Hoe om ons christelike waardes uit te leef in ons daaglikse lewe

‘n Goeie boom dra goeie vrugte. Hoe is dit vir ons as Christene van toepassing in ons daaglikse doen en late? Doen ons dit elke dag?

Hoe om ons christelike waardes uit te leef in ons daaglikse lewe
Photo by Tim Johnson / Unsplash

Geskryf deur Ronél Wibbelink, GK Die Kandelaar

‘n Goeie boom dra goeie vrugte. Hoe is dit vir ons as Christene van toepassing in ons daaglikse doen en late? Doen ons dit elke dag? Jesus Christus sê in Mattheus 7:16-17: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie. So dra elke goeie boom goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.” Hoe is dit van toepassing op ons? 

Jesus het vrugte as ‘n eienskap van ons Christelike beeld gebruik. ‘n Beeld waaraan ander mense kan sien dat ek ‘n Christen is. ‘n Mens verwag tog ‘n appel van ‘n appelboom en nie ‘n suurlemoen nie? Net so moet mense rondom my nie twyfel of ek ‘n Christen is nie, maar aan my vrugte sien dat ek ‘n gelowige is. 

Wat is die vrugte wat ‘n gelowige dra? 

Die vrugte van ‘n gelowige is die vrug van die Gees, soos beskryf in Galasiërs 5:22-23.

  1. Liefde
    Mattheus 22:37-39 leer ons dat die eerste en grootste gebod is dat jy die Here jou God moet liefhê met jou hele hart, siel en verstand. Jesus Christus stel die tweede groot gebod hieraan gelyk, naamlik dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Hoe lief het jy jouself? So lief dat jy enige iets sal doen om jouself teen seer en swaarkry te beskerm. Net so moet jy vir jou naaste lief wees. Onvoorwaardelike, onselfsugtige liefde wat ander mense se welstand bo jou eie stel.
  2. Blydskap
    So maklik kan dit wat in ons lewens gebeur (persoonlike lewe of by die werk) bepaal hoe ons vandag voel. Met blydskap as ‘n vrug van die werking van die Heilige Gees in my lewe, mag ek met diep innerlike blydskap elke dag aanpak, ongeag die omstandighede.
  3. Vrede
    As jy na die definisie van vrede in die woordeboek gaan kyk, is dit ‘n toestand van stilte en harmonie. ‘n Toestand sonder gevegte of oorloë. Maar in Johannes 14:27 kom ons agter dat dit iets is wat God aan ons skenk. Wêreldse vrede is oppervlakkig en onbetroubaar, maar die vrede van God gaan dieper en is nie afhanklik van omstandighede nie. Dit beteken dat ek elke dag moet vertrou op die plan wat God vir my het en daarom kan ek met vrede elke dag tegemoetgaan.
  4. Lankmoedigheid
    Om lankmoedig te wees kan soms moeilik wees, veral as ons dink dat dit slegs beteken om geduldig en toegewend te wees, om baie te verdra en nie gou kwaad te word nie. Alhoewel dit alles waar is, mag ons nie toelaat dat dit waarin ons glo as niks afgemaak word onder die dekmantel van lankmoedigheid nie. Ons moet geduldig luister, alles in afhanklikheid van God beoordeel en ander rustig en sonder woede hanteer.
  5. Vriendelikheid
    Vriendelikheid sluit by Mattheus 22:39 aan, waar daar staan dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. 
    In teenstelling met die bitterheid, woede, geskreeu, lastering en boosheid van Efesiërs 4:31, leer vers 32: “Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar, vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” Dit sluit in om genadig en barmhartig te wees en om ander met liefde en respek te behandel.
  6. Goedheid
    Elkeen van ons wil graag hê dat ander ons as goeie mense moet sien. Goedheid is dat ons goeie sedelike waardes moet hê en sonder enige slegtheid moet wees. Tog sê Prediker 7:20 dat daar geen mens op aarde is wat regverdig is en nie sonde doen nie. Daarom moet ons elke dag bid vir die gawe van goedheid. ‘n Goeie persoon soek altyd na maniere om ander te help en goeie dinge vir hulle te doen.
  7. Getrouheid
    Van nature is getrouheid nie in ons nie. Ons is leuenagtig en onbetroubaar. Getrouheid in die Bybel is verbind met die gedagte van onwankelbaarheid en vastheid. Jou ‘ja’ moet ‘ja’ wees en jou ‘nee’, ‘nee’. Ander moet op jou kan staat maak en jy moet in alles wat jy doen eerlik en opreg wees.
  8. Sagmoedigheid
    Die betekenis van Bybelse sagmoedigheid word vir ons duidelik in die volgende aanhaling van W Barclay: “Iemand wat sagmoedig is, staan sterk waar God se belange aangetas word, maar weet ook om terug te staan wanneer dit oor sy eie belange gaan. Iemand is sagmoedig wanneer hy altyd op die regte tyd toornig raak, en nooit op die verkeerde oomblik nie.”  
  9. Selfbeheersing
    Romeine 7:19 sê: “want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.” Selfbeheersing kan beskryf word as ‘n mag of ‘n krag. ‘n Mag of krag waarmee jy jou emosies en begeertes kan beheer en waarmee jy jou gedagtes, woorde en dade bedwing. Dit gee jou immuniteit teen sonde in jouself en in die wêreld. Hierdie mag of krag in ons lewens kan niks anders as die werking van die Heilige Gees wees nie.

Ten slotte, uit onsself kan ons nie ons Christelike waardes uitleef in ons daaglikse lewe nie. Ons leef in totale afhanklikheid van God, wat deur die Gees vir ons die krag gee om goeie vrugte te dra. Daarom moet ons bid vir die vrug van die Gees. 

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp