Pornografie - Die sonde waaroor niemand praat nie

Die meeste terme in Google se soekenjin het te doen met pornografie. Pornografie het ons samelewing diep binne gedring en dit is seker een van die duidelikste maniere hoe die Satan in ons tyd

Pornografie - Die sonde waaroor niemand praat nie
Photo by Ryoji Iwata / Unsplash

Hierdie artikel is ‘n verwerking van ‘n sprekersaand gelei deur Ds. Pieter Boon.

Die meeste terme in Google se soekenjin het te doen met pornografie. Pornografie het ons samelewing diep binne gedring en dit is seker een van die duidelikste maniere hoe die Satan in ons tyd dit regkry om God se gawe van seksualiteit met sonde te bevlek.

Die gevaar

Pornografie is nie ‘n onbekende term nie, maar besef ons nog wat dit werklik is?

As ons pornografie as ‘n sonde volgens die tien gebooie moet klassifiseer, sal die meeste van ons sê dis sonde teen die sewende of tiende gebod. Tog dink ek vir baie mense voel dit soos ‘n “laer klas” sonde. Pornografie is in baie gevalle ‘n geheime sonde, een waarvan niemand anders as net jyself weet nie. Dit voel minder erg as byvoorbeeld verkragting of buite egtelike verhoudings. Hierdie ander seksuele sondes het moontlik swaar implikasies, byvoorbeeld ongewenste swangerskap of seksueel oordraagbare siektes. Pornografie kan, in teenstelling, soos ‘n “veilige” sonde voel. Maar besef ons die werklike implikasies?

In Kolossense 3:5 lees ons: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is”. Die woord wat in Grieks vir hoerery gebruik word is “porneia”. Pornografie en die seksuele begeertes wat dit ontlok is direkte hoerery. Die Here Jesus self leer immers vir ons:

Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” (Matteus 5:27-28)

Dit is belangrik om te besef dat sonde nie net sonde is wanneer dit alreeds gedoen is nie. Nee, ons weet God sien ons hart en lees ons gedagtes. Voor God is dit net so veel hoerery om ‘n vrou te begeer as om werklik die daad te doen. Jesus is baie ernstig oor hierdie saak, lees maar sy oproep in die verband:

“As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.” (Matteus 5:29)

Pornografie se doel is om seksuele gevoelens en begeertes te stimuleer en te prikkel. Dit is uiters gevaarlik en kan selfs ons ewige lewe kos. Ruk liewer jou oog uit, as om in hierdie sonde te val, dis beter om met een oog in die Koninkryk in te gaan as met beide oë in die hel.

Dit is belangrik om te besef dat alhoewel pornografie hoofsaaklik visueel uitgebeeld word, dit ons ook in ander vorme kan bereik. Dink aan musiek en boeke.  Woorde kan so eksplisiet wees dat dit dieselfde begeertes in ‘n mens kan ontlok. Dit is nie net sonde om pornografie te kyk nie, maar ook om “pornografie” te luister of te lees. Kortom waak teen enige impulse wat se doel is om seksuele begeertes buite die huwelik aan te wakker.

Laastens is pornografie verslawend. Net soos dwelms en alkohol ‘n uitwerking op die liggaam het, het pornografie ook ‘n uitwerking op die liggaam en gees. As gevolg van ons sondige natuur begeer ons keer op keer weer die uitwerking daarvan. Net soos met enige ander verslawing, kort jy meer gereeld ‘n sterker dosis om weer die “high” te beleef. Petrus waarsku ons in 2 Petrus 2: 19b dat “waar 'n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook 'n slaaf geword”. Jesus het Sy bloed gestort om ons vry te koop van die slawerny van die sonde, ons mag onsself nie aan die slawerny van pornografie verkoop nie.

Wat as ek ingesuig is?

Dit is belangrik om te besef dat pornografie nie net verkeerd is wanneer jy verslaaf is nie. Die daad en begeerte is verkeerd. Tog kom die ernstige konsekwensies meestal eers saam met verslawing. Jy sal weet dat jy verslaaf is wanneer jy afhanklikheidspatrone of gedragspatrone begin ontwikkel.

Wat gemaak as jy in die kloue van pornografie vasgevang is? Jou geheue bly steeds by jou, dit wat gesien is kan nie ongesien gemaak word nie. Dit kan selfs die lewe in die toekoms ernstig kompliseer en ‘n ernstige impak op verhoudings hê.

Die eerste stap van genesing is om te besef dat jy iets makeer. Erken dat dit wat jy doen sonde is en dat dit jou verhoudings beskadig. Dit is die kritiese beginpunt van herstel.

Vra vergewing vir bewuste en onbewuste sondes. Herinner jouself dat die HERE ook werklik vergewe. As jy besef dat jy in die eerste plek voor God staan en val, sal jy bewus wees dat selfs al weet niemand van jou binnekamer sondes nie, God sien alles. Jy het in die eerste plek teen Hom gesondig - vra Hom om jou te vergewe.

Ook al is jy vergewe, bly jy dikwels wel die gevolge van sondes uit die verlede dra – dis ’n onderdeel van die gebrokenheid van die lewe. Jy sal daarmee moet leer lewe. Iemand wat sy een been in ‘n ongeluk verloor het, kan nie bly lewe asof hy nog steeds twee bene het nie, dan sal hy aanhoudend bly val. Iemand wat deur pornografie ingesuig is en ‘n fase in sy lewe gehad het dat hy/sy daaraan verslaaf was, sal aanpassings moet maak.

Iemand met een been moet leer vorentoe kom met slegs een been, dalk met hulpmiddels soos ‘n kruk of ‘n kunsbeen. Iemand met ‘n pornografie-verlede sal veral mentale oefening moet doen, om te sorg dat die geheue van daardie verlede nie meer die hede en toekoms beïnvloed nie. Dink aan Efesiërs 4:17-24 en Romeine 12:1-2.

Vir hierdie kognitiewe herprogrammering sal jy hulp moet vra, dis nie maklik nie. Vra hulp om te voorkom dat jy in die toekoms weer terugval in pornografiese gewoontes. Bou “checks and balances” in jou lewe in, juis omdat pornografie so vrylik beskikbaar is. Ook al soek jy nie daarvoor nie, een of ander tyd gaan dit weer aan jou opgedring word.

Identifiseer en benoem potensiële risiko situasies, risiko plekke, risiko mense/vriendskappe. Werk konkreet, moontlik met ander se advies, ‘n stappeplan/protokol uit vir elkeen van hierdie risiko situasies in jou lewe.

Dra jou probleem op aan die Here. Bid vir krag om die verslawing te oorkom. Hy is getrou en kan uitkoms gee:

“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1 Korintiërs 10:13-14)

‘n Paar links na hulpbronne word ook hieronder gelys:

Hierdie hulpbronne is verkry van ‘n eksterne bron.  Die Redaksie van die Olielamp het dit nie uitgetoets of die boeke gelees nie en kan nie waarborg daarvoor staan nie.

Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp