Hoe maak ek ‘n goeie besluit?

Twee deure in lewe gaan oop. Watter een kies ek as altwee die Naam van die Here verheerlik? Ons almal het al voor moeilike keuses in die lewe gestaan. Dit kan veral moeilik wees as beide opsies die Here verheerlik. Die vraag is egter of beide opsies werklik die Here ewe veel verheerlik.

Hoe maak ek ‘n goeie besluit?
Photo by Jametlene Reskp / Unsplash

Geskryf deur Lise van Renssen, VGK Bellville

Twee deure in lewe gaan oop. Watter een kies ek as altwee die Naam van die Here verheerlik? 

Ons almal het al voor moeilike keuses in die lewe gestaan. Dit kan veral moeilik wees as beide opsies die Here verheerlik. Die vraag is egter of beide opsies werklik die Here ewe veel verheerlik. Ons kan nadink oor watse opsie die Here die beste sal dien. 

Om ʼn goeie keuse te maak, moet jy God se wil verstaan. God openbaar sy wil in sy Woord, deur die Heilige Gees (Johannes 16:13, Psalm 119:105). Die besluite wat ons neem is ʼn refleksie van ons hart se begeertes. ʼn Vraag wat jy jouself kan afvra, is: “Kies ek hierdie opsie om myself of om God te behaag?” 

God sien ons prentjie in geheel. Hy ken ons verlede, hede en toekoms en Hy wil ons help om die regte besluit te maak (Psalm 32:8). God se wil gaan nie altyd die maklikste of lekkerste opsie wees nie, maar later sal ons besef dat dit tot ons voordeel strek (Psalm 119:67, Hebreërs 12:10-11). 

God seën die keuses wat ons in sy naam maak (1 Korinthiërs 10:31). Ons moet altyd na Hom toe gaan as ons keuses het om te maak (Jakobus 1:5). Ons moet vertrou dat God ons gebede antwoord (Jakobus 1:6-7) en dit is belangrik om dan geduldig te wag vir Sy wil om te geskied (Hebreërs 6:15). 

Prakties kan jy na jou belangstelling, gawes en talente kyk - balans en prioriteite is baie belangrik. Jy kan met mede gelowiges gesels en hulle menings vra of selfs jou ouderling nader en met hom daaroor gesels. Gebed is egter die belangrikste - soos wat jy deur die dinge worstel, sal die Here jou lei. 

Kyk na God se Woord vir rigting en vind vrede in sy raadsplan (Fillipense 4:7). Vra vir wysheid en vertrou dat Hy jou die pad sal wys (Spreuke 3:5-6). 

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp