God se Wil vir Gemende Huwelike

1 Korinthiërs 7 handel oor die huwelik. Die gemeente van Korinthe was omring deur ‘n heidense samelewing waar losbandigheid en egskeiding as algemeen aanvaar was. Dus rig hulle ‘n aantal vrae aan Paulus, met betrekking tot die huwelik en egskeiding. 

God se Wil vir Gemende Huwelike
Photo by Anna Hecker / Unsplash

Geskryf deur Wian Bouwmeester, VGK Maranata

1 Korinthiërs 7: 10 & 12:

10  ”En aan die getroudes beveel ek — nie ek nie, maar die Here — dat die vrou nie van die man moet skei nie”
12   “Maar vir die ander sê ek — nie die Here nie — as enige broeder 'n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie”

1 Korinthiërs 7 handel oor die huwelik. Die gemeente van Korinthe was omring deur ‘n heidense samelewing waar losbandigheid en egskeiding as algemeen aanvaar was. Dus rig hulle ‘n aantal vrae aan Paulus, met betrekking tot die huwelik en egskeiding. 

Vandag sien ons steeds die dwaling en verdraaiing van die huwelik wat deur God ingestel is. Die alledaagse samelewing vandag toon geen afwyking van die heidense lewenspaaie soos beskryf in 1 Korinthiërs 7 nie. Die fokus draai om my, en God se Woord geld nie in my huwelik as ek nie baat daarby vind nie. 

In Matthéüs 19: 3 tot 9 lig Jesus kernbeginsels uit ten opsigte van die huwelik wanneer Hy met die Fariseërs praat. Hulle vra hom: “Is dit ‘n man geoorloof om oor allerande redes van sy vrou te skei?”.  Jesus antwoord daarop en sê dat die man sy ouers sal verlaat en sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees wees (vers 5) . Verder antwoord hulle hulle ook “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (vers 6) en “Maar ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou pleeg egbreuk.” (vers 9)

Die huwelik is dus nie net ‘n blote kontrak nie, maar ‘n heilige verbond voor God. Egskeiding mag nie gesien word as ‘n ‘uitweg’ nie. Jesus se woorde in Matthéüs 19 is ‘n goeie vertrekpunt vir 1 Korinthiërs 7.  Paulus skryf spesifiek aan getroudes in reaksie op hul vrae. Daar is ‘n aantal verse in die Bybel wat ons waarsku teen ‘n huwelikssluiting tussen ‘n gelowige en ongelowige, maar hoe nou as ek reeds getroud is en my man of vrou dwaal dan van die Skrif af?

In vers 10 maak Paulus duidelik dat sy woorde ‘n direkte bevel van God is, en nie net persoonlike raad nie.  Die vrou mag nie van haar man skei nie, en as sy wel doen moet sy ongetroud bly of haar weer versoen met haar man. Net so mag die man nie sy vrou wegstuur nie.  Maar hoe kan 'n gelowige een vlees wees met 'n ongelowige?

Vers 12 is Paulus se eie woorde. Maak dit sy woorde minder gesagvol? Nee, hy is ‘n apostel van Christus, geïnspireer deur die Heilige Gees. En ons glo immers dat die hele Skrif deur God gegee is tot lering en onderwysing(II Timótheüs 3:16).  Christus het dus net nie self direk oor hierdie situasie gepraat nie. Die situasie: ‘n gelowige is getroud met ‘n ongelowige. Moet die gelowige skei? Paulus sê: nee, as die ongelowige bereid is om saam te bly, mag daar nie geskei word nie. 

Hier kom die roeping tot getuienis na vore. Die gelowige leef as lig in die huis en die Here kan deur hom of haar die ongelowige huweliksmaat en kinders heilig. Die huwelik bly ‘n plek van heiliging.

Kom ons vat weer ‘n stap terug. Gestel die man is gelowig en die vrou is ongelowig, en hy wil skei, dan mag hy nie. Hy moet bly as sy tevrede is om saam te woon, maar indien hulle  wel skei, bly hy nog gebonde aan haar en mag hy nie weer trou nie.  As die ongelowige vrou wil skei is die man nie meer gebonde aan haar nie (vers 15). Hierdie verse bring natuurlik baie vrae na vore, maar ons moet onthou om na Christus te kyk. Wanneer ons die huwelik betree, doen ons dit om die liefde van Christus en Sy bruid (die kerk) aan die wêreld te toon. Jesus het nooit van Sy bruid geskei nie. Hy het haar agtervolg, skoon gewas, en haar afgesonder om haar te heilig. So mag ‘n gelowige nie net sy ongelowige huweliksmaat wegstuur nie, maar moet hy of sy trou bly aan die verbond voor God.

God het die huwelik so ontwerp dat ons heilig kan word. Dit is nie eerstens vir jou geluk nie.  As jy op jou huwelik staatmaak om altyd gelukkig en tevrede in die lewe te wees, moenie trou nie, want jou man of vrou sal nooit die las kan dra wat net Christus kan dra nie. Paulus belig vir ons die beeld van Christus se liefde vir Sy kerk. Genade vloei van Hom na ons toe. ‘n Gesonde verhouding met ons naaste vloei uit ‘n gesonde verhouding met God.

Die Here bly altyd getrou, selfs wanneer ons struikel. Daarom kan ons ook bid vir sy krag om getrou te bly in die huwelik. 

9 Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. 10 Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar 'n tweede is om hom op te tel. 11 Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word? 12 En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en 'n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.
- Prediker 4:9-12

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp