Iran in die Eindtye

Ek het Maandag 23 Junie aan hierdie artikel begin skryf. Die vorige dag het Amerika betrokke geraak by die oorlog tussen Israel en Iran. Dit het groot onsekerheid in die wêreld veroorsaak. Baie het sommer gemeen dit is die begin van die derde wêreld oorlog.

Iran in die Eindtye
Credit: REUTERS

Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria

Ek het Maandag 23 Junie aan hierdie artikel begin skryf. Die vorige dag het Amerika betrokke geraak by die oorlog tussen Israel en Iran. Dit het groot onsekerheid in die wêreld veroorsaak. Baie het sommer gemeen dit is die begin van die derde wêreld oorlog. Twee dae later is ‘n skietstilstand bereik en het ek maar moed opgegee met die artikel.  

Tog was daar nog iets interessants wat gereeld sy verskyning op die internet gemaak het. Tussen al die besprekings oor hoe lank die “Iron-dome” nog beskerming sal bied, die effektiwiteit van die “bunkerbuster” bomme, en die supersoniese Fattah missiele, het iets anders ook gereeld tussen die nuusberigte opgeduik - ‘n menigte artikels en video’s wat probeer aantoon dat die Israel-Iran konflik ‘n teken van die eindtye is. Ons is in die laaste dae, binnekort sal die aarde vergaan en al die profesieë van Eségiël 38 en 39 voor ons oë afspeel. 

Hoe gaan ons as Christene met sulke bewerings om? Ons lees in die Bybel dat daar oorloë sal wees voor die Here kom, maar ons besef ook dat die mense waarskynlik al die die afgelope 2000 jaar dieselfde bewerings maak met elke nuwe oorlog of vlaag van vervolging. 

Hierdie artikel poog om agtergrond te gee oor die rol van Iran in die eindtye, en hoe ons met sulke voorspellings en teksuitlegte te werk kan gaan. 

Iran in die Bybel

Dit is duidelik vanuit die Bybel dat die volke wat in die huidige Iran geleef het, inderdaad ‘n belangrike rol in die geskiedenis van die volk Israel gespeel het en ook ‘n rol speel in baie apokaliptiese profesieë. 

In die tyd voor die ballingskap was Iran verdeel onder Meders, Perse en Elamiete. Mens lees gereeld in profesieë van hierdie volke. Nadat die Babiloniese Ryk die superkrag in die bekende wêreld geword het, het die Meders en Perse beheer oorgeneem. 

Kores, die uitverkore kneg van die Here, wat sy volk weer terug sou stuur na Juda, was ‘n Pers – “So sê Kores, die koning van Persië” (Esra 1:2-3, AFR53). Ander bekende Medo-Persiese konings was Darius (Daniël 6:1) en Ahasvéros (Ester 1:1-3). Beide speel ‘n belangrike rol in Bybelverhale. 

Ons kom ook die Elamiete meerdere kere in die Bybel teë, meestal as vyande van God se volk. Elam was in die suide van Iran net bo die Persiese golf geleë. Jeremia 49 is ‘n hoofstuk vol profesieë oor hoe God die volke rondom Israel gaan straf. Dit sluit profesieë oor die Ammoniete, Edomiete, Damaskus, Arabië en Elam in. God sê: “Ek sal my troon in Elam vestig, en sal koning en vorste daaruit tot niet maak, spreek die Here. Maar aan die einde van die dae sal Ek die lot van Elam verander, spreek die Here.” (Jer 49:38-39, AFR53). 

Die tweede helfte van Daniël, gedeeltes van Nehemia, asook die boek Ester speel af in die provinsie Elam van die Persiese Ryk (die vesting Susan was in Elam geleë). 

Geskiedenis van Iran

Met die agtergrond van Iran in die Bybel in gedagte, is dit nou nuttig om na die geskiedenis van Iran te kyk. 

Soos reeds genoem, het Jeremia voorspel (597 v.C.) dat Elam verslaan en verstrooi sou word, maar later sou groei in mag (Jer 49:34-39). Die profesie is vervul toe Elam in 596 v.C. deur Babilon verslaan en verstrooi is. Kores die Grote het egter die Elamiete en Meders saam met die Perse verenig, en in 539 v.C. het hulle die Babiloniërs verslaan en die nuwe wêreldryk geword. Met hierdie oorwinning is ook Jesaja se profesie vervul: “Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Medië! Aan alle gesug maak Ek 'n einde.” (Jesaja 21:2, AFR53).

Uiteindelik het Alexander die Grote ‘n einde aan die Persiese Ryk gebring toe hy omstreeks 331 v.C. die Perse verslaan het. Daarmee saam is die profesie van Daniël 8 vervul. Hierna verdwyn Persië (Iran) vir ‘n tyd uit die Bybelgeskiedenis. 

Van 312 v.C. tot 15 v.C. is hulle regeer deur die Seleukiede, 247 v.C. tot 224 n.C. deur die Parters, 224 n.C. tot 651 n.C. deur die Sassaniede. Gedurende die eerste eeu voor Christus tot die derde eeu na Christus was Persië onder Romeinse invloed en van die vierde tot die sewende eeu onder Bysantynse invloed. In 636 n.C. is die gebied oorgevat deur die Moslems, en tot vandag toe is Iran onder Moslem beheer. Die staat van Iran is in 1501 gestig. Tydens die 1979 Iranse rewolusie is die toenmalige regering, wat goeie bande met die Weste gehad het, omvergewerp en is die Islamitiese Republiek van Iran gestig. Iran is huidiglik ‘n Islamitiese Teokrasie met Ayatollah Ali Khamenei as die Opperleier. 

Dit bring ons by vandag. Volgens die GFP indeks het Iran in 2025 die sestiende sterkste weermag (net na Israel en Duitsland). En Iran is bitter vyande van Israel. Al vir jare lewe die twee volke met baie spanning wat telkemale weer opvlam. Iran het Israel tot aartsvyande verklaar en Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het al herhaaldelik verklaar dat Iran Israel se grootste bedreiging is. Dit gee Israel dan ook volgens hom die reg om Iranse weermagsposte en uranium-verrykingsaanlegte aan te val, of wetenskaplikes en generaals te vermoor. Iran skiet op sy beurt gereeld missiele na Israel en ondersteun verskeie Jihadiste groepe, soos Hesbolah en Hamas, met finansiële en militêre hulp teen Israel. 

In Junie 2025 het hierdie dekadelange konflik ‘n nuwe hoogtepunt bereik toe Israel verskeie Iranse teikens gebombardeer het en Iran met ‘n hewige vlaag missiele gereageer het. 

Eségiël 38 -39

Dit is in die lig van hierdie konflik wat heelwat voorspellings oor Iran en die eindtye na vore gekom het. Eségiël 38-39 is een van die gewildste tekste wat aangehaal word as ‘n profesie wat in vervulling gaan. Dit is die profesie van Gog en Magog wat met hulle bondgenote teen Israel in opstand sal kom. 

Magog word gesien as Rusland. In vers 5 en 6 van Eségiël 38 lees mens wie Rusland se venote in die groot stryd sal wees: “Perse, Kusiete en Putéërs saam met hulle, almal met skild en helm; Gomer en al sy leërs, die huis van Togárma, in die uithoeke van die Noorde, en al sy leërs — baie volke saam met jou.” (AFR53) Dit is inderdaad ‘n klomp volke uit die Islamitiese lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika (sien kaart). 

Signs of the Times - Ezekiel 38-39 War of Gog and Magog and Armageddon
Figure 1: Tipiese voorstelling van die volke in Esegiel 38-39

Wat staan ons te doen met sulke voorspellings en profesieë? Dit is duidelik dat Iran ‘n rol speel in baie profesieë in die Bybel. Sommige van die profesieë kan nie verklaar word met geskiedkundige gebeurtenisse wat reeds in die Bybel vervul is nie. Dit is dus belangrik om dit nie dadelik af te wys of as onwaar te verklaar nie. Daar is egter ‘n paar belangrike dinge om in gedagte te hou:

  1. Wanneer die Bybel oor die laaste dae praat, verwys dit dikwels nie na ‘n paar jaar voor Christus se terugkoms nie. Dit is meestal ‘n verwysing na die tyd tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms. Ons lewe nou al in die laaste dae/eindtyd. 
  2. Oorloë en aardbewings is tekens van die tye, maar dit kom gereeld voor. Vandag is oorloë dalk op ‘n groter skaal as voorheen, maar ons ervaar self dalk oor die algemeen meer vrede as ons voorgeslagte. Wie ookal die geskiedenis bestudeer, kom al gou agter dat die mensdom byna altyd nog in oorloë gewikkel was. 
  3. In Jesus se Profetiese rede is sy grootste waarskuwing nie om op te pas vir oorloë, vervolging of natuurrampe nie, maar eerder vir die baie valse Christusse (Mattéüs 24:1-28). Ons fokus moet dus nie op die tekens van die tye wees nie, maar eerder daarop om waaksaam te wees, gereed vir Sy koms met genoeg olie vir ons lampies (Mattéüs 25: 1-13).
  4. Die wêreld hou ons dop. Ons is die eerste front van getuies van wié God is. Dit kan skadelik vir God se Naam wees as daar allerhande voorspellings gemaak word, oor die toekoms en wat God gaan doen, en dit dan nie gebeur nie. God het nie die fyn besonderhede aan ons bekend gemaak nie. As ons meer probeer sê as wat God aan ons geopenbaar het, staan ons die kans om totaal verkeerd te wees. Die wêreld sal kyk, die heidene sal lag en God se Naam sal skade ly. 
  5. Laastens, en dit sluit aan by die vorige punt, weet ons nie wanneer Jesus weer sal kom nie. Die Bybel is duidelik dat dit onverwags sal wees, net soos in die tyd van Noag (Mattéüs 24:37-39). Mense sal gewoon besig wees met hulle lewe. As die tekens solank vooruit baie duidelik sal wees, sal ons dit mos verwag. Daar is wel tekens, maar deur die hele geskiedenis wat ons waarsku dat ons altyd gereed moet wees om voor ons Maker te verskyn. “MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” (Mattéüs 24:36, AFR53)

Hierdie punte verklaar nog nie wanneer Eségiël 38 en 39 in vervulling sal gaan nie. Maar ons kan wel seker wees van die uitkoms. In Eségiël 39 vers 4 en 5 lees ons dat die Here beslis die oorwinning sal behaal: “Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is; aan die roofvoëls van allerhande vere en aan die wilde diere van die veld het Ek jou as voedsel gegee. Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE” (AFR53). 

Ons lees nie net wat die uitkoms is nie, maar ook wat die doel hiervan is: “Ek sal my heilige Naam bekend maak onder my volk Israel en sal my heilige Naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal weet dat Ek die Here is, die Heilige in Israel” (vers 7, AFR53). Wanneer hierdie ook al gebeur, is die doel dat God se Naam geheilig sal word en dat die hele wêreld sy Naam sal leer ken. Deur God se genade mag dit nou al gebeur. In Handelinge 2:9-11 lees ons alreeds dat “Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frígië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere” onder die eerste bekeerlinge was, na die uitstorting van die Gees. Dit gee nie om hoe die politieke speelveld lyk nie, ook in ons tyd versamel God vir Hom kinders uit alle volke, tale en nasies - Jode, Iranese, Chinese, Russe en Afrikaners. 

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp