Geen pêrels vir die varke?
Matthéüs 7:6 (AFR53) lees soos volg: “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie”. Wat word met hierdie vers bedoel?
Geskryf deur Henri Antonides, VGK Bellville
Matthéüs 7:6 (AFR53) lees soos volg: “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.”
Net soos die res van die Bybel, moet die verse gelees word binne die konteks waarin dit voorkom - anders verander die bedoeling van die teks na dit wat nie bedoel word nie. Om vers 6 beter te verstaan, moet ons vers 1- 5 daarby lees.
Verse 1 - 5 gaan daaroor dat jy nie ander moet oordeel voordat jy eers na jouself gekyk het nie. Jy self kan ‘n “groter” sonde hê waarmee jy sukkel en dan veroordeel jy jou broer oor ‘n “kleiner” sonde. Dit gaan nie daaroor dat jy nie jou broer / suster mag help nie, maar eerder dat jy hulle nie mag oordeel nie. Hulp word altyd waardeer as dit uit liefde kom.
Dit is maklik om in vers 6 vas te kyk teen die visuele beeld van honde en varke. Honde is diere wat baie gulsig is en nooit versadig is as kos voor hulle neergesit word nie. Soos dit staan in Jesaja 56:11 (AFR53): “En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie.” Honde sal aanhou eet totdat hulle oorvol is. Net so sal varke ook alles eet - en word boonop nie beskou as die skoonste diere nie. Varke word ook as onrein beskou. Die honde en varke kan dus vergelyk word met mense van die laagste stand in die beskawing. ‘n Mens se eerste indruk van die vers kan wees dat Jesus leer dat jy nie mense wat sleg van hart is, moet help nie. Hierdie is nie waar nie.
Spreuke 19:17 (AFR53): “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; … “.
Jesus sê in Matthéüs 25:40 (AFR53): ”En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. “
Hierdie is net twee van baie verse waar God vir ons beveel om na die minstes om te sien. Wat word dus met hierdie vers bedoel?
Die honde en varke word gebruik as ‘n visuele beeld om dit makliker vir ons te maak om te verstaan wat bedoel word, in plaas daarvan om neerhalend te verwys na mense.
Hierdie vers is eintlik nie bedoel om gebruik te word as ‘n belediging nie, maar eerder om nie jou tyd of energie te gebruik op mense wat dit nie gaan waardeer nie. Hulle kan selfs kwaad word oor wat jy sê in plaas daarvan om dit te waardeer en toe te pas in hulle eie leefwyse.
Vers 6 volg eintlik op wat in verse 1-5 gesê word. As jy hulp wil aanbied aan mense wat dit kort, byvoorbeeld oor geloof, moeites of iets anders, en jy weet - en is aktief besig om teen jou eie sondes en moeites te stry (want anders oordeel jy sonder om na jouself te kyk) - dan moet jy ook wel weet wanneer dit reg is om jou hulp te onttrek. Jy moet besef dat nie almal hulp wil aanvaar nie. Baie mense wil nie hul eie foute raaksien nie, want dan hoef hul ook nie iets daaraan te verander nie.
Jesus vertel ook vir die apostels die volgende in Matthéüs 10:14 (AFR53): “En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van hulle voete af.” Jesus vertel hier dus direk vir die dissipels dat daar mense gaan wees wat nie na hulle wil luister nie, en dan is dit reg om verder te gaan na ‘n volgende dorp/huis. Jy hoef nie jou hele lewe te spandeer om mense te probeer oortuig terwyl hulle nie wil luister nie
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp