Die strewe na suiwerheid en opregtheid: Die Puriteine

Die strewe na suiwerheid en opregtheid: Die Puriteine
Bron: https://www.britannica.com/topic/Puritanism

“The Pilgrim’s Progress”, oftewel die Christen se reis na die ewigheid, is ‘n welbekende boek vir baie van ons. Hierdie boek het ‘n geweldige impak op die Christendom waar dit al in meer as 200 tale vertaal is. Wie was die skrywer van hierdie boek, en wat was sy kerklike agtergrond en geloofsoortuigings?

John Bunyan is die skrywer van hierdie boek. Hierdie Brit het in die sewentiende eeu geleef. Om John se oortuigings te verstaan, moet ons na ‘n groep mense wat bekend gestaan het as die Puriteine kyk. Die Puriteine was ‘n stroming binne die Anglikaanse Kerk in Engeland, waarvan Bunyan deel was. 

In 1534 het koning Henry VIII van Engeland die Kerk van Engeland onafhanklik van die Rooms-Katolieke Kerk verklaar. Dit was onder andere as gevolg van ‘n persoonlike dispuut wat hy met die pous gehad het. Hierdie Kerk van Engeland is beter bekend as die Anglikaanse Kerk. Alhoewel koning Henry se motiewe vir die splitsing betwyfelend was, het dit wel die deur vir Protestantse invloed in Engeland oopgemaak. Hierdie was immers die eeu van bekende hervormers soos Martin Luther, Johannes Calvyn en John Knox. Deur die verloop van tyd het daar reformasie in die voormalige “Rooms-Katolieke Kerk” in Engeland plaasgevind. Tog wou die koning nie sy mag oor die hiëragiese Anglikaanse Kerk prysgee nie. Die gevolg was dat die Anglikaanse Kerk op sekere teologiese aspekte protestants geword het, maar die praktiese aspekte van die kerk was nog baie soortgelyk aan die Katolieke Kerk. Die Reformasie het as’t ware tot ‘n stilstand in die Anglikaanse Kerk gekom. 

Hierdie stilstand het verskeie mense binne in die Anglikaanse Kerk dwarsgesit. Hoe kan ons kerk hou en lewe as die Woord van God dit duidelik anders bedoel? Hoekom moet daar ‘n hiërargiese sisteem van biskoppe en aardsbiskoppe wees as Christus die enigste Hoof van die kerk is? Hoe kan ons sondig en onversteurd lewe, maar wel onsself Christene noem en elke nou en dan in die kerk sit? ‘n Stroming het begin vorm waarin verskeie aparte gemeentes en priesters hulle begin beywer het vir die suiwer verkondiging van die evangelie. Hiermee gepaard het hulle baie klem gelê op ‘n suiwer en godvresende lewenstyl in die praktyk. Met verloop van tyd het mense hulle begin spot met die skeldnaam “Puritans”. Hulle wou alles “pure” (puur) preek en doen. Dit is dus waar die naam “Puriteine” vandaan kom. Hulle uiteindelike doel was om die Anglikaanse Kerk van binne verder te reformeer.

Soortgelyke stromings het ook in Nederland en Duitsland gevorm. In Nederland was dit in die Gereformeerde/Hervormde kerk met die Nadere Reformasie. In Duitsland was dit die Piëtisme in die Lutherse Kerk. 

Hierdie Puriteine het deur die jare al hoe meer diskriminasie ervaar. Priesters wat Puriteinse idees en oortuigings gepreek het, is deur die Anglikaanse Kerk afgedank. Tydens die regeertermyn van Koning Charles I het hulle egter onder werklike vervolging deurgeloop. Ten spyte van hulle doel om die Anglikaanse Kerk van binne te hervorm, het baie van hulle besluit om eerder maar uit die Anglikaanse Kerk te stap. Van die Puriteine het besluit om hulle by die Presbiteriaanse Kerk (soortgelyk aan Gereformeerd) te voeg wat ‘n aantal jare vooraf in Skotland ontstaan het. Ander het weer eie kerke gestig, waaronder die Baptiste Kerk een was. 

Groot getalle van die Puriteine het na Amerika geëmigreer as gevolg van die aanhoudende diskriminasie in die Verenigde Koninkryk. Tot vandag toe is die Presbiteriaanse en Baptistiese stromings van die grootste kerklike stromings in Amerika. 

Tussen Gereformeerd (Presbiteriaans) en Baptisme is wel ‘n taamlike groot verskil. Dit dui daarop dat daar wel beduidende teologiese verskille was binne die Puriteinse beweging. Tog was die Puriteine Christene wat werklik na aan die HERE en sy Woord wou lewe. Ten spyte die verskille kan hulle oorhoofse oortuigings in die volgende drie punte opgesom word:

  1. Persoonlike bekering en wedergeboorte.
  2. Die praktiese uitlewing van christenskap.
  3. Kerklike lewe volgens die Woord van God.

Suid-Afrika se kerkgeskiedenis is grootendeels gedomineerd deur die Gereformeerde tradisie vanuit Nederland. Die Nadere Reformasie in Nederland het waarskynlik baie meer invloed op ons kerklike geskiedenis gehad as die Puriteine. Tog kan ons baie uit hierdie beweging leer. 

Dit is een ding om op teologiese vlak die leer so na as moontlik aan die Skrif te hou, maar as ons dit nie uitleef nie, is dit soos ‘n put sonder water. Dit is nutteloos. Dit is in ons gemaksone om te debatteer oor een of ander teologiese onderwerp, maar dit is dikwels, ironies genoeg, buite ons gemaksone om mekaar aan te spreek op die praktiese uitlewing van die geloof. Dinge soos die tweede erediens bywoning en verdere sabbatsheiliging, raak onderhandelbaar, en dit is oënskynlik onvanpas om mekaar daaroor aan te spreek.

Ons het so ‘n ryke leer in ons Gereformeerde geloof. Ons kan dit nie bederf deur dit nie prakties uit te leef nie. Laat ons, soos die Puriteine van ouds, ons geloof deel maak van alle aspekte van ons bestaan sodat die Naam van die HERE geprys kan word. Om die HERE te prys, is immers ons doel op aarde.

Bronne

Geskryf deur Marnix Boon, VGK Pretoria Maranata