Earth Day: Vir Wie Vier Ons Dit?
Vandag is Aarde Dag, oftewel, Earth Day. Maar om Earth Day op die regte manier te kan vier, moet ons besef wat die aarde is: Dit is God se skepping, en die erfenis van sy Seun, Jesus Christus. Ons is deel van sy skepping en mag deel in daardie groot erfenis.
Lees: Johannes 1
Vandag is Aarde Dag, oftewel, Earth Day. Maar om Earth Day op die regte manier te kan vier, moet ons besef wat die aarde is: Dit is God se skepping, en die erfenis van sy Seun, Jesus Christus. Ons is deel van sy skepping en mag deel in daardie groot erfenis.
Aan die begin en einde van die Bybel skep die Alpha en die Omega. God het ‘n paar duisend jaar gelede die hemel en die aarde geskape (Genesis 1:1), en sal die hemel en aarde eendag weer herskep (Openbaring 21:1). Die Here het die mens 'n lewende wese gemaak deur hom te vorm uit die stof van die aarde en asem in sy neus te blaas (Genesis 2:7). Nou leef ons op ‘n plek waar berge ons klein laat voel, waar die son dag na dag sy gang gaan, waar die reën die aarde voed, waar mense opgroei en lewe, en waar biologie ons dikwels kan verstom. Dan kan ons maar net soos Dawid in Psalm 8:5 bely:
"Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?"
God, en slegs God (Kolossense 1:16), het die hemel en die aarde geskape - die eerste wat ons van God in die Bybel vind is dat Hy skep. Slegs God kan skep, wat beteken om iets uit niks uit te maak (Hebreërs 11:3). God het die hemel en aarde geskape, vir ons om in te woon en Hom te dien (Jesaja 45:18). Dit is nie omdat Hy ‘n behoefte gehad het daaraan dat mense Hom dien nie (Handelinge 17:24-25), maar wil hê dat slegs Sy Naam alle eer ontvang (Openbaring 4:11)! Ons bely in NGB Artikel 1 dat God, buiten sy ander eienskappe, ook die alleroorvloedigste fontein is van alles wat goed is - die Skepping is eenvoudig ‘n oorvloeisel van ‘n oorvloedige Fontein van goedheid! Dit bring ons tot die nederige besef van God se genade, dat Hy ons ‘n woonplek gegee het, uiteindelik ook uit duisternis gered het, en ons nou Sy kinders noem (1 Johannes 3:2).
As ons na die skepping kyk, moet ons Johannes 1 in ag neem om dit reg te kan verstaan - Skrif interpreteer Skrif. “Die Woord” is Christus. Hy was in die begin reeds daar, en “alle dinge het deur Hom ontstaan” (vers 3). God het gepraat, sy Woord gegee, en so het alles tot stand gekom. Die Vader het die aarde deur die Seun geskape. Christus is dus in Genesis 1 alreeds betrokke by die Skepping, saam met die Vader en die Gees.
Ons lees verder in Genesis 1:2: “Die aarde was woes en leeg, en die duisternis was op die wêreldvloed.” Ons vind die woord “duisternis” terug in Johannes 1:4-5 waar Christus die Lewe en die Lig van die wêreld is. Let wel, die duisternis kon die Lig nie oorweldig nie. Met ander woorde: Christus wat die Lig en Lewe is, oorweldig die duisternis en die dood (2 Korinthiërs 4:6). Die Skepping bring lig en lewe vir die fisiese wêreld soos ons in Genesis 1 lees, maar gee ook ‘n geestelike beeld wat die kern van die Evangelie voorafskadu. Die lig en lewe wat God uitspreek in Genesis 1 reflekteer ‘n beeld van die Lig en Lewe in Christus wat ons verlos van die ewige duisternis en dood (1 Korinthiërs 15:22).
Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.
- Johannes 8:12
Earth Day is ‘n organisasie wat vanaf 1970 jaarliks deur meer as 1 biljoen mense regoor die wêreld ondersteun word. Hulle hou vas aan ‘n leuse wat lees, “our power, our planet.” So eggo die val van Adam en Eva tot in die 21ste eeu. Ons dink so gou dat die skepping om ons draai. Die aarde draai om die son, maar die skepping draai om God. Die skepping sug, en die enigste uitweg is wanneer alles weer draai en gaan soos dit hoort - om God. Die skepping sug, en wag met reikhalsende verlange op die dag van Christus waar nietigheid heerlikheid sal word en die kinders van God vry mag loop (Romeine 8:19-22). Die kinders sug saam, en wag op die aanneming as kinders van God (Romeine 8:23).
Die aanneming as kinders is goeie nuus, want ons is mede-erfgename van Christus. Wat erf ons dan? Harpe, wolke en vlerkies? Nee, ons erf vir Christus en Hy erf die hele skepping saam (Hebreërs 1:1-2). Nie net is Christus die middelpunt van die Evangelie, die laaste openbaring, die Een waarom alles draai nie, maar Hy sal dit alles beërwe. Deur Hom, in Christus, mag ons daaraan deel kry.
Die aarde is nie “our planet” nie, maar Christus s’n. En dit word nie deur “our power” herskep nie, maar deur die krag van God - die Lig oorweldig die duisternis. As ons dus na die aarde kyk, moet ons dit sien as God s’n. Rentmeesterskap reik verder as die bestuur van geld, en strek tot by ons hantering van God se skepping. Die Vader gee die skepping vir die Seun, want alles is deur Hom en tot Hom geskape (Romeine 11:36). So, as die aarde Iemand se familiegeskiedenis is, Iemand se erfenis is, gaan dit ook verander hoe ons daarna kyk en daarmee omgaan.
Psalm 104 help ons om met die regte perspektief na God en sy aarde te kyk. Die Psalm bring vreugde, aanbidding, en verwondering. Die digter staan in verwondering oor die natuur en skryf soos hy kyk. Maar, die natuur is nie sonder doel, sonder glorie, of bloot “net daar” nie - die natuur is immers God se skepping en Christus se erfenis: Hy het die aarde gegrond (vers 5); dis Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes (vers 10); Hy laat gras uitspruit vir die diere, die plante vir die mens (vers 14); Hy het die son en die maan hul vaste tyd gegee (vers 19).
U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.
Laat die heerlikheid van die Here vir ewig wees, laat die Here bly wees oor sy werke, Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook.
Ek wil sing tot eer van die Here solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.
Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die Here!
- Psalm 104:30-34
Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Bellville en Iwan de Jong, VGK Maranata