Jaag die goeie ná!

‘n Vraag wat my die afgelope tyd besig gehou het, is: “Hoekom doen ek wat sleg is as ek weet wat goed vir my is?” Dit voel of die goeie en die slegte kant van my brein armdruk, maar tog wen die slegte kant een te veel...

Jaag die goeie ná!
Photo by Aziz Acharki / Unsplash

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata

‘n Vraag wat my die afgelope tyd besig gehou het, is: “Hoekom doen ek wat sleg is as ek weet wat goed vir my is?” Dit voel of die goeie en die slegte kant van my brein armdruk, maar tog wen die slegte kant een te veel. Paulus sê self ook dat hy die kwaad wat hy nie wil doen nie, doen, maar die goeie wat hy wil doen, nie doen nie (Romeine 7:19).

‘n Analogie: Jou kar

‘n Kar se diensrekord kan soms iets frustrerend wees om by te hou, veral ook omdat dit jou geld uit die sak jaag. Ons weet dat, as jy nie jou kar diens nie, dit oor die langtermyn ernstige probleme kan veroorsaak. Om dit te verhoed, diens ons ons karre so vêr as moontlik volgens die diensplan.

Soortgelyk verstaan ons dat ‘n “gesonde leefstyl” ‘n lys van aksies is wat ons elke dag kan doen. Dit kan insluit dat ons elke dag genoeg slaap, oefening inkry of gesond eet. Die aksies, weet ons, is goed vir liggaam, siel, en gees. Ons weet ook dat ‘n slegte roetine oor ‘n lang termyn ‘n slegte effek op ons lewe mag hê en daarom is dit belangrik om ons “diensrekord” op datum te hou.

Dit klink alles goed en mooi, maar hoekom is my diensrekord van tyd tot tyd agterstallig?

‘n Scenario: Student

As ‘n student verskil mens se werkslading deur die loop van ‘n jaar. Die eerste week van die semester is veels te rustig, maar voor jy weer kyk, staan jy voor ‘n intense week van toetse of eksamens. Die intense weke is meestal die weke waar mens die meeste dissipline het: jy het ‘n goeie slaapskedule, drink genoeg water, vat breuke, spandeer min tyd op sosiale media en draf om die blok om jou kop skoon te kry. Maar, wanneer ons net-net te min werk het om ons besig te hou, is ons “sleg”: gaan slaap laat, staan laat op, breuk meer as wat jy studeer, en spandeer te veel tyd op sosiale media. As ons ondermekaar daaroor praat lag ons daaroor, maar diep binne weet ons dit is nie goed vir ons nie. Hoekom doen ons dit dan? Buiten dit praat ons nie daaroor dat ‘n slegte roetine ook meestal bydra tot ‘n slegte geloofslewe nie. Byvoorbeeld: dit is moeilik om in die oggend ordentlik Bybel te lees en te bid as jy verslaap omdat jy 3 keer “snooze” gedruk het.

Jou brein

Dit is nogal interessant om nie net te wonder oor hoe jou brein werk nie, maar om ook te verstaan hoe jou brein biologies werk. ‘n Aantal studies maak duidelik hoekom die slegte kant eerder wen as die goeie kant:

  1. Jou brein is in konstante konflik: jou limbiese stelsel (limbic system) bestaan uit vinnige en emosionele impulse, waar jou prefrontale korteks (prefrontal cortex) stadiger en rasionele besluite maak (Bechara et al., 1994). Oor die algemeen is jou brein dus meer geneig om ‘n emosionele as ‘n rasionale besluit te maak.
  2. Dopamien dryf jou na besluite wat nou goed en lekker is in plaas van die besluite wat langtermyn voordele bevorder (Laibson, 1997).
  3. As jy nie emosioneel oortuig is nie, is jy minder geneig om aksie te neem (Damasio, 1994).
  4. Jou omgewing dryf jou tot besluite wat jy nie wil maak nie (bv. groepsdruk) (Volkow et al., 2011).

God het die mens met gesag (m.a.w. ‘n vrye wil) geskape na sy beeld, om Hom te loof en te eer, maar ons het gekies om te sondig (Genesis 3). Om nie van die onderwerp af te wyk nie, stel ek “Is jy vry of nie?” en verdere studie voor as u meer oor die vrye wil wil weet.

Het God dan die brein geskape om van nature die slegte te kies? Nee, God het die brein goed geskape om Hom en ons naaste te dien:

  1. Jou limbiese stelsel is gemaak om emosies te ervaar. God het ons geskep om Hom en mekaar lief te hê. Jou prefrontale korteks is gemaak om besluite te maak en om te heers oor die skepping (Genesis 1:28).
  2. Dopamien laat ons geniet wat God vir ons gee — om ten volle te geniet van wat God ons gee, maak dit sin om ook in die oomblik te kan leef.
  3. Die Heilige Gees werk in ons sodat ons emosioneel oortuig kan wees om in God te glo.
  4. God het ons gemaak om ons naaste te dien en goed te wees vir ons omgewing, selfs al is dit om onsself tweede te sit (Fillipense 2:4).

Die Bybel as handleiding

Buiten wat mediese navorsing vir ons uitwys, is die Bybel ook oorlaai met wenke, ervarings en voorskrifte oor hoe ‘n goeie allerdaagse leefstyl moet lyk. 1 Thessalonicense 5:12-27 skryf voor dat ons die goeie moet najaag, dat ons altyddeur moet bly wees, dat ons moet bid sonder ophou, en dat ons dankbaar moet wees — alles met die strewe na volmaaktheid. Die Bybel is ons handleiding tot ‘n goeie leefstyl — daar staan nêrens in die Bybel dat jy 8 ure elke aand moet slaap nie, maar daar staan wel dat jy teenoor almal goedgesind moet wees (Efésiërs 4:32). As jy weet dat min slaap jou gesindheid teenoor ander beïnvloed, dan is dit sonde (Jakobus 4:17).

Hoe jaag ek die goeie na?

Ons moet erken dat ons dit nie uit onsself kan doen nie. Die sonde woon in ons (Romeine 7:20), en tot die einde van ons dae gaan ons moet stry teen die slegte. Dit vat inspanning, geduld, en gebed. Christus werk deur medegelowiges om mekaar aan te spoor tot ‘n beter leefstyl — slegs deur Christus kan ons volmaak in gees, siel en liggaam wees (1 Thessalonicense 5:23).

Vul jou tyd met die goeie, want waar jou tyd nie gevul word met die goeie nie, wag die Satan by die deur (1 Petrus 5:8-9). Wanneer ons egter die tyd uitkoop tot God se eer en ‘n Geesvervulde lewe lei deur die wapenrusting op ons te neem (Efésiërs 5:16-18), maak ons geen plek vir die bose in ons lewe nie. Doen dus goeie selfondersoek oor wat jy met jou tyd doen: werke van die vlees of werke van die Gees.

As jy in die oggend opstaan mag jy, soos Samuel gereed was om te dien (1 Samuel 3:9), gereed wees om te dien in God se koninkryk. Waar die wereld sê dat ‘n goeie leefstyl lei tot status en selfverryking, mag ‘n gesonde leefstyl ons as Christene se geloofslewe komplimenteer om tot eer van God te leef!

Olielamp links: Oordenkings | Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp