld “Jesus van Nasaret” genoem en word Hy uitgeken deur sy jeugdorp: Nasaret in Galilea (Matteus 21:11). Ten spyte van die feit dat dit so algemeen was, dra die naam ‘Jesus’ ’n diep en betekenisvolle boodskap. Jesus is deur God gestuur vir ’n spesifieke taak. Sy naam verwys na daardie sending. Net soos Josua, ook bekend as Yeshua, in die Ou Testament sy mense na oorwinning oor die Kanaäniete gelei het, het Jesus in die Nuwe Testament sy mense gelei na oorwinning oor sonde en hul geestelike teenstanders.
Daar kom verskillende name en beskrywings van Jesus in Johannes voor. Jesus het aan homself verskillende name gegee wat verband hou met die besonderse rol wat Hy as gestuurde van die Vader vervul het. Sommige van die name verwys na titels in die Ou Testament en ander was weer bedoel om mense beter te help verstaan wat sy identiteit en funksie was. Die name van Jesus gee ons ook ‘n beskrywende voorbeeld wat ons moet volg.
Jesus het meestal na Homself verwys as Seun van die mens. Volgens die evangelie verwys dié titel op Jesus se aardse bediening, lyding en vernedering, maar ook op sy koms in heerlikheid op wolke. Johannes verwys na Hom as die brug tussen hemel en aarde. Jesus word ook genoem die “brood van die lewe” en “ingang vir die skape”. Dit beteken Hy is die enigste bron van ewige lewe, en die enigste manier om die ewige lewe te ontvang. Jesus is die “lig vir die wêreld”. Die lig simboliseer sy geestelike insig en waarheid. Jesus is die universele antwoord op mense se behoefte aan geestelike waarheid.
Verlossing kom in die naam van Jesus alleen. Jesus is “die klip wat deur die bouers geminag is, wat nou die hoeksteen geword het. Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie” (Handelinge 4:11-12, AFR20). Vergewing van sonde word alleen verkry deur die naam ‘Jesus’.
Gelowiges moet gedoop word in die naam van Jesus. Petrus antwoord die apostels in Handelinge 2:38 met die woorde: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” (AFR20).
In alle opsigte doen Jesus sy naam gestand. Die naam van Jesus herinner ons aan die mag, teenwoordigheid en doel van die opgestane Christus. Dit bevestig dat God se genadige plan is om ons te red. Ons Here Jesus het God na die mensdom gebring en bring nou mense na God deur die verlossing wat Hy bewerk het. In die Skrif, wanneer mense in Jesus se naam gespreek of opgetree het, het hulle dit gedoen as God se verteenwoordigers met sy gesag.
Die lewe van die gelowige moet in die Naam van Jesus geleef word (Kolossense 3:17) en daardeur eer aan God te bring. Ons bid “sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word, op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus” (2 Thessalonisense 1:12, AFR53).
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp