Hoe vier jy Kersfees hierdie jaar?

Die strate is versier met feestelike liggies. Die winkels is vol kranse en ornamente. En in die middel van dit alles staan ‘n groot kersboom met geskenkies en Kersvader wat elke kind se droom waar kom maak. Oral is mense wat gesellig saam kuier in hierdie vakansie-atmosfeer.

Hoe vier jy Kersfees hierdie jaar?
Photo by Mel Poole / Unsplash

Geskryf deur Nanette de Jong, VGK Maranata

Die strate is versier met feestelike liggies. Die winkels is vol kranse en ornamente. En in die middel van dit alles staan ‘n groot kersboom met geskenkies en Kersvader wat elke kind se droom waar kom maak. Orals is mense wat gesellig saam kuier in hierdie vakansie-atmosfeer. 

Dit klink vir ons bekend, nie waar nie? Dalk is hierdie spesifieke beeld nie te bekend in Suid-Afrika nie, maar ons ken hierdie tradisies al te goed. Hoe reageer ons hierop as Christene? Volg ons hierdie tradisies blindelings na of soek ons na wat God in sy Woord aan ons openbaar hieroor? Maak ons die ware Geskenk van Kersfees oop of bly ons net ons aardse geskenke oopmaak?

Wat leer die Bybel ons oor feesviering?

Ons vind op verskeie plekke in die Bybel voorbeelde van geskenke gee en ook die opdrag daarvan. Een van hulle vind ons in Ester 9 : 22 “as die dae waarop die Jode rus gekry het van hulle vyande, en die maand wat vir hulle van kommer in vrolikheid en van rou in 'n feesdag verander is — dat hulle daar dae van maaltyd en vrolikheid van moes maak en om mekaar lekkernye en aan die armes gawes te stuur.”  Mordegai gee die opdrag aan die Jode, na die dag wat ingestel is om die Israeliete uit te roei en die Here hulle die oorwinning gegee het, om elke jaar 2 dae af te sonder om fees te vier en geskenke vir mekaar te gee. So kon hulle herdenk dat God hulle van die dood verlos het. En die geskenke gee is nie net aan jou naaste familie en vriende nie, maar veral aan die wat minder geseënd is, fisies maar ook geestelik. Ons vind hierdie opdrag ook weer in Jakobus 1 : 27 wanneer hy sê dat ‘n rein en onbesmette godsdiens voor God juis is om die wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos van die wêreld te bewaar. As ons goed kyk na Mordegai se opdrag sal ons sien dat die opdrag ook is om die fees doelbewus te beplan om so aan hulle feestelikheid ‘n Christelike karakter te gee. Dit was nie net sommer enige fees nie!

Mens sou ‘n parallel kan trek na wanneer ons Kersfees vier. Is dit iets waarvoor jy doelbewus beplan om seker te maak dat jou huis die Christelike karakter dra? Is dit iets waar jy fees vier omdat jy ook van die dood verlos is deur Christus wat na die aarde gestuur is net soos wat die Israeliete van die dood verlos is?

Waaroor gaan Kersfees vir die gelowige? 

Dis ‘n maklike vraag sou ons kon dink – Christus is na die aarde gestuur om ons te verlos en daarom moet ons fees vier. Maar besef ons werklik waaroor dit hier gaan? God stuur Sy Eniggebore Seun na die wêreld vol sonde en ellende, om mens te word en ons van al hierdie te verlos – ja, om ons te verlos van die ewige dood! Christus is die grootste Geskenk van God aan ons – Hy het arm geword sodat ons deur Hom ryk kan word. Ons is vrygemaak. Ons mag nou aangeneem word as Sy kinders en dan mag ons ook die ewige lewe beërwe net soos ‘n ware kind van Hom wat deel mag hê in Sy Vader se erfenis (1 Petrus 1:4). In Sy oorvloed van genade en barmhartigheid kom doen Hy wat ons nooit sou kon doen. Ons fokus moet wees op die grootste Geskenk wat aan ons op Kersfees gegee is en op die Gewer van hierdie groot Geskenk. Die doel van Kersfees is om Hom te aanbid en te dank vir hierdie genade. 

Mag ons dan ons kinders van Kersvader leer? 

Daarop is ‘n duidelike antwoord : Nee. Die wêreld het Kersvader in die plek van Christus kom sit. Kersvader bied aardse geskenke aan met die voorwaarde dat jy ‘n goeie kind moes wees die afgelope jaar (goeie werke). Christus gee vir ons geskenke van ewige waarde, Hy bied ons die ewige lewe en dit alles uit genade. Kersvader is slegs ‘n opgemaakte storie, maar Christus is meer werklik as enigiets op aarde. Kersvader daag net een keer ‘n jaar op, maar Christus is altyd met ons soos Hy ons belowe in Mattheus 28 : 20. Kersvader is net iets in ‘n paar kulture, maar Christus is Koning van die konings en Here van die here. Kersvader kan nie ons grootste probleme oplos nie terwyl Christus ons grootste probleem, die sonde, oorwin het dat ons skoon voor God kan staan. En laastens is Kersvader net tydelik, maar Christus is ewig. Hoe sal ons dan ons kinders van Kersvader leer as daar Iemand soveel groter en heerliker is vir hulle? 

Ons moet ons kinders hierin begelei om hul blydskap in Christus te vind veral op Kersfees. Want wanneer ons hulle leer van Kersvader, word Christus as die bron van ons vreugde uit die prentjie gehaal. Ons huise moet die karakter hê van feestelikheid om so ook ons kinders te leer om hul harte gefokus te hê op Christus.

Watter plek het die erediens op Kersfees in ons feesviering?

Die versoeking is egter werklik vir ons as Christene om die Kersseisoen op dieselfde manier as die wêreld te vier. Eugene Viljoen vra in sy artikel “Kersfees met ‘atmosfeer’” op Christelike Media of dit nie eintlik geestelike armoede is wanneer ons feesviering rondom Kersfees vorm kry in dit wat ons nie mag doen nie. Is ons nie juis ryk wanneer ons die Bron van ons vreugde in die middelpunt plaas nie (2 Korinthiërs 8:9)? Romeine 10:17 beskryf die geloof as iets wat uit die gehoor kom. En kersvreugde is iets wat uit die gehoor kom. Dink maar aan die herders in die veld waar die Engele die boodskap van groot vreugde kom bring het (Lukas 2:10). Dis uit die gehoor! Ons is geseënd om elke Kersfees ‘n erediens te mag hê om ons harte te fokus op die ware Geskenk van Kersfees, want ons feestelikheid by die huis word juis aangesteek deur die feestelikheid in die erediens. En net soos in die erediens, waar die boodskap en betekenis van Christus se geboorte sentraal is, so moet dit ook by die huis wees. 

Hoe kan ons dan as Christene Kersfees vier? 

Ons moet eers onsself vra of Christus sentraal staan in ons tradisies en feestelikheid. Boots ons slegs die wêreld na met Kersfees liggies, geskenke, Kersliedere en ornamente of volg ons Christus na en vier ons met blydskap die geboorte van ons Verlosser? Ons tradisies moet alle eer aan God bring soos wat ons geleer word in 1 Korinthiërs 10 : 31 dat alles wat ons doen, tot verheerliking van God moet wees. In ander woorde moet dit wees uit dankbaarheid en om Hom alleen daardeur te dien. Ons moet Kersfees vier met die besef dat die ware Geskenk van Kersfees is dat God sy Seun gestuur het na die aarde. Ons mag by die huis ons kinders oplei in die besef van die ware Geskenk van Kersfees, ons mag by die kerk dit ook saam met ander gelowiges vier in ‘n erediens en ons mag ook uitreik na die wat minder geseënd is om almal saam fees te vier met die fokus op ons Verlosser. 

Ons vier weer binnekort Kersfees, maar kom ons vra onsself weer hierdie Kersfees af of Christus sentraal staan in ons feesviering en feestelikheid. Of verlei ons tradisies ons van die ware waarde van Kersfees? Dalk is dit dan tyd om te herevalueer en te bekeer? Maak ons die ware geskenk van Kersfees oop?

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp