Die Seun van God

Meeste gelowiges erken dat Jesus die Seun van God is. Dit is ‘n benaming wat redelik algemeen onder Christene gebruik word. Besef ons egter wat hierdie titel inhou en wat dit vir ons beteken?

Die Seun van God
Photo by Samuel McGarrigle / Unsplash

Geskryf deur Eben van den Bout, VGK Maranata

Meeste gelowiges erken dat Jesus die Seun van God is. Dit is ‘n benaming wat redelik algemeen onder Christene gebruik word. Besef ons egter wat hierdie titel inhou en wat dit vir ons beteken? 

Elke mens behoort opreg en in vryheid te kan bely dat die mens, Jesus, werklik God se Seun is. Daarom is Hy dus waarlik God en het Hy al die eienskappe wat die Vader ook het. Soos ons in Kolossense 2:9 (AFR53) lees: “In Hom (Jesus) woon al die volheid van die Godheid liggaamlik…” 

Ons menslike verstand is te beperk om hierdie feit te begryp. Ons hoef egter nie alles te verstaan nie, maar  moet sekere dinge oor God net in vertroue aanvaar en nie bevraagteken nie. Elke kind van God kan egter dankbaar wees vir die vleeswording van die Seun van God. Daarsonder sou ons nooit met God die Vader versoen wees nie en sou ons altyd in die sonde en verdoeming gebly het. 

Die Seun van God is die volmaakte Middellaar omdat Hy volledig God en mens is. Hy het soos ‘n mens gely en menslike emosies ervaar. Deur sy menswording kan ons in vryheid tot Hom nader in gebed, dus het ons deur die Seun van God direkte toegang tot God verkry. 

As volwaardige God, het die Seun van altyd af bestaan. Sy twee nature het nooit geskei nie - ook nie toe Hy aan die kruis gesterf het nie. Nou kan jy dalk vra: hoe is dit moontlik dat Jesus gesterf het as sy twee nature nie geskei was nie, God is mos onsterflik? Christus het as mens aan die kruis gesterf - Hy het nogsteeds al die Goddelike eienskappe gehad - maar die Man wat aan die kruis gehang het was volkome mens. Jesus kon daarom ook opstaan omdat Hy nogsteeds sy Goddelike eienskappe gehad het. As Hy net mens was, sou dit onmoontlik vir Hom wees om uit sy eie op te staan uit die dood. 

Na Jesus se oorwinning oor die sonde en die dood is Hy verhoog en “’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is.”(Filippense 2:9-11, AFR53) Hy is weer verhoog tot Sy oorspronlike ereposisie as Seun van God! 

Nadat Christus sy werk op aarde voltooi het, is Hy nie bloot terug hemel toe om, met respek gesê, Homself op die troon gemaklik te maak nie. Hy het nie “afgetree” en sy werk is nog nie afgehandel nie. Hy is besig om vir ons plek voor te berei sodat ons nooit weer van God geskei sal wees nie. Hy is steeds met ons (Immanuel) en deur die Heilige Gees woon Hy in ons. Soos ons in Matthéüs 28:20 (AFR53) lees: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” 

Christus se titel as Seun van God is ‘n magstitel. Dit wys sy gesag en sy posisie aan die regterhand van die Vader. Hy tree by Sy Vader in en ons kan in vertroue wag op Sy wederkoms. Die Seun van God sal weer kom en alle gelowiges opneem in heerlikheid!

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp