Hoe kan ek heilig lewe?

Sondagoggend sit jy in die kerk en soos die wet van God gelees word, voel jy 'n diep inwerking daarvan in jou hart. Dit is nie net 'n teks wat jou herinner aan wat reg of verkeerd is nie; dit is 'n uitnodiging tot 'n lewe van heiligheid. Is dit hoe God wil hê ons ‘n heilige lewe moet betree?

Hoe kan ek heilig lewe?
Photo by JOHN TOWNER / Unsplash

Geskryf deur Kristen Visser, VGK Pretoria

Sondagoggend sit jy in die kerk en soos die wet van God gelees word, voel jy 'n diep inwerking daarvan in jou hart. Dit is nie net 'n teks wat jou herinner aan wat reg of verkeerd is nie; dit is 'n uitnodiging tot 'n lewe van heiligheid. Jy begin droom oor die veranderings wat jy in jou lewe kan aanbring om meer heilig en volgens God se Woord te lewe. Is dit hoe God wil hê ons ‘n heilige lewe moet betree?

Voordat ons aan ‘n heilige lewe kan dink, moet ons besef dat ons saligheid alleen in Jesus Christus te vinde is. Dit sluit nie net ons verlossing in nie, maar ook die proses van heiligmaking. Ons is nie in onsself heilig nie, maar word deur Christus heilig gemaak. "Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een" (Hebreërs 2:11, AFR53). Hierdie waarheid is die fondament waarop ons heiligheid gebou moet word.

Wat beteken dit om heilig te lewe? Heiligheid beteken om afgesonder te wees van sonde en boosheid. Dit beteken dat God, in sy volmaakte heiligheid, totaal anders as die wêreld rondom ons is. Wanneer Hy ons oproep om heilig te wees (Levitikus 20:7), is dit ‘n oproep om te lewe in ooreenstemming met sy wil en standaarde. God het Israel, sy uitverkore volk, spesifieke regulasies gegee om hulle van die ander nasies te onderskei. Hy wou hê hulle moes 'n lewende getuienis van sy heiligheid wees, sodat die wêreld kon sien dat hulle aan Hom behoort.

Wanneer Petrus ons aan hierdie roeping herinner in 1 Petrus 1:16, praat hy spesifiek met gelowiges. Ons moet afgesonder van die wêreld wees en ons lewens moet ‘n getuienis van God se genade en heiligheid wees. Dit beteken dat ons glad nie soos die wêreld kan lewe nie. Ons moet duidelik wys dat ons heilig en God se kinders is. 

Wat is dan God se standaard? Dit is ‘n strewe na perfeksie. Ons, as sondige mense, verdien die ewige dood. Toe Christus egter ons sondes op Hom geneem het en aan ons sy saligheid gegee het, het ons ook heilig geword.

Uit dankbaarheid vir wat Christus vir ons gedoen het, streef ons daarna om sy insettinge te volg, al weet ons dat ons dit nie volkome kan regkry nie. Ons lewens moet 'n refleksie wees van ons dankbaarheid, 'n bewys dat ons God se wette nie net ken nie, maar dat ons daarvolgens leef. Soos ons hierdie pad van heiligheid stap, moet ons nie vergeet dat ons nie alleen is nie. Ons het die Heilige Gees om ons te lei en te ondersteun in elke stap wat ons neem. 

Hoe kan ek dus 'n heilige lewe lei? As ons regtig heilig wil (en moet) lewe, is dit belangrik om te weet wat God van ons vra en verwag. Om dit te weet, moet ons God leer ken. Hoe doen ons dit? Deur die Bybel te bestudeer en in gebed in gesprek met Hom te bly. Die Bybel lei ons dikwels in hoe om te lewe. In 2 Korinthiërs 7:1 staan: "Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring." (AFR53)

Ons gaan struikel in ons pogings om 'n heilige lewe te lei, omdat ons sondige mense is. Ons kan egter vertroos word deur die wete dat God ons help in ons swakheid. Hy gee aan ons die Heilige Gees, wat Christus aan ons openbaar en ons bemagtig om sy wil te doen. Soos Filippense 2:13 sê: "Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae." (AFR53) Wanneer ons aan die Gees oorgee, word ons vrugbare Christene wat 'n oes oplewer wat vir God aangenaam is (Galasiërs 5:22-23).

As gevolg van God se groot barmhartigheid, behoort ons onsself as lewende offers aan Hom op te offer. "Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer " (Romeine 12:1, AFR53). Eendag wanneer ons in die hemel is, sal ons vry wees van sonde en die gevolge daarvan. Tot daardie dag "vestig ons ons oë op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof" en volhard ons in die wedloop wat voor ons lê (Hebreërs 12:2, AFR53).

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp