Die waan van selfliefde

Is dit nie skokkend om te lees en te beleef hoe die vlakke van angs, depressie, selfskending en selfdood besig is om toe te neem nie? Dit is net so skokkend om te sien hoe die wêreld hierdie probleme probeer beantwoord. 

Die waan van selfliefde
Photo by Emmanuel Phaeton / Unsplash

Geskryf deur Lonette de Vries, VGK Robertson

Is dit nie skokkend om te lees en te beleef hoe die vlakke van angs, depressie, selfskending en selfdood besig is om toe te neem nie? Dit is net so skokkend om te sien hoe die wêreld hierdie probleme probeer beantwoord. 

Dit word gewoonlik geblameer op swak selfbeelde, lae selfwaarde, geen liefde tot die self en selfverwerping. Die antwoord word dan ook verkoop dat die ‘self’ die probleem kan oplos: deur jouself meer lief te hê, deur die antwoord binne jouself te soek, deur jouself hoër te ag, en deur jou drome te volg - maak nie saak wat dit kos nie. Die idee word verkoop dat ons ons harte moet volg, in onsself moet glo en ons eie waarheid uitleef. Ons moet blykbaar ook net doen wat ons gelukkig maak, en om enigiets te ‘cancel’ wat ons vreugde en vrede steel. 

Hierdie idee van ‘selfliefde’ word verkoop met die belofte dat jy uiteindelik innerlike vrede gaan hê, dat jy tevrede met jouself gaan wees en dat jy vry gaan wees van alles wat jou weerhou van jou ‘ideale self’.

Hierdie oplossing van selfliefde klink so aanloklik. Dit streel ons ore en dit sus ons harte… vas aan die slaap! 

Is hierdie oplossing Bybels? Is dit die oplosssing wat Jesus aan ons gee in sy Woord? Of is hierdie selfliefde ‘n verskuilde verkoopsfoefie van Satan? Is dit dalk die wêreld se goeie nuus? Die wêreld se evangelie? 

Wat is die werklike goeie nuus? Die werklike evangelie van ons Here Jesus Christus? Hoe vergelyk die twee uitkyke op die mens se hart met mekaar?

Volgens die oplossing wat selfliefde ons bied, is ons hart die antwoord tot ons probleme. Ons moet net dieper in ons eie hart delf om ons diepste behoeftes, begeertes en liefdes te ontdek. Ons moet na ons hart se begeertes luister en ons moet die krete vanuit ons hart volg. Volgens selfliefde het ons onsself nie genoeg lief nie. Selfliefde moedig ons aan om onsself meer lief te hê.

Wat sê die Bybel?

Volgens die profeet Jeremia is ons harte egter bedriegliker as alles anders. Dit is ongeneeslik. Wie kan die hart ooit verstaan? (Jeremia 17:9)

Paulus skryf ook aan die jong Timotheüs dat daar in die laaste dae moeilike tye gaan kom, waar die mense liefhebbers van hulself sal wees, geldgierig, grootpraters, trotsaards … verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God. (2 Tim 3:1-5). 

Dit is dus duidelik vanuit die Skrif dat ons in werklikheid baie lief vir onsself is. Ons beskerm onsself. Ons ag onsself hoër as ander. Ons is van nature geneig om ons eie behoeftes bo die van ander te stel en om God en ons naaste te haat. Ons natuurlike geneigdheid is tot onsself en weg van God en ons naaste. Dit is eintlik onnatuurlik om God en ons naaste lief te hê.

Ons natuurlike self is gebore in sonde en ons harte is dood in ons sonde en oortredinge (Ef 4:1). Die antwoord kan nie uit ‘n dooie hart kom nie. ‘n Dooie hart kan vanuit homself niks goeds vermag nie. Ons harte is ‘n fabriek van sonde en bedrieglikhede. Die oplossing moet dus van buite onsself kom. Die werklike goeie nuus is dat daar ‘n antwoord tot ons probleem is. Hierdie antwoord is nie in onsself te vinde nie. Dit is buite onsself. Dit kom vanaf Ons Vader. 

“En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit jul vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.” (Esegiel 36:26)

Jesus sê ook aan Nikodemus: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy nie die koninkryk van God sien nie.’ (Joh 3:5)

Ons lees ook in 2 Kor 5:17: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 

God gee aan ons nuwe harte. Hy verander ons harte van klip na harte van vlees. Hy maak ons nuwe skepsels. Die antwoord lê buite onsself. Dit lê by Jesus! As die antwoord dan vir ons so duidelik is, waarom word hierdie agenda so hard verkondig deur die wêreld en Satan? Belangriker as dit, waarom word dit so aangehang?

Paulus gee vir ons ‘n blik op die agenda van die wêreld en van Satan. Hy skryf die volgende aan die gemeente in Rome: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk… omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hulle oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister... Hulle wat die waarheid verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper.’  (Romeine 1 :18-25)

Die wêreld onderdruk die waarheid. Hulle wil nie aan God die eer en dank gee nie. Hulle wil nie voor Hom buig nie. Hulle wil Hom nie erken as God en Heer nie. Dus onderdruk hul die waarheid en eer, en aanbid hulle eerder hulself as vir God. Hulle verafgod hulself. 

Dit alles wys terug na wat in Genesis 3 gebeur het, waar Satan die vrou mislei het deur aan haar die idee te verkoop het dat sy soos God kan wees. Ja, ons almal wil god speel oor ons eie lewe. Satan verkoop daardie selfde leuen aan ons vandag. Ons val steeds daarvoor. 

Die selfliefde oplossing lei tot ‘n mensdom wat homself dien. Dit veroorsaak mense vol selfsug, maar tog eensaam en leeg. Selfliefde verkoop die idee van vryheid, maar ons word slawe van onsself. Vasgevang in ons bedrieglike harte. Besig om ‘n belofte na te jaag wat nie bestaan nie. 

Maar wat is die enigste Weg, Waarheid en Lewe? Dit is die verlossing en lewe van Jesus Christus, onse Heer.

Ons weet ons is skuldig en dood in ons sondes en oortredinge. Ons weet dat ons uit onsself tot niks goeds in staat is nie. Ons weet dat ons nie onsself kan red nie. Ons weet ons kort ‘n Redder en ons weet dat God vir ons die voldoende Redder gegee het. ‘n Redder wat vir ons geleef en gesterf het. ‘n Redder wat vir ons ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee. ‘n Redder wat ons in staat stel om volgens sy wil te leef. ‘n Redder wat die onmoontlike moontlik maak. ‘n Redder wat ons in staat stel om God lief te kan hê bo alles en ons naaste soos onsself. 

Paulus som dit vir ons op in sy brief aan die gemeente in Efese: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,
onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,
ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus - uit genade is julle gered - en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
(Ef 4:1-10)

Mag ons vanuit hierdie waarheid leef! Mag ons die antwoord buite onsself gaan soek. 

Ons hoef nie te werk aan ons selfbeeld nie. Jesus is ons beeld.
Ons hoef nie te werk aan ons selfwaarde nie. Jesus is ons waarde.
Ons hoef nie te werk aan ons selfvertroue nie. Jesus is ons vertroue.
Ons moet nie selfliefde na jaag nie, maar ons moet God lief hê met alles, en ons naaste lief hê soos onsself.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp