Die Lig van die Gelowige Vrou - Karakter bou tot eer van God

Baie gedeeltes in die Bybel handel oor die lig wat ‘n Christen uitstraal en hoe hul karakter die beeld van God na buite reflekteer. Een van hierdie gedeeltes is Spreuke 31:10-31, wat die gelowige vrou aanspreek.

Die Lig van die Gelowige Vrou - Karakter bou tot eer van God
Photo by Ben White / Unsplash

Geskryf deur Lianne van Renssen, VGK Bellville

Artikel gebaseer op Spreuke 31:10-31

Baie gedeeltes in die Bybel handel oor die lig wat ‘n Christen uitstraal en hoe hul karakter die beeld van God na buite reflekteer. Een van hierdie gedeeltes is Spreuke 31:10-31, wat die gelowige vrou aanspreek.

Die moderne verwagting van die vrou is om vereer te word. Sy plaas dikwels haarself op die voorgrond. Sy wil erkenning hê vir hoe waardevol sy is, watter loopbaan sy volg en dat sy nie afhanklik is van ‘n man om haar te help nie. Sy streef nie daarna om in 'n Christelike huwelik te wees waar sy vir haar gesin kan sorg nie. Haar skoonheid word op hierdie manier met sonde besmeer en bevlek. In teenstelling hiermee sê die Bybel dat ‘n deugsame vrou se waarde ver bo korale is (Spreuke 31:10), dat sy voel dat haar wins goed is (Spreuke 31:18) en dat sy van ver af haar brood inbring (Spreuke 31:14b). So waarom is dit so verkeerd dat hierdie vrou haarself so sien?

Mag die vrou dan nie werk en vir haarself sorg nie? Natuurlik wel. In werklikheid is daar baie vrouens wat nie getroud is nie en vir hulself moet sorg. Die probleem is egter wanneer die vrou se siening net oor haarself en haar eie eer begin gaan en van die waarheid van God begin afdwaal. Daarom is dit belangrik dat vrouens na die Bybel moet kyk om hulle te laat lei om soos 'n ware Christen in die lig van God te lewe.

Spreuke 31:10 sê: “Wie sal ’n deugsame vrou vind, want haar waarde is ver bo korale”. Hierdie vers dui op die waarde van vrouens en die rol wat hulle in die samelewing speel as vrou vir hulle man, moeder van die gesin, versorgsters en ander rolle wat die vrou vervul. Die bedoeling van hierdie teks is nie om hoogmoed te wek nie, maar eerder om haar te herinner dat sy in die beeld van God geskape is. Dit kom baie voor dat vrouens onderdruk of verneder word omdat hulle fisies swakker as mans is en daarom as die ‘swakker geslag’ beskryf word. Die teks bedoel egter dat sy ’n goeie selfbeeld moet hê. Sy is steeds in God se beeld geskape en sy toon dankbaarheid teenoor hoe Hy haar geskape het.

“Die hart van haar man vertrou op haar” om vir haar gesin te sorg soos in vers 13, 15 en 21 staan. Hoe sy die huis en plaas onderhou staan in verse 16, 18 en 19. Die vrou werk van vroeg oggend voor die son opkom (v15), maak klere (v19, 21, 22, 24) en bring voedsel van ver af en berei dit vir dié in haar huis voor (v14, 15). Dit wil sê dat die vrou hardwerkend is en soos vers 27 sê, dat sy nie van die brood van luiheid eet nie. Sy sorg vir haar gesin, wat ook een van die take is wat God vir die vrou gegee het in die huwelik. As moeder versorg sy haar kinders en leer sy hulle wyshede en maak hulle groot in die lig van God (v26). Sy laat nie haar kinders by 'n versorgster of dagsorg om te kan gaan werk as dit nie noodsaaklik is nie. Nee, haar prioriteit lê by haar kinders en sy sal enige iets doen om hulle te beskerm, te versorg en op te voed. As vrou sorg sy vir haar man. Dit is juis waarom die digteres skryf dat die man se hart op haar vertrou. Sy is lief vir hom en wil hom daarom ondersteun en help. Sy kom ook die behoeftes van ander agter en sien dit as haar taak om vir hulle ook te sorg, asook vir die armes en ellendiges (v20). Sy is besorg oor die welsyn van ander, sal moeite doen om ander te help en verseker dat sy hulle kan help.

Ten spyte van al die voorsorg wat sy tref, is dit steeds duidelik dat sy al haar bekommernisse by die Here laat en alleenlik op Hom vertrou, soos dit in vers 25 aangehaal word.

Vers 29 spreek die ongunstige gedrag van jong meisies aan wat hulself aantrekliker laat lyk om aandag te trek. Jong mans sien ’n mooi meisie raak en dikwels speel dit ’n groot rol in die keuse van 'n huweliksmaat. Tog sê die teks in vers 30 dat uiterlike skoonheid net nietigheid en bedrog is. Waarde kan slegs gevind word in die vrou wat die Here vrees. Hierdie eienskap is groter en van ewige waarde. Dit is wat by ’n vrou gesoek en geprys moet word. Spreuke 18:22 sê: “Wie ’n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ’n welgevalle van die Here verkry”, want haar waarde is ver bo dié van korale. Sy is ’n seën vir haar man, van God ontvang. Sy doen goed aan haar man (Spreuke 31:12) en werk fluks om haar huisgesin te versorg met voedsel en klere (Spreuke 31: 15).

Hierdie tekste verwys na die rol van die vrou in die huwelik, wat ook genoem word in Efesiërs 5:22-24 en Genesis 2:18b waar daar staan: “Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas”. Beteken dit dan dat vrouens as bediendes vir hul mans moet optree en al hul behoeftes sonder vraagteken bevredig? Nee, die woord ‘hulp’ word eerder gesien as een persoon wat die ander as vriend of bondgenoot bystaan en ondersteun. Dikwels word die woord ook gebruik om na God te verwys (Psalm 46:2). God het vrouens nie geskep om as slawe behandel te word nie, maar eerder om as ’n maat, op haar man se vlak, hom aan te vul en by te staan. Net so word die woord ‘onderdanig’ in vandag se konteks as ’n negatiewe en vernederende term beskou. Dit word ook so gebruik, daarom verander baie mense se siening oor die teks in Efesiërs 5:22, veral nou met feministiese bewegings wat die moderne vrou wil bekragtig en verhoog. Die vryheid waarmee die digteres van Spreuke 31 dink, praat en optree, sowel as die lof en bewondering wat sy van haar man en kinders ontvang, is ’n aanduiding dat die vrou nie bloot die besitting en dienares van haar man is nie. Die rol van die man in Efesiërs 5:22 word beskryf as ’n geestelike leier, iemand wat sy vrou moet liefhê en geestelik moet lei. So ook moet die vrou toelaat dat haar man dit doen en sodoende die leier kan wees wat God hom roep om te wees. Die vrou is dus op hierdie manier onderdanig aan sy geestelike leiding. Sy moet haar man ondersteun en aanvul in sy taak as onderkoning van God. Daarom het God haar geskape en aan Adam gegee - nie om sy eensaamheid weg te neem nie, maar om hom te help in die diens van God. Dit is wat die keuse van ’n huweliksmaat bepaal: ’n vrou wat die Here vrees.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp