Hoe moet 'n Christen leef in die wêreld? Kan Christene “kuier” soos die wêreld?

In ’n wêreld wat vol van verskillende kulture en oortuigings is, kan dit soms moeilik wees vir ’n Christen om sy/haar pad te vind tussen al die verskillende waardes en verwagtinge.

Hoe moet 'n Christen leef in die wêreld? Kan Christene “kuier” soos die wêreld?
Photo by Tijs van Leur / Unsplash

Geskryf deur Brendan Aartsma, VGK Bellville

In ’n wêreld wat vol van verskillende kulture en oortuigings is, kan dit soms moeilik wees vir ’n Christen om sy/haar pad te vind tussen al die verskillende waardes en verwagtinge. Een vraag wat dikwels voorkom, veral soos wat ‘n mens deur hoërskool en universiteit begin beweeg, is of ‘n Christen kan deelneem aan die feesvieringe en samekomste van die sekulêre wêreld. Kan 'n Christen “kuier” soos die wêreld?

Jesus sê vir ons dat ons die Here ons God moet liefhê met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand. Wat hiermee gelykstaan is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Hy sê ook vir ons dat ons moet lewe volgens die leringe wat Hy vir ons gegee het in die Bybel. Met hierdie fondasie gee God vir ons ’n lig wat die pad vir ons sal wys oor hoe om om te gaan met jou keuses wanneer jy gekonfronteer word met die sekulêre samelewing.

Alhoewel die Bybel nie spesifiek “kuier” veroordeel nie, bied dit wel riglyne oor hoe ’n Christen homself in alle aspekte van die lewe moet gedra. In 1 Korintiërs 10:31 sê God vir ons: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.” Hierdie vers beklemtoon die belangrikheid van ’n lewe lei wat God verheerlik en eer met elke aksie wat jy doen en elke besluit wat jy neem. Ons word aangemoedig om ons gedagtes, woorde en dade te laat ooreenstem met God se wil.

Ons moet die dinge vermy wat in kontras is met Christus se leringe, soos buitensporige drankgebruik en immorele gedrag. Beteken dit dat ons glad nie mag kuier en na kuierplekke saam met al jou vriende gaan nie? Nee, stellig nie. God sê dat ons saam mag kuier en van drank geniet, solank dit nie teen die Christelike waardes is wat God vir ons in die Bybel leer nie.

Tog is ‘n mens in kuierplekke omring met ’n klomp dronk mense wie se gedrag nie ooreenstem met die Bybel nie. Hoekom sal jy jouself dan omring met sulke sondige dade? Word ons nie gesê om weg te bly van die sonde nie (Spreuke 4:15)?
As dissipels van Christus kan ons aksies en keuses ’n groot impak hê op die mense rondom ons. ‘n Mens sien net ’n Christen se lig skyn in die donker. Ons harte moet reg wees vir wanneer ons die sonde gaan teëkom, sodat ons in die oomblik die regte keuse kan maak wat aan God die eer sal gee.

Ons moet lewens leef wat die beeld van God reflekteer. Of dit by die kuier is en of dit by die huis is, waar jy ook al mag wees, moet jy streef daarna om God te verheerlik in alles wat jy doen. Dit beteken dat opofferings gemaak moet word, maar die beloning daarvoor is ewig. Paulus skryf in Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp