Die Erediens: Kom ontmoet God!

Die Erediens: Kom ontmoet God!
Photo by Josh Applegate / Unsplash

Vir die van ons wat die voorreg gehad het om in ‘n huis groot te word waar Sondae as ‘n “Rusdag” deurgebring is, kan hierdie spesifieke dag sy ware betekenis en waarde, as gevolg van gewoonte, verloor. Saterdagaande moet mens nie te laat gaan slaap nie, want jy moet Sondag in die kerk wakker bly. En wat die dag self betref, is dit vir jou dalk glad nie ‘n dag om na uit te sien nie, want jy is moontlik geleer om byvoorbeeld nie op ‘n Sondag TV te kyk, na gewone musiek te luister of selfs YouTube of Instagram te kyk nie.  

Nou kan ons die vraag vra of ons egter nog stilstaan by die waarde van die rusdag en besef wat God aan ons gee en van ons vra in die vierde gebod. 

Na aanleiding van Ds. Jopie van der Linde se praatjie in Mei 2026, tydens die gemeente toerustingsmiddag van VGK Maranata, moet mens weer besef dat die vierde gebod en ons kerkgang veel meer inhou as wat mens dink. Hieronder volg ‘n paar kernpunte uit sy toespraak.

Wanneer ons Sondae in die erediens sit, is die liturgie (volgorde van die erediens) vir ons bekend, wat ons rustig maak. Ons word geestelik gevoed, leer God beter ken deur sy Woord, sing saam, bid saam en beoefen die gemeenskap van die gelowiges. En al hierdie dinge is goed en reg, maar wat is die “fokus” van die erediens?   

Kom ons dink terug aan die Here se ontmoeting met sy volk Israel op die berg Sinai. Dalk is dit vir ons dan makliker om iets van God se Grootheid en ‘n ontmoeting met Hom te verstaan. In Hebreërs 12:18 lees ons dat, toe die Here direk met Moses-hulle gepraat het, het Sy verskyning ‘n brandende (laaiende) vuur, donkerheid, duisternis en ‘n storm veroorsaak het. Die berg, asook Moses, het gebewe, want God se grootheid en heiligheid was vreesaanjaend! Die volk het Moses as middelaar nodig gehad om met God te kommunikeer en selfs hy was ook bang vir God. So hoe kan ons as sondige mense God dan ontmoet?

Deur Jesus Christus se middelaarswerk! Elke Sondag, in die eredienste, mag ons die groot en lewendige God ontmoet! 

Besef ons werklik wat wat dit vir ons beteken?

Eerstens, gaan ons met die erediens die hemelse Jerusalem binne.  Wanneer ons in die kerkdiens instap, kom ons in God se teenwoordigheid en ervaar ons sy heiligdom. Die samekoms is dan ‘n bruisende plek van mense wat in die stad van die lewende God saamkom.  Dit is ‘n feestelike byeenkoms. Ons sing tot eer van God in vreugde as ‘n eenheid, saam met mense wat verbind is in sy bloed - wat besef dat God Heilig is en dat dit slegs uit genade is dat ons mag deel wees van die regverdiges. 

Tweedens, mag ons ‘n persoonlike ontmoeting met God tydens die Erediens hê. En hierdie ontmoeting kan nie anders as om reaksies soos liefde, dankbaarheid, ontsag en vreugde by ons te wek nie. 

En verder, mag ons ook besef en glo dat tienduisend engele, ander regverdiges reg oor die wereld tesame met die volmaakte regverdiges (die wat reeds in Christus gesterf het), saam met ons die grote God se lof besing.  

Wat ‘n groot voorreg! Om die verlossingswerk van Christus te herdenk en in dankbaarheid die Here daarvoor te loof. God het dus Sy rusdag as ‘n “gebod” en nie ‘n “verbod” ingestel nie.  Hy het dus bedoel dat ons sy oneindige liefde gedenk en nie dit moet sien as “jy mag nie dit of dat op ‘n Sondag doen nie”.  

Wie sal dan hierdie ontmoeting wil uitmis? Wat kan dan belangriker wees as om in gemeenskap met God te lewe en om Hom op Sondae te  ontmoet? Hoe kan ek dan my vriend of vriendin los wanneer ek sien dat hulle nie van hierdie geleentheid gebruik wil maak nie?

God, die Almagtige, nooi ons uit om Hom persoonlik tydens die erediens te ontmoet! Kom saam! Alle lof en dank aan Hom!

'n Artikel oor die vierde gebod. Geskryf deur Junelle Miske, VGK Pretoria.