Hoe hanteer ek mense wat laster?
In ʼn wêreld waar slegs 31% van die populasie nog as Christene identifiseer, is dit amper onmoontlik om mense wat laster te vermy. Die kans is groot dat u dalk self al in so ʼn situasie geplaas is en onseker was oor hoe om dit op die regte wyse te hanteer.
Geskryf deur Klarize van Alten, VGK Kaapstad
In ʼn wêreld waar slegs 31% van die populasie nog as Christene identifiseer, is dit amper onmoontlik om mense wat laster te vermy. Die kans is groot dat u dalk self al in so ʼn situasie geplaas is en onseker was oor hoe om dit op die regte wyse te hanteer.
Die vraag wat ons eerste moet vra is: Wat presies is laster? Die derde gebod, vanuit Exodus 20:7, is duidelik oor wat die wet sê – “Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.” (AFR53). ʼn Verdere verklaring kan gevind word in Levítikus 22:32: “En ontheilig my heilige Naam nie…” (AFR53). Dit wys gevolglik vir ons dat laster nie bloot sekere woorde of terme is nie, maar enige spraak wat die Here se heilige Naam oneer aandoen. Daarom is die omvang van laster baie wyd en kan soms moeilik wees om te identifiseer. Om dit baie eenvoudig te stel, vra jouself af: “Word die Here se Naam hierdeur verheerlik of verneder?” Meestal weet ons wat die antwoord is, maar ons is nie bereid om dit te erken nie omdat dit ʼn verantwoordelikheid op ons plaas. Dus moet ons begin deur te erken wanneer iets nie ter ere van God se Naam is nie.
Hoe behoort ons te reageer?
In die tweede plek is dit belangrik om te besef dat nie alle reaksies op mense wat laster ewe effektief sal wees nie. Vanuit ʼn konserwatiewe oogpunt mag u dalk dink dat dit ons plig is om die persoon oombliklik aan te spreek oor hierdie sonde. Dit is egter nie noodwendig altyd die geval nie. Daar is ʼn regte tyd en manier om so iets te doen. In sekere gevalle, waar dit dalk ʼn vriend is, kan dit noodsaaklik wees om te wag totdat die vriendskap ʼn meer persoonlike punt bereik het. Op daardie stadium het albei partye waarskynlik al meer respek vir mekaar opgebou, en is daar ʼn groter kans dat die vriend jou gevoelens en geloofsuitkyk in ag sal neem. In ander gevalle is dit dalk meer effektief om die persoon direk aan te spreek. In elk geval is dit belangrik om nie die tipe situasie as verskoning te gebruik om jou reaksie uit te stel nie. Wees eerlik met jouself oor wat werklik aangaan en hoe dit op die beste hanteer kan word.
Die regte houding is noodsaaklik
Buiten vir die tydsberekening van jou reaksie, is dit ook uiters belangrik om mense met die regte houding aan te spreek. Deur aanvallend of neerhalend te wees, gaan die persoon heel waarskynlik hulle rug op jou draai. Dit is nie net ons plig om mense in daardie gevalle aan te spreek nie, maar ook om dit in liefde en respek te doen. Om dít te bereik is dit eerstens belangrik om te besef dat ons self ook sondige mense is. Net omdat ons dalk self nie laster nie, beteken dit nie ons is beter as díé wat wel laster nie. Ons moet dus nie iemand teregwys met die doel om beter te voel oor onsself nie, maar eerder uit liefde vir ons medemens. Dus, om dit vanuit daardie oogpunt te doen behoort ons reaksie van nature respekvol te wees.
Elkeen wat deur die genade van God in Christus besef wie hierdie God is, sal dit ook aan ander wil oordra. Dit vra wysheid vir elke situasie, want dit moet ons strewe bly om altyd eer aan God te gee.
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp