Globale Resessie - maak dit saak?
Die term ‘globale ekonomiese resessie’ is een waarmee ons weer bekend geword het in die begin van van die 21ste eeu. Wanneer ons nuus hoor van ‘n globale resessie is dit slegte nuus – die wêreld word armer.
Geskryf deur Albert van der Linden (ajvdlinden144@gmail.com), VGK Kaapstad
Die term ‘globale ekonomiese resessie’ is een waarmee ons weer bekend geword het in die begin van die 21ste eeu. Wanneer ons nuus hoor van ’n globale resessie is dit slegte nuus – die wêreld word armer. Dikwels dink ons dit hoort in dieselfde asem as wat Jesus ons leer in Matteus 24 oor die eindtyd: “en julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.” Maar wat is ’n globale ekonomiese resessie eintlik?
Die definisie van ’n ekonomiese resessie is: die afname in die waarde van ekonomiese produksie vir twee opeenvolgende kwartale¹. Met ander woorde is dit wanneer fabrieke minder produseer, besighede minder produkte en dienste verskaf, beleggers minder investeer, verbruikers minder geld bestee, en regerings minder projekte loots. Vir ’n ekonomiese resessie om globaal te wees, moet die totale waarde van ekonomiese produksie in die wêreld afneem vir ’n periode van ten minste 6 maande. ’n Resessie is nie noodwendig globaal nie, dit is meestal op ’n nasionale vlak.
Die grafiek hieronder dui aan wat oor die jare gebeur het met die verandering in globale ekonomiese produksie sedert 1990. Rooi kolomme dui aan wanneer daar globale resessies was: in 2009 en in 2020. In 2009 was dit as gevolg van die bankwesekrisis wat ontstaan het in die VSA en versprei het na die res van die wêreld. Dit het veroorsaak dat minder geld vir investering beskikbaar was, wat gelei het na laer produksie. In 2020 het regerings regoor die wêreld ‘n beleid van fisiese inperking geïmplementeer om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Die inperkings het verhoed dat mense werk toe kon gaan om goedere te produseer en dienste te verskaf.
So hoekom maak dit saak? Wat is die werklike implikasies van ’n globale resessie? Verlaagde ekonomiese produksie lei (tipies) tot ’n afname in winste en rykdom. Besighede het minder of kleiner ekonomiese geleenthede om hul produkte of dienste te verkoop. En daarom is daar ook minder werksgeleenthede. Dit is moeiliker vir jongmense om die werksmag te betree en mense met gevestigde loopbane – soos ons ouers – word dikwels afgedank.
In die hedendaagse strewe na die maksimalisering van welvaart is die afname in ekonomiese produksie ’n krisis. Die mens meet sy sosiale waarde aan hoeveel geld hy relatief tot sy naaste het. Dit is nie ’n nuwe verskynsel nie. Ons swakheid vir Mammon se verleiding was nog altyd daar. Wat wel besonders van ons tyd is, is hoe baie krediet individue uitneem om verbruikersgoedere te koop. Die Nasionale Kredietreguleerder van Suid-Afrika beraam dat 42% van die 23 miljoen kredietaktiewe Suid-Afrikaners nie hul krediet op ’n volhoubare basis sal kan terugbetaal nie. Goedkoop krediet gedurende tye van ekonomiese welvaart kan ’n groot versoeking wees om te leen om verbruikersgoedere te koop – goedere soos TVs, meubels, karre, huishoudelike toestelle en digitale produkte. Wanneer daar dan ’n tyd van ekonomiese resessie volg, kan dit moeilik word om daardie skuld terug te betaal.
Wat beteken dit vir ons as Christene? Ons mag lewe in die sekerheid dat ons Hemelse Vader vir ons sal sorg. Jesus leer ons dit met die bekende woorde van Matteus 6 vers 25: “Moenie julle kwel oor jul lewe nie – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie.” Al hoor ons nuus oor ekonomiese resessies en krisisse, mag ons weet dat die Here vir ons sal sorg. Maar in daardie selfde hoofstuk leer Jesus ons ook in vers 19 en 20: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, sal julle hart ook wees.” Ons moet tevrede wees met die daaglikse brood wat ons van ons Hemelse Vader ontvang, en dankbaar wees vir die hulpbronne en goedere wat Hy vir ons skenk.
¹ - Ekonomiese produksie word deur middle van Bruto Binnelandse Produk (BBP) gemeet.
Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp