Hemelvaart: ‘n Nuwe Begin
Die hemelvaart van Jesus Christus is nie net ‘n stille einde aan sy verlossingswerk hier op aarde nie. Dit staan juis sentraal daarin en bevestig dat die Seun die taak wat die Vader aan hom gegee het, volbring het.
Geskryf deur Lynette Bouwman, VGK Pretoria
Die hemelvaart van Jesus Christus is nie net ‘n stille einde aan sy verlossingswerk hier op aarde nie. Dit staan juis sentraal daarin en bevestig dat die Seun die taak wat die Vader aan hom gegee het, volbring het. Ons kan daarna kyk met die wete dat ons Verlosser nie net opgestaan het uit die dood nie, maar ook opgevaar het na die hemel waar Hy sit aan die regterhand van sy Vader. Daar regeer Hy oor alle dinge, dien Hy as voorspraak vir ons by die Vader en berei Hy vir elkeen van ons ‘n plek voor. Sy werk op aarde is dalk voltooi, maar dit is nie afgehandel nie. Ons Verlosser is nou in die Hemel besig om sy hemelse taak voort te sit, totdat Hy weer kom.
Jesus se aardse werk is voltooi
“Hierdie Jesus wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom sien weggaan het.” (Handelinge 1:11) So het die twee mans in wit klere die dissipels bemoedig toe hulle verlangend na die hemel gestaar het. Hulle was hartseer, want Hy het hulle verlaat, maar hulle moes besef dat Hy nie na die aarde gekom het om vir ewig hier te bly nie. Hierdie woorde was juis vir hulle ‘n troos waarmee hulle kon terugkeer na Jerusalem. Jesus het na die aarde gekom met ‘n doel en Hy het dit voltooi. Hy het gely, gesterf en opgestaan. Nou kan Hy terugkeer na sy Vader om sy werk as middelaar te begin. Dit is nie meer nodig dat Hy op aarde moet werk nie. Hy kan nou in die hemel saam met sy Vader regeer as Koning. Sy werk hou dus nie op nie, dit neem nou ‘n nuwe vorm aan. Hy begin sy hemelse werk as middelaar en voorspraak. Hy sal nie vir ewig daar bly nie. Hy sal weer kom, net soos wat Hy gegaan het.
Jesus is gekroon as Koning
Die doringkroon van lyding word ‘n koningskroon van heerlikheid. Jesus neem sy plek in aan die regterhand van die Vader, soos ons lees in Efesiërs 1:20. Sy koningskap is nie iets wat net simbolies is nie. Hy is die Koning wat regeer oor alle magte en owerhede. Hy regeer oor die hemel en aarde. Geen aardse owerhede of magte kan bestaan sonder Hom nie. Dit is ‘n groot troos vir elkeen van ons, veral as ons sien hoe onseker en gebroke die wêreld om ons is. Ons moet nie vaskyk in dit wat rondom ons in die wêreld gebeur nie. Nee, ons mag opkyk na ons Koning wat in die hemel sit. Hy is in beheer en dit is waarom ons hier op aarde sy lof moet besing. Ons moet elke dag leef tot sy eer, want ons Koning regeer nou en tot in ewigheid.
Wat beteken dit vir ons?
Die hemelvaart beteken nie dat Jesus ons vergeet en verlaat het toe Hy opgevaar het nie. Dit bevestig juis sy liefde vir ons. In Johannes 14:1-2 lees ons dat Hy in die Vader se huis vir ons ‘n plek voorberei, daar waar daar woonplek is vir baie. Intussen tree Hy vir ons in. Romeine 8:34 sê dat Hy aan die regterhand van sy Vader is en vir ons bid. Hy was self ook mens op aarde en verstaan daarom ons swakheid en stryd. Sonder Hom kan ons nie tot die Vader nader nie. Sonder Hom is daar geen ewige lewe nie. Deur Hom het ons toegang tot die Vader en Hy is ons voorspraak (1 Johannes 2:1). Wanneer ek en jy nie weet wat om self te bid nie, is Hy daar om ons te dra. Hy vra dat die Vader nie aan ons sondes sal dink nie, want Hy het die volle prys daarvoor aan die kruis betaal.
Die belofte en opdrag
Jesus het belowe dat Hy weer sal kom, op die wolke, net soos Hy opgevaar het. As Hy kom sal ons saam met Hom regeer op die nuwe hemel en aarde. Dit is die groot verwagting van elke gelowige. Intussen het ons ‘n opdrag van Hom ontvang: alle volke, tale en nasies moet van Hom hoor. Dit is nie ‘n maklike opdrag nie en ons hoef dit gelukkig ook nie alleen te doen nie. Hy stuur sy Gees om in ons te woon, om ons te lei en om ons toe te rus vir die taak. Hy belowe dat Hy met ons sal wees tot aan die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Met vreugde en afwagting kan ons dus hier op aarde in Sy diens werk. Ons Koning self gee aan ons krag en leiding. Die boodskap van die Koning in die hemel moet gebring word, totdat elke knie sal buig en elke tong sal bely. Ons moet die erns van die opdrag besef en dit getrou in geloof uitvoer. Terwyl ons dit doen bly ons Hom soek in sy Woord en kan ons sy nabyheid in ons lewens ervaar, want Hy is nie op ‘n afstand in die hemel nie. Hy woon in ons met sy Gees.
Sy hemelvaart is nie ‘n afskeid nie, maar ‘n bevestiging van sy koningskap en teenwoordigheid in ons lewens - nou en tot in ewigheid. Terwyl ons wag en werk op aarde, kan ons leef met die vaste wete dat ons Verlosser leef en regeer. Hy is ons Koning in die hemel. Laat ons dan getrou bly aan Hom, van Hom getuig in ons lewe, en ons oë gevestig hou op Hom, want Hy kom weer.
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp