Onvoorwaardelike Uitverkiesing (Dordtse Leerreëls 1)
Die uitverkiesing en voorbeskikking is ʼn moeilike onderwerp. Hoe kan God net sommige mense uitverkies en nie ander nie? Is dit regverdig teenoor die wat nie uitverkies is nie?
Hierdie is deel 2 van die Dordtse Leerreëls reeks "Meer van God, minder van my"
Lees: Efesiërs 1:1-14
Ons kyk in hierdie reeks van oordenkings na die Dordtse Leerreëls. Dit word uitgelê deur die TULIP akroniem, maar in die volgorde van ULTIP. Vandag behandel ons die eerste punt:
- Unconditional Election (DL Hoofstuk 1)
- Limited Atonement (DL Hoofstuk 2)
- Total Depravity (DL Hoofstuk 3)
- Irresistible Grace (DL Hoofstuk 4)
- Perseverance of the Saints (DL Hoofstuk 5)
Die titel van die hoofstuk is “God se Voorbeskikking”. Daarna volg 18 paragrawe oor die uitverkiesing en voorbeskikking voordat daar nog 9 paragrawe is waarin die Sinode die dwaalleer van Arminius verwerp het en ons ook leer wat die Bybel daaroor leer.
Die uitverkiesing en voorbeskikking is ʼn moeilike onderwerp. Hoe kan God net sommige mense uitverkies en nie ander nie? Is dit regverdig teenoor die wat nie uitverkies is nie? Hulle het nie eens ʼn kans gekry nie. Gaan die uitverkiesing nie mense lui maak - die feit dat mense weet dat hulle uitverkies is? Hierdie is moeilike vrae en vrae waarmee baie van ons worstel. Kom ons kyk in die Bybel na wat God sê oor die uitverkiesing en voorbeskikking.
Ons lees in Romeine 8:29-30: “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” God het alreeds geweet wie die mense is wat Hy uitverkies het. God lei die mense se lewens tot verheerliking in Hom. Hy roep hulle en regverdig hulle.
In Efesiërs 1:4-6 lees ons: “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.” Hier leer Paulus ons dat die Here al voor die skepping geweet het wie Hy uitverkies het. Maar ook in die deel, lees ons dat God ons voorbeskik het “na die welbehae van sy wil”. Dit leer ons dat die basis van die uitverkiesing in God se wil gevind word.
Hierdie word nog verder geleer in 2 Timotheüs 1:9-10, waar ons lees dat God “wat ons gered en geroep het met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is, maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie”. Weereens lees ons dat God al van ewigheid af mense uitverkies het vir sy glorie. Dit wys God se soewereiniteit, dat Hy al van ewigheid weet en nie dat Hy net gou ʼn plan moes maak na die sondeval nie.
So hoe hanteer ons die vrae oor regverdigheid van uitverkiesing? Ons moet versigtig wees om ons eie opinies en die van die wêreld in te bring voordat ons nie geluister het na wat God vir ons in sy Woord geopenbaar het nie. God openbaar nie die uitverkiesing aan die begin nie. Ons lees eers oor die skepping, die sondeval, die begin van ons verlossing, van die sonde en die verbond. Na al hierdie lees ons eers oor die uitverkiesing. Eers in Deuteronómium 7:7-8 lees ons oor die uitverkiesing toe God vir Moses gesê het dat Hy vir Israel uitverkies het, nie omdat hulle so goed was nie, maar eerder uit God se liefde.
Die Nederlandse Geloofsbelydenis volg ook hierdie volgorde. Die skepping in paragraaf 12 tot 14, die sondeval in paragraaf 14 en 15 en dan eers die uitverkiesing in paragraaf 16 en 17. Jy vra dalk nou, maar hoekom is die volgorde belangrik? As ons eers kyk na die uitverkiesing en dan na die res, is ons geneig om te dink dat God onregverdig is om net ʼn paar mense te red en ander nie. Maar as ons die volgorde van die Bybel volg dan kan ons sien dat God die aarde perfek en sonder sonde geskape het. Dan moet ons kyk hoe ondankbaar ons was en wat ons aan God gedoen het, hoe diep ons Hom seergemaak het deur ons val in sonde. Ons het die duiwel gekies bo ons hemelse Vader wat alles perfek vir ons gedoen het. As ons uit dié oogpunt kyk, dan het God alle reg om ons te los in ons sondes en ewige verdoemenis. Maar deur die uitverkiesing wys God sy volmaakte liefde aan ons. Hoe verstommend is dit nie dat God al van ewigheid af ons wat teen Hom gerebelleer het, gekies het om aan te neem as sy kinders!
Ons lees in paragraaf 7 ʼn opsomming van die leer van die uitverkiesing: “Hierdie uitverkiesing is ʼn onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ʼn sekere aantal mense uitverkies. Hierdie mensdom het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende.”
Arminius het aan die ander kant geleer dat God voor die skepping al vooruit in tyd gekyk het en ’n paar ‘goeie’ mense gesien het wat in Hom sou glo. En met die kennis het God hulle uitverkies. Hierdie leer is “uitverkiesing op grond van vooruitgesiene geloof” genoem. Die groot fout in die leer is dat God sy keuse baseer op mense en nie in Homself nie. Dit maak God kleiner en mense en hulle keuse groter. Dit gaan direk teen wat ons gelees het in Efesiërs 1.
Hierdie leer sou maak dat ons niks sekerheid kon hê oor ons uitverkiesing nie. As ons ʼn “dip” vang in ons geloof, dan gaan ons groot onsekerheid hê of ons gered is. Christus is ons sekerheid! In die leer van uitverkiesing staan Hy sentraal (Ef 1:4-6). As ons vertrou dat God, in Christus, ons uitverkies het, kan ons in tye van sukkel en depressie na Hom kyk en in geloof hoop en vertroue kry dat God ons nooit sal verlaat nie. Kom ons plaas biddend ons vertroue in God alleen. Want in Hom vind ons sekerheid en verlossing!
Lees Verder
- Romeine 8:29-30
- 2 Timotheüs 1:9-10
- Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1
Gebed
Here, ons kom voor U as sondige mense. Ons verdien nie om U kinders genoem te word nie. As ons verlossing van onsself afhang, sou ons nie daar kom nie. Here ons dank U vir u liefde en u perfekte raadsplan. Help ons om te leef soos u kinders uit dankbaarheid. Amen.
Coram Deo
Die Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 leer ons volle vertroue in God se soewereiniteit. God het ons uitverkies en gered, nie omdat ons so goed is nie, maar omdat Hy in liefde mense wou red.
Bronnelys
- Bouwman, C. (2018). Background to the Canons of Dort. In C. Bouwman, God's Glorious GODness (ble. 1-31).
- Vliet, J. V. (2016). Election: God's Decision to Adopt. In J. V. Vliet, Growing in the Gospel Volume 1 (pp. 139-155).
- Book of Praise
Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata