Hoe weet ek wat my gawes is? En hoe kan ek dit gebruik in die gemeente?

In die kerk word daar gereeld gepraat oor gawes. Wanneer jy jou geloof bely, bely jy ook om jou gawes te gebruik. Maar wat is jou gawes werklik?

Hoe weet ek wat my gawes is? En hoe kan ek dit gebruik in die gemeente?
Photo by Nagesh Badu / Unsplash

In die kerk word daar gereeld gepraat oor gawes. Wanneer jy jou geloof bely, bely jy ook om jou gawes te gebruik. Maar wat is jou gawes werklik? Jy mag dalk dink dis jou talente, soos sport of jou stokperdjies. Alhoewel dit ook van God kom, is dit nie noodwendig gawes nie. Gawes is geestelike gawes wat God skenk met ‘n baie spesiale doel, naamlik om God en sy gemeente daarmee te loof en te prys, tot eer van God se koninkryk. 

 In 1 Korinthiërs 12 lees ons dat almal verskillende gawes ontvang het uit dieselfde Gees - “Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees” (vers 4). Daar is ook verskillende bedieninge, maar tog is dit dieselfde Here (vers 5). Almal kry verskillende gawes, soos kennis, genadegawes van gesondmaking (versorging van siekes), die vermoë om te profeteer, die uitleg van tale (verkondiging van die evangelie) (verse 7-11). Gawes kan wyd strek - van jou werk as voorsitter van ‘n komitee, kosmaak vir ‘n lidmaat tot bystand verleen tydens ‘n moeilike tyd. As ‘n ware gelowige sien ander die vrug van die Gees in jou gedrag en voorkoms, en met jou gawe verkondig jy die Woord met ‘n gesindheid wat die vrug van die Gees weerspieël. 

Hoe weet ek wat my gawe is? Jou gawe gaan jy nie noodwendig dadelik weet nie. Dit is soos saad wat groei: jy groei en so ook jou geloof en daarin ontdek jy jou gawe. Dit sluit ook aan met wat Paulus vir Timόtheüs sê: geniet jou jonkheid. Groei en ontdek en gebruik dit dan om God en sy koninkryk daarin te dien. Jy moet jouself keer op keer ondersoek en nadink oor wat jou gawes is en daarin groei. Efesiërs 4:12 gee ‘n rede vir die verskillende ampte of gawes: “Om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk.” Die gelowiges moet nou toegerus word vir hulle diens binne die kerk. Die Woord staan sentraal in hierdie opleiding.

Hoe gebruik ek dit in die gemeente? In Romeine 12:5 staan daar: “So is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar.” ‘n Liggaam kan net ten volle funksioneer as almal saamwerk, maar ook elkeen afsonderlik. So ook werk ons saam as diensknegte in God se Koninkryk tot opbou van sy gemeente, maar ook elkeen afsonderlik met sy of haar gawes. Ons sien ook as voorbeeld in Nehemia 3, met die opbou van Jerusalem, hoe almal saamgewerk het, maar ook elkeen afsonderlik. 

Ons moet daarop gerig wees om al die verskeidenheid gawes in die gemeente te gebruik, vir een doel, naamlik die opbou van Christus se Koninkryk. Paulus dui ook aan in 1 Korinthiërs 12 hoe belangrik dit is om die genadegawes wat lidmate ontvang het, raak te sien en dit ook te gebruik. 

Ons lees in Romeine 3:27 dat jy nie moet roem in jou eie dade nie. Dit mag dalk klink of dit beter is om liewers niks te doen. Om eerder passief te wees in my godsdiens en te waak teen eie roem. Die Bybel leer ons egter dat ons lewens offers kan wees wat God aanvaar tot sy eer. Ons kan weet dat ons lewens en gawes sinvol is as ons werklik ons self prys gee tot God se eer. Hierin leer ons dat ons, ons gawe gebruik om God te eer en nie vir eie roem of om mense te eer nie. ‘n Gawe mag ook nooit gebruik word op ‘n wyse wat teenstrydig met die Bybel is nie. 

Laat ons nou almal, jonk en oud, ons gawes gebruik tot die eer van God en Christus se koninkryk. Laat ons ook ‘n seën vir ander wees en mekaar ondersteun in ons diensplig as gelowiges en as gemeente - tot opbou van die Hemelse Koninkryk.

Geskryf deur Inamarie Kamphuis, VGK Maranata