Groei in die Vrees van die Here!

Dink jy dat selfbeeld belangrik is? Vertel jy leuens om jouself te bevoordeel? Of is jy bang om op te staan vir Christus? Dit is alles diep en persoonlike vrae, maar met een tema in gemeen: vrees.

Groei in die Vrees van die Here!
Photo by Gilly Tanabose / Unsplash

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata

Dink jy dat selfbeeld belangrik is? Vertel jy leuens om jouself te bevoordeel? Of is jy bang om op te staan vir Christus?

Dit is alles diep en persoonlike vrae, maar met een tema in gemeen: vrees. Mense rondom ons kan afgode vir ons wees. Hulle beheer hoe ons dink, hoe ons voel, en hoe ons reageer. Ons vertel leuens waar ons voel dis “nodig” of om ander mense se guns te wen. As Christus se naam in die publiek onteer word, is ons nie bereid om daarvoor op te staan nie.

Kan jy “vrees vir die mens” in jou eie lewe identifiseer? Is jy meer goedgunstig teenoor ryk of intelligente mense (mense met skynbaar meer “mag”) as “gewone” mense, net om hulle goedkeuring te kry? Kyk jy neer op mense en is jy dan dankbaar dat jy nie soos hulle is nie (Lukas 18:9-14)?

Wanneer ons die mens vrees, span dit vir ons ‘n strik (Spreuke 29:25). Petrus het vir Jesus drie maal verloën toe hy buite by die vuur gesit het. Hy het tot so ver gegaan om te sê “ek ken die Man nie” (Matthéüs 26:72). Petrus, die dissipel wie se naam “rots” beteken, verloën sy Verlosser voor ‘n diensmeisie wie waarskynlik onskuldige vrae gevra het. In retrospeksie skryf Petrus later in sy eie brief: “Wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie? Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie.” (1 Petrus 3:13-14).

Die keuses van die lewe word in Jeremia 17 in twee kategorieë verdeel: die vertroue op die mens en die vertroue op God. Die Here vervloek die man wat op die mens vertrou, maar seën die man wat op die Here vertrou (Jeremia 17:5-8). Net soos die Here Jeremia stuur, stuur Jesus ook sy dissipels na die uithoeke van die wêreld en bemoedig hulle om nie te vrees vir die dood van die aardse liggaam nie (Matthéüs 10:28). As jy vertrou op God, wat kan ‘n mens doen (Psalm 56:12)?

Wat keer ons dan om slegs die Here te vrees en nie mense nie? Ons het drie doodsvyande: die bose geeste, die wêreld, en ons eie sondige vlees. Die weerstand teen die vrees van die Here begin by ons sondige vlees: ons fokus eerder op ons aksies as op ons houding. Jy het vandag redelik min sondes gedoen: jy het niemand spesifiek doodgeslaan of iets by iemand gesteel nie. Dit skep die indruk dat jy oor die algemeen okay is. Ja, van tyd tot tyd doen ons slegte dinge, maar daarvoor vra ons God om vergewing. As ons oor die algemeen ‘n goeie persoon is, dan word die vrees van die Here minder relevant.

Vrees van die Here in die Ou Testament

In die Ou Testament sien ons hoe belangrik die vrees van die Here is: die sondvloed is ‘n vertoning van God se geregtigheid, die Here verwar mense wat ‘n toring tot in die hemel probeer bou, en Moses het sy gesig bedek uit vrees vir God se aangesig by die brandende doringbos (Exodus 3:6).

Nadat God aan Abram beloof het dat hy tot ‘n groot nasie gemaak sal word, was hy en Sarai oppad na Egipte vanweë hongersnood. Abram was bang dat sy lewe in gevaar sou wees omdat die Egiptenaars vir Sarai sou neem en hom doodmaak (Genesis 12). Later in sy lewe het Abraham weer Sara as sy vrou ontken omdat hy Abimeleg gevrees het (Genesis 20). Wanneer mense groot is vir Abraham, is die God van Abraham (Handelinge 3:13) klein. Toe Abraham op die punt was om Isak te offer, keer die Engel van die Here tot Abraham en sê “want nou weet Ek dat jy God vrees” (Genesis 22:12) — ‘n ware toets van Abraham se geloof.

Vrees vir die mens was ook duidelik in Jakob toe hy van Esau gevlug het, maar die Here laat hom nie in die steek nie. Hy openbaar sy wonderbaarlike glorie aan Jakob in ‘n droom en deur te worstel met hom (Genesis 28:21, 32:24-31). Ons ken ook die Stoeier in uiterse eerbied en ontsag, want elke knie sal buig in die Naam van Jesus (Fillipense 2:10).

God het neergedaal op die berg Sinai met vuur, rook, bewing en die geluid van die basuin (Exodus 19:16-19). Die volk het gebeef. Wat was die uitkoms van dit alles? Twee kliptafels. Twee eenvoudige kliptafels mag dalk onderweldigend klink, maar dit vertoon God se heilige karakter. Hy beskerm bedruktes en armes, haat onregverdigheid, is vol van genade, en is vergewingsgesind. God red Israel, ‘n klein en verdrukte nasie, en sê vir hulle: “Ek is die Here julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig” (Levitikus 11:44). Soos die Israeliete sidder ons uit vrees vir God en sy wette (Psalm 119:120).

Wat is die vrees van die Here?

Die boek Spreuke laat die vrees van die Here aangenaam klink vir elke mens: diegene vrees niks anders (19:23), dit bring lewe (10:27), dit is ‘n toevlug (14:26), dit is ‘n fontein van die lewe (14:27), en dit bring eer (22:4). Hoe lyk die vrees van die Here? Die vrees van die Here haat wat sleg is (Spreuke 8:13). Om die Here te vrees beteken nie net om Hom te loof en te prys nie, maar ook om die sonde te haat, want daaruit leer ons eerbied en respek vir God.

Jesaja was eerbiedig onderdanig aan God, maar daarmee saam sou hy verwerp word deur sy eie volk en daagliks in die versoeking staan om eerder die mens te vrees as God. Die Here openbaar sy glorie aan Jesaja (Jesaja 6:1-2). Op die punt was Jesaja seker dat hy sou sterf vanweë sy onreinheid voor God se teenwoordigheid, maar God heilig hom — die vrees van die Here reinig en bring lig in die donker. Wanneer ons voor die Allerheiligste staan, voel ons skaam soos Adam en Eva en bang soos Moses en Jesaja, want ons sondige natuur word ontbloot. God ken ons sondige natuur en Hy deurgrond die diepste kamers van ons hart (Psalm 139), maar deur God se genade is sy teenwoordigheid vir ons gerustellend (Jesaja 40:11) en ‘n veilige skuilplek (Psalm 91).

Ons kan die vrees van die Here ook deur sy natuur leer ken. God het die aarde geskep en gesê dit was goed (Genesis 1:31). Die Drakensberge, die Tuinroete, die Wildtuin, en jou tuin: God het gesê dit is goed! Ons kan die glorie van God rondom ons vind: die wolke herinner ons aan sy teenwoordigheid (Exodus 19:9), die winde is sy boodskappers (Psalm 104:4), die sterrehemel verkondig die werk van sy hande (Psalm 8:4 en Psalm 19:2), en die hemele loof sy wondermag (Psalm 89:6). Kan jy die wolke beveel dat dit reën (Job 38:34)? Of, kan jy besluit wanneer die son opkom (Job 38:12-13)? God se skepping laat ons klein voel sodat ons saam met Job sê: “Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond.” (Job 39:37).

Net soos God se skepping wonderbaarlik is, is die boek Markus vol verwondering oor Jesus se werk op aarde. Die skare het hulle verwonder oor die baie tekens en wonders wat Jesus gedoen het, maar dit het nie altyd beteken dat hulle tot geloof gekom het nie. Verwondering is goed, maar verwondering moet lei tot geloof en geloof moet lei tot aksie. Die skepping en God se voorsienigheid is sigbaar vir beide gelowiges en ongelowiges oor die hele wêreld, maar sonder geloof is verwondering tydelik en oppervlakkig.

Wanneer ons meer tyd in die teenwoordigheid van God spandeer, bring dit ons lewe in perspektief, ‘n perspektief gevestig in die Woord. Bring die vrees van die Here jou op jou knieë? Sny die tien gebooie jou hart (Hebreërs 4:12) en bring dit troos terselfdertyd? Net soos ek en jy moes persone in die Bybelse tyd ook die vrees van die Here leer ken. Ons mag in gebed vra dat God ons sy vrees leer ken. Net dan kan ons die wêreld ingaan as oorwinnaars in Christus, vry van die vangnet wat die voëlvangers gespan het (Psalm 124:7), en oppad na die ewige weg (Psalm 139:24)!

Geïnspireer deur hoofstuk 1-7 van “When People are Big and God is Small” deur Edward T. Welch.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp