Die wet – Tiende gebod

Die wet – Tiende gebod
Photo by Brett Jordan / Unsplash

In Eksodus 20:17 lees ons: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of esel of iets wat van jou naaste is nie.” Hierdie Bybelvers is bekend vir ons almal. Ons hoor en lees dit elke Sondag in die kerk, maar neem ons werklik in wat God vir ons in hierdie gebod sê? Ons ken dit tog so goed maar pas ons dit toe in ons alledaagse lewe? 

Begeertes gaan nie net oor wat die mens doen nie, maar ook soveel meer oor wat binne in jou hart en gedagtes aangaan. Begeertes word beskryf as die diep, innerlike verlange om iets te hê wat jy nie het nie, of nie aan jou behoort nie, of selfs iets wat jy nie nodig het om te oorleef nie. Op die oog af lyk hierdie gebod redelik maklik om na te kom, maar is dit werklik so en hoe beïnvloed dit ons lewe? 

Dit is belangrik om die verskil te ken tussen begeerte en bewondering. Wanneer die bewondering van iemand se sukses of lewenstyl verander in begeertes, pleeg ons sonde en draai ons teen die Here. Om te begeer beteken dat jy nie tevrede is met wat God vir jou klaar in jou lewe gegee het nie en leef daar ‘n onvervulde, onvergenoegde gevoel in jou hart. Jy soek net nog en nog. 

Begeertes is gevaarlik, want dit kan maklik lei tot jaloesie, afguns, selfsug en ontevredenheid - wat ook verkeerd is in God se oë. Wanneer ons heeltyd begeer en vergelyk wat ander mense het, lei dit na jy as mens wat nooit meer waardering en vreugde vind in dit wat die Here klaar vir jou gegee het nie. Dit is belangrik om te onthou dat God vir jou sekere goed in jou lewe gee en jou daarmee sëen, maar so ook sekere goed weerhou en op so ‘n manier vir ons ‘n les wil leer. 

Ons moet altyd tevrede wees met die minste, want ‘n verhouding met God is reeds meer as genoeg. Om God openlik te kan aanbid is reeds so ‘n groot voorreg wat ons nooit as vanselfsprekend mag aanvaar nie. Die tiende gebod is daarom ook dan eintlik ‘n oproep tot tevredenheid. Dit beteken egter nie dat ons nooit mag droom of streef na groot doelwitte nie. Daar moet dus ‘n belangrike balans wees tussen gesonde ambisie en begeertes. Dit is goed om hard te werk en om te streef na doelwitte, drome en ‘n beter lewe, maar ons moet bly onthou dat alles wat ons het van God afkom en dat ons nooit moet vergeet om dankie te sê vir Hom nie. Die probleem ontstaan ook as ons begin om ons geluk te koppel aan al ons aardse besittings en alles wat ons wil hê, want ons aardse besittings kan ons nie saamneem hemel toe nie. Ons mag en moet vir God vra om in ons behoeftes te voorsien; dit is tog immers wat Hy aan ons belowe. 

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Johannes 2:15-17)

Paulus het geskryf: “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.” (Kolossense 3:2-6)

In vandag se tyd, met die samelewing en sosiale media, is dit baie maklik om te val in al die begeertes en alles wat jy van ander mense sien. Ons sien al hierdie “perfekte” prentjies van mense se lewens op sosiale media wat maak dat ons ontevrede is met ons eie lewens. Ons word daagliks gebombardeer met advertensies wat spesifiek ontwerp is vir die mens om net meer en meer te begeer.

Alles wat ons as Christene nodig het in hierdie lewe, het ons in Christus. Juis daarom kan ons tevrede wees – vergenoeg wees – met die lewensomstandighede soos wat God dit oor ons beskik. Ons moet altyd onthou dat ons genoeg het - ons hoef nie na meer te begeer nie. Al het ons nie al die sukses, rykdom, besittings en luukse vakansies in die wêreld nie, het ons genoeg. Daardie tevredenheid en vergenoegheid moet gewortel wees in Jesus Christus omdat ons in Hom alles het. Ons mag nooit toelaat dat die aardse goedere die leemte in ons harte vul wat slegs God kan vul nie. Om die sonde van begeertes te oorwin, moet ons altyd terugval op die Woord van God

Die werklike, enigste begeerte wat ons moet en mag hê, is om te streef daarna om soos Jesus te wees, om altyd nader aan Hom te kom en om na sy beeld te leef. Ons moet onthou dat God se begeertes altyd goed en reg is en dat dit deur liefde gemotiveer word. Hy soek altyd net die beste vir ons. Psalm 37:4 sê: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Hierdie Psalm wys vir ons dat ons God ‘n prioriteit moet maak en die verlange na ‘n diep verhouding met Hom moet hê. Dit beteken dus ons moet ons begeertes in lyn met dié van God bring. As ons ons lewe aan die Here oorlaat, erken ons sy gesag om te besluit of ons begeertes by sy plan vir ons lewens inpas. Lê al jou begeertes en verwagtings in sy liefdevolle hande en erken dat Hy altyd reg is.

Die tiende gebod is dus vir ons almal ‘n oproep tot selfbeheersing, tevredenheid, vergenoegdheid en dankbaarheid teenoor God en alles waarmee Hy ons seën in ons lewe.

Geskryf deur Maryna van Alten, VGK Bellville