Hoe ervaar ek God se nabyheid?

Onthou, dit is Ek self wat jou hierdie opdrag gee: wees sterk en vertrou My met alles in jou! Moenie vir iets of iemand skrik of bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou waar jy ook al gaan.

Hoe ervaar ek God se nabyheid?
Photo by Liana S / Unsplash

Hoe om God se nabyheid te ervaar:

"Onthou, dit is Ek self wat jou hierdie opdrag gee: wees sterk en vertrou My met alles in jou! Moenie vir iets of iemand skrik of bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou waar jy ook al gaan." - Josua 1:9 (Die Boodskap)

Daar is 'n sekere vrede wat ‘n mens omhels as jy in die teenwoordigheid van God leef. 'n Rusgewende vertroue wat die leiding neem, en weer-en-weer ‘n bewys is van God se grootheid en goedheid. In 'n wêreld, waar oorgang, verlies, roeping en 'n onbekende toekoms swaar weeg, beveel die Here Josua om te streef na 'n lewe van krag en moed. Nie uit sy eie selfvertroue of roekeloosheid nie, maar uit gelowige trou. Vroeër in die boek van Josua sê God vir hom om die wet te gehoorsaam, daarop te mediteer, en nie daarvan weg te draai nie. Die Bybel wys keer op keer dat ‘n mens se eie krag onvoldoende is, en dat leiding, oorwinning, vrede en transformasie deur God se teenwoordigheid kom. Maar hoe pas mens dit in die praktyk toe?

'n Nederige sewentiende-eeuse Christelike monnik, bekend as ‘Brother Lawrence’, het geleer om God se teenwoordigheid in die mees gewone alledaagse dinge te beoefen — dat die siel op enige oomblik en in enige omstandigheid kan hunker na die geselskap van God. Hy het die grootste deel van sy lewe bestee aan praktiese werk soos skottelgoed was en skoene herstel. Sodoende het hy ontdek dat selfs eentonige take, dade van aanbidding kan word wanneer dit gedoen word in liefde en bewuste gemeenskap met God.

"Lord of all pots and pans and things…
Make me a saint by getting meals
And washing up plates!"

‘Brother Lawrence’ se verhouding met God was so sterk, dat sy daaglikse take, soos skottelgoed, getransformeer het in ‘n formele gebed. Die grondslag van die geestelike lewe is die teenwoordigheid van God! Dit is nie opsioneel nie. Dit is nie in hokke verdeel of aan 'n plek gebonde nie. Om God se teenwoordigheid te ervaar is 'n daaglikse, deurlopende oefening wat gewortel is in bewustheid, herinnering en verhouding. ‘Brother Lawrence’ het blymoedig gewys dat:

"There is not in the world a kind of life more sweet and delightful than that of a continual conversation with God."

Ons beoefen bewustheid deur 'n voortdurende gesprek met God. Gebed is nie beperk tot formele tye nie. Praat met Hom dwarsdeur die dag oor eerlike, pynlike en wonderlike dinge! 'n Voortdurende gesprek met God is 'n herinnering aan Sy teenwoordigheid — nie om Hom naderby te bring nie, want Hy is reeds teenwoordig, maar 'n besef dat Hy nader is as wat ons dink, en altyd naby bly.

"Die offer van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig." (Spreuke 15:8)

Diegene wat in nederige eerlikheid voor God bid — in hulle het die Here 'n welbehae! 'n Eenvoudige, gefluisterde gebed terwyl jy skottelgoed was, mag God meer behaag as grootse, uiterlike godsdiens wat sonder liefde gedoen word. Dit is eenvoudig: erken Sy teenwoordigheid deur kort gedagtes, gebede en erkennings gedurende die daaglikse lewe. Gewone take, huishoudelike werk, verantwoordelikhede — dit alles word geestelik wanneer dit vir God gedoen word. Die wonderlikste lewenswyse is om gewone dinge suiwer uit liefde vir God te doen.

Soos die Here Josua beveel het: wees moedig en vertrou. Ontwikkel die gewoonte om aan God te dink. Die lewe word 'n gebed — 'n bewustheid van God se teenwoordigheid. En daarmee saam kom diepe vreugde, vryheid en fokus. Die soet en heerlike vreugde van 'n lewe van voortdurende gesprek met God. 'n Vryheid van vrees, want jy is elke dag in Sy teenwoordigheid. En 'n fokus op God, sodanig dat die lewe geleef word asof daar niemand anders is as God en ek nie.

Die altyd-teenwoordige nabyheid van God is die grootste geluk wat mens kan ervaar. Om Sy teenwoordigheid te ervaar is 'n eenvoudige, maar doelbewuste daad van bewustheid, gesprek, herinnering en daaglikse oefening.

"We ought not to be weary of doing little things for the love of God, who regards not the greatness of the work, but the love with which it is performed."

God se teenwoordigheid is altyd beskikbaar!

Geskryf deur Julia en Mariska de Wit, VGK Bellville