Gesamentlike Erediens as Gawe uit God se hand

In die wêreld rondom ons sien ons dikwels ‘n sfeer van selfaanbidding wat heers. Die mens is egoïsties en selfgesentreerd, gedryf deur wat gerieflik is en wat die meeste voordeel vir homself inhou. Is Christene dan soveel anders? Hoe voel ons oor erediensbywoning?

Gesamentlike Erediens as Gawe uit God se hand
Photo by Andrew Seaman / Unsplash

Geskryf deur Cobus van den Linden, VGK Maranata

In die wêreld rondom ons sien ons dikwels ‘n sfeer van selfaanbidding wat heers. Die mens is egoïsties en selfgesentreerd, gedryf deur wat gerieflik is en wat die meeste voordeel vir homself inhou. Is Christene dan soveel anders? Vang ons onsself nie maar ook van tyd tot tyd daarin dat ons toegee aan ons ou natuur en net vir onsself lewe nie? Hoe voel ons oor erediensbywoning? Is dit iets wat ons bloot uit gewoonte doen, terwyl ons egoïsties wens om dit eerder nie by te woon nie? Dalk wil ons eerder tuis na die erediens luister, omdat dit vir ons baie meer gerieflik is.

Dit is belangrik vir ons om te ondersoek hoe die Here die erediens ingestel het. Ons moet kyk hoe middele soos aanlyn eredienste vandag God se naam kan vereer, maar ook hoe dit so vinnig ‘n instrument van selfverering kan word.

God se Vergaderende Werk

Ons sien dat God aan die begin van die heilsgeskiedenis vir Hom ‘n volk uitkies. Abraham en sy nageslag ontvang die verbond en word geroep om heilig voor die Here te wandel. Hierdie volk het die voorreg ontvang om eiendom van die Allerhoogste genoem word! Hulle is ‘n volk wat die lig van gemeenskap met die Here uitstraal te midde van ‘n wêreld wat verstik in die donker van selfverering.

Eeue later bring onse Here Jesus die opdrag om die evangelie baie wyer uit te dra as net die volk Israel. Die evangelie is nou vir alle mense oor die hele wêreld. Die Here bekeer sondaars met die doel om hulle vir Hom af te sonder en in sy diens te stel. Waarom is dit die Here se wil vir sy volk om bymekaar te kom in erediens, eerder as wat hulle Hom as individue vereer? 

Om hierdie vraag te beantwoord moet ons teruggaan na wat die Ou Testament vir ons hieroor vertel. In Genesis 4:26b lees ons: “Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.” (AFR53) Hier vind ons die heel eerste melding van ‘n gesamentlike erediens. Set en sy gesin het nie maar net persoonlike Bybelstudie gedoen of die Here as individue vereer nie, maar hulle het saamgekom in gesamentlike erediens om Hom aan te roep. Verder kan ons in die Ou Testament lees dat die Here die volk beveel het om drie maal per jaar ‘n reis af te lê en op te gaan na die tempel om daar fees te vier voor sy aangesig (Exodus 23). Die Here roep sy volk bymekaar om voor sy aangesig fees te vier, omdat Hy vreugde daarin vind! Dit maak die Here bly om sy volk voor sy aangesig bymekaar te sien. Daarom gee Hy opdrag dat hulle, hoe ongerieflik dit ook al vir die mens mag voorkom, lang afstande moet aflê om na Jerusalem te gaan en daar in sy aanwesigheid saam te kom.

In die Nuwe Testament kan ons sien hoe die fisiese eenheid wat Israel ervaar het toe hulle as een volk bymekaar gekom het, nou in onse Here Jesus nog soveel ryker word. Gemeentes met Christene van verskillende afkoms, ras en taal word nou in Christus tot een geestelike eenheid verbind. Ons sien hoe gemeentes reg oor die wêreld vergader word, die Here gesamentlik vereer en Hom verbly deur hul erediens.

Net so kry ons in Openbaring 7:9-10 ‘n vooruitsig van die volmaakte vergadering. Ons sien dat daar in die hemel ‘n skare van verlostes voor die troon staan wat uitroep: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!”. Daar staan nie geskrywe dat daar maar net ‘n paar individue in die hemel is nie, maar ‘n groot menigte wat voor die troon vergader is en in een stem die Here verheerlik. Juis in die hemel, die plek van die volmaakte erediens, is daar ‘n sigbare gemeente wat saam vergader. Dit is die erediens waarheen ons op pad is!

God sien ons nie as ‘n klomp individue wat bymekaar is nie, maar as sy bruid, sy liggaam en sy huishouding. Die Bybel skryf hierdie begrippe doelbewus in enkelvoud. God groet ons nie in die erediens as individue nie, maar as ‘n liggaam waarvan elke lid ‘n deel vorm. Selfs die kinders deel in die erediens, omdat hulle deel vorm van die liggaam en dit die Here verheug.

Ons kan dus sien dat dit die Here verheug as sy kinders vergader om Hom te aanbid en eer. Ons kan egter ook deur die opdrag om te vergader sien dat die Here dit beveel met ‘n baie mooi doel in gedagte.

God se Sorg deur die Gemeenskap van Sy Kerk

Ons sien dus dat dit die Here verheug as sy kinders vergader om Hom te aanbid en te eer. Ons kan egter deur die opdrag om te vergader ook sien dat wat die Here verheug, ook vir ons geestelike lewe goed is. Die Here het die gesamentlike erediens nie ingestel om die mens te benadeel nie, maar om daardeur ook sy sorg en liefde aan ons te bewys.

Wanneer ons saamkom in die erediens, is dit een van die min tye waar ons mekaar die evangelie direk toesing of toebid. Ons praat met die Here deur lofgesange, klaagliedere, boeteliedere of dankliedere, asook die belydenis wat ons hardop uitspreek. Daarin spreek ons mekaar ook aan. Ons lees in Kolossense 3:16b: ”Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.” (AFR53) Hier sien ons duidelik dat ons in gesamentlike diens van God ook mekaar bemoedig of vermaan deur ons sang.

Ons sien ook hoe die Here spesiaal deur die erediens met ons praat. Ons ervaar sy teenwoordigheid deur sy Gees, maar ook deur die verkondiging van die Woord. Ons bely in Sondag 25 dat die Heilige Gees geloof in ons harte werk deur middel van die evangelie. Daarom is die prediking tydens die erediens so belangrik vir groei in ‘n Christen se lewe .

‘n Stuk steenkool brand baie goed as dit in ‘n hoop met ander steenkool lê. Sodra jy ‘n enkele stukkie uit die hoop verwyder, hou dit vinnig op brand en verkoel. So werk dit ook in die gemeenskap van die kerk. Sodra ons nie meer met ons broers en susters vergader in die aanwesigheid van ons almagtige God nie, sluip daar laksheid en louheid in ons geloofslewe in. Die Here het die gesamentlike erediens ingestel, sodat onderlinge toesig en bemoediging tussen mede broers en susters ons kan aanspoor tot ‘n vurige ywer vir Hom en vir ons naaste.

Is dit jou begeerte om in die erediens bymekaar te kom?

Deesdae is daar deur aanlyn eredienste soveel verskonings en verleidings vir die Christen om nie die erediens by te woon nie. So dikwels sien of hoor ons rondom ons dat mense kies om eerder in die gemak van hul huise ‘n erediens te kyk of luister. Dit beteken egter nie dat aanlyn eredienste nie ‘n doel in die koninkryk van die Here het nie.

Tegnologie is ‘n middel wat God skenk en wat ons as rentmeesters op die regte manier moet gebruik. Soos met alle dinge probeer die duiwel baie hard om die Christene deur middel van tegnologie aan te val. Ons moet dus waak teen sy aanvalle, maar terselfdertyd identifiseer hoe tegnologie wel ons gemeente as een liggaam kan help. 

Aanlyn eredienste kan byvoorbeeld baie waarde hê vir bejaardes of moeders met jong kinders wat weens hul omstandighede nie in staat is om die eredienste by te woon nie. Hulle kan dan tog inskakel en op so ‘n manier deel aan die evangelieverkondiging. Dit kan ook evangelisasiewerk bevorder deur die aanlyn verspreiding daarvan. Die Heilige Gees kan dit gebruik om mense regoor die wêreld tot bekering te bring en by sy gemeente te voeg. Die doel moet egter nie word om ‘n vertoning te lewer sodat ons meer mense kan lok nie. 

Dit is dus duidelik dat aanlyn eredienste tog ‘n funksie in die koninkryk mag beklee, maar ons moet versigtig wees dat dit nie ons geloof verflou nie. Kyk maar hoe die Covid 19 pandemie regoor die wêreld Christene se getroue kerkbywoning aangetas en vervolgens hulle in ongeloof laat verval het.

Onse almagtige God vind vreugde daarin as sy kinders saam vergader om Hom te aanbid en verheerlik. Hy verbind as’t ware die vreugde en verering wat Hy ontvang in die erediens aan die mens se verlossing. Die gesamentlike erediens het so ‘n groot invloed op die Christen se geloof! In die gesamentlike erediens ervaar ons ten diepste die verbond met God. Ons kry ‘n voorsmaak van die ewige erediens waaraan ons eendag in die hemel mag deelneem. Laat ons daarom nie verswak in ons bywoning van die gesamentlike erediens nie, maar moedig teen die ou natuur stry, om daardeur ons Almagtige God te verheerlik en mekaar in die geloof te versterk!

“Watching church on a livestream is like watching a fireplace on a screen. You see it but you don’t feel the warmth” – Wes Bredenhof

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp