Hoe om ‘n aktiewe Christen te wees.
Om ‘n aktiewe Christen te wees, verg meer as om net op ‘n Sondag een of twee keer kerk toe te gaan. Inteendeel, die Bybel vertel ons dat mense gedurig moet streef daarna om soos Christus te wees en vernuwe te word deur sy werke.
Om ‘n aktiewe Christen te wees, verg meer as om net op ‘n Sondag een of twee keer kerk toe te gaan. Inteendeel, die Bybel vertel ons dat mense gedurig moet streef daarna om soos Christus te wees en vernuwe te word deur sy werke. Ons Christelike lewens moet vol geloof, gehoorsaamheid, liefde, diensbaarheid en groei wees.
Dit begin alles met ons verlossing.
Om verlos te word deur Christus, word daar van ons gevra om te glo dat Hy Koning is en uit die dood opgestaan het - soos Johannes 3:16 vir ons vertel. Hierdie selfde stelling word in Romeine 10:9-10 en Efesiërs 2:8-9 aan ons weergee met dieselfde boodskap: Glo en jy sal gered word. Nie “maak seker jy doen genoeg goeie werke sodat jy gered kan word” nie. Paulus stel dit baie duidelik in sy brief aan Efese wanneer hy skryf: “Nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie,” sodat ons verseker kan wees dat ons deur geloof alleen gered word.
Duidelik neem dit dus nie veel moeite of aktiwiteit van ons om ‘n Christen te wees nie. As my werke my nie red nie, hoekom sal ek dan die moeite doen?
Hoekom sal ek dan die moeite doen?
‘n Duidelike pandemie wat deesdae se generasies tref, is luiheid. As ‘n aktiewe selfoongebruiker, is dit maklik om te sien hoe dié toestel ons lewens oorneem. Op soek na ‘n vertaling van ‘n woord? My foon kan my help. Wat was die naam van daardie blonde aktrise nou weer? My foon kan my help. Om in ‘n woordeboek op te soek is te veel moeite; dit is tog op my selfoon. Om ‘n bankkaart saam te neem is te veel moeite; dit is op my foon. Om ‘n Bybel saam te neem kerk toe is te veel moeite; dit is tog op my foon…
Skerms neem ons lewens oor en stel ons tot risiko om onaktief te wees. Dit is gerieflik om ‘n skerm in die kerk te hê, maar skep dit nie ook die geleentheid vir deelnemers om onaktief te raak nie? Hierdie hele artikel kon deur ChatGPT geskryf wees, en niemand sou weet nie. Die idee van alles moet maklik en gerieflik wees, anders is dit nie die moeite werd nie, werk presies teen wat Christus ons leer in Sy Woord. Christus sê dan vir ons dat die Christelike weg deur die nou poort is en die pad smal is (Matthéüs 7:13-14), en dus nie ‘n eenvoudige of maklike pad om te neem nie. Moet ons as Christene nie daarom streef na ‘n bedrywige, flukse lewe nie, sodat ons seker is dat ons op die smal pad bly? Spreuke 12:24, Spreuke 13:4, en Spreuke 19:15 waarsku ons teen luiheid, maar Kolossense 3:23 vertel ons eintlik hoekom ons moet werk: “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir die mense nie.” Alles moet ons doen vir die Here.
Hoekom sal ek dan die moeite doen?
Gehoorsaamheid. God vra van ons om Hom lief te hê bo alles (Matthéüs 22:37-38). Ons is immers sy skepsels en kinders en uit die liefde van sy hart, het Hy ons verlos van die ewige dood. Sal ons Hom daarmee bedank deur Hom te haat en teen sy wil in te gaan? God verdien ons liefde en ons kies die dood. Ons verdien die dood, maar God kies liefde.
Hoe kan ek dan vir God lief hê? Kies God daagliks - bo alles. Bo akademie, bo werk, bo die mense rondom jou. Dit sluit in bybelstudies en katkisasies bo skoolaktiwiteite en werk. Gehoorsaam God deur sy gebooie na te kom. ‘n Maklike manier om God se gebooie te onderhou, is om deur aktief na hulle te luister. Nie net weekliks elke Sondag nie, maar daagliks in jou eie huis. Lees deur die Bybel, neem notas en hoor wat God vir jou wil sê. Bid daaroor, praat daaroor met medegelowiges in die gemeenskap van die heiliges.
‘n Ander neiging wat deesdae na vore kom is die dien van die self. Ons kyk na films waar die hoofkarakter selde hulle eie geluk opoffer vir ander. Ons neem sosiale media in waar mense kla oor hulle eie regte, terwyl hulle niks tekortkom nie. Ons sien families wat skeur as gevolg van gretige ouers wat graag die beste vir hulself wil hê, ten koste van hulle gesin en kinders. Dit neem baie van ons as mens om aan ander te gee, maar hoeveel te meer het God nie aan ons gegee nie. Hoekom sal ek die moeite doen? Uit ‘n wêreldse perspektief sou ek sê dat ek nie gaan nie, want dit is puntloos. In hierdie wêreld word jou liefde nie terug uitgedeel nie, maar in Christus sal ek alles vir my naaste doen. Hy het my lewe gered van die duiwel se kloue. Hy het ons lief ten spyte van al die pyn. As ons daardie lig in ander kan sien, en bewustelik kan erken dat God na alle mense in liefde kyk, is die liefde die minste wat ek aan ander kan gee.
Ons weet dat God van ons vra om aktief ons Bybel te lees om Sy stem te hoor, te bid sodat Hy ons stem kan hoor en kerk toe te gaan om te leer en die gemeenskap van die heiliges te ondersteun, maar tog sukkel ons steeds daarmee. Is dit dan nie duidelik dat die probleem nie by kennis lê nie, maar eerder by ons verhouding met God? Die begin lê miskien by ons identiteit. Ons noem onsself Christene, so dus gaan dit oor ons. Dit is ons identiteit. Maar wat van Christus? Is Hy nie die hoogtepunt van ons lewe nie? Ons streef dalk nie na gehoorsaamheid nie, want ons identiteit lê in onsself, ons Christenskap. Maar wat van “in Christus”? Ek is in Christus. Ek sal kos bring vir my siek suster in die kerk, want ek doen dit in Christus. Ek sal jeug bywoon om my mede jeuglede te ondersteun, want ek doen dit in Christus. As Christus se identiteit die fokuspunt in jou lewe is, sal jou hart streef na Sy wil. Om “in Christus” te wees beteken dat Hy ons verenig as mense in sy dood, opstanding en lewe. En dan wil ons nog vra: “Hoekom sal ek dan die moeite doen?”
Aktiewe Christenskap verg nie groot en moeilike dinge nie, dit neem net ‘n gelowige hart, ‘n gehoorsame oor en ‘n flukse hand. Dit neem die krag om te kies tussen jou eie wil en God se wil. So kan ons na God se wil streef, mekaar in die gemeenskap van die heiliges ondersteun en werklik die koninkryk van God bou.
Hoekom sal ons dan die moeite doen? Want in Christus is ons verlos, en God se wil is ons doel.
Geskryf deur Lianne van Renssen, VGK Bellville