Die Christen en Hollywood

Jou werk vir die dag is klaar. Jy kan uiteindelik net in die bed gaan lê en die nuwe seisoen van die Netflix-reeks waarvan almal deesdae so baie praat, begin kyk. Nou sal jy sien en verstaan waarvan almal die hele tyd praat en jouself ook daarmee kan vereenselwig.

Die Christen en Hollywood
Photo by Demian Tejeda-Benitez / Unsplash

Geskryf deur Junelle Miske, VGK Maranata

Jou werk vir die dag is klaar. Jy kan uiteindelik net in die bed gaan lê en die nuwe seisoen van die Netflix-reeks waarvan almal deesdae so baie praat, begin kyk. Nou sal jy sien en verstaan waarvan almal die hele tyd praat en jouself ook daarmee kan vereenselwig. Hierdie is mos 'n ‘must watch’ reeks.

Dan oorreed jy jouself natuurlik dat dit nie die naam van die Here is wat hulle nounet onnadenkend gebruik het nie. Dalk is jy al so gewoond daaraan dat jy dit nie eers meer hoor nie. As daar ‘n gedeelte kom wat ‘n bietjie te erg is, beweeg jy net na 'n volgende gedeelte in die episode of na 'n nuwe episode. Kom ons wees eerlik: ons almal is hieraan skuldig.

Is dit hoe God vra dat ons as Christene moet omgaan met vandag se wêreldse Hollywoodfilms en -reekse? Dit is tog nie asof jy nou skielik saamstem met die feit dat hulle laster in die fliek as jy dit kyk nie? Jy weet mos wat reg en verkeerd is, solank as wat jy dit net nie self doen nie?

Ek is seker ons almal weet dat hoe meer jy met iets te doen kry, hoe meer gewoond raak jy daaraan en hoe minder pla dit jou. Die wêreld kry dit reg om, sonder dat ons dit besef of agterkom, ons tog te beïnvloed, of ons nou daarmee saamstem of nie. Dit is snaaks hoe ‘n mens maklik 'n sekstoneel sal oorslaan, maar as dit kom by ‘n gedeelte waar iemand die naam van die Here misbruik, maak ons maar net asof ons dit nie gehoor het nie en kyk verder. Dis nie wat God van ons vra en aan ons openbaar nie. Hy leer ons dat alle sonde ewe erg is en dat alle verkeerde gedrag of gedagtes gestraf moet word, al doen, sê of dink ons dit nie self nie. Lees maar 2 Johannes 1:10-11: 

“As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.” (AFR53)

God waarsku ons egter ook dat ons nie moet dink dat ons sterk genoeg is om weerstand te bied teen versoekings wat ons sien of hoor nie. Die bekende verse van Mattheus 18:7-9 leer ons dat ons weens ons sondige menslike natuur nie sterk genoeg is om versoekings te weerstaan nie en dus enige iets wat ons daartoe kan lei, moet vermy. “Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom. En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word. En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word.” (AFR53)

Hoe kan ons steeds films geniet? God sê tog dat alles wat geskape is, goed is. Hoe ons daarmee omgaan, bepaal of dit sonde is, soos 1 Timotheus 4:4-5 leer: “Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks daarvan is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die Woord van God en die gebed.” (AFR53)

Hier is ‘n paar riglyne in lyn met ons roeping as Christene in verband met films en selfs boeke, musiek en sosiale media:

  • Moenie iets begin kyk, lees of luister sonder dat jy eers behoorlike navraag gedoen het nie. Stel eers vas of daar nie iets in voorkom wat godsdienstig of sedelik aanstootlik is nie.
  • 'n Basiese aanduiding of iets ongewenste en aanstootlike elemente bevat, is om na die ouderdomsbeperking te kyk.
  • Indien daar wel aanstootlike of ongewenste elemente is, bly weg daarvan. Moenie jouself blootstel aan die versoeking en invloed nie. Dit is beter om dit glad nie te kyk nie as om halfpad met ‘n skuldgevoel te sit en net in elk geval aan te hou kyk, omdat jy so graag wil sien wat gaan gebeur.

Laat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie. Laat ek en jy in hierdie wêreld leef, maar nie van die wêreld wees nie. Ons almal weet tog van die beter wêreld waarna ons kan uitsien.

“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. [16] Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlik­heid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”
1 Johannes 2:15-17 (AFR53)

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp