Die Christelike huisgesin

Die gewilde siening in die moderne wêreld is om jouself eerste te stel. Daar word gesê dat as iets of iemand nie tot jou voordeel is of werk nie, as iets jou nie dien nie, jy dit uit jou lewe moet verwyder. Maar wat leer die Bybel ons hieroor?

Die Christelike huisgesin
Photo by Liv Bruce / Unsplash

Geskryf deur Carolien Antuma, VGK Bellville

Die gewilde siening in die moderne wêreld is om jouself eerste te stel. Daar word gesê dat as iets of iemand nie tot jou voordeel is of werk nie, as iets jou nie dien nie, jy dit uit jou lewe moet verwyder. Dat dit die heel belangrikste is om na jouself om te sien en dat jou gevoelens en geestesgesondheid die belangrikste is in jou lewe.

In teenstelling hiermee, leer die Bybel ons dat die lewe van 'n Christen een van selfverloëning is - jy moet jou eie begeertes prysgee en vir God eerste stel en ander mense bo jouself (vgl.Filippense 2:1-11 en Lukas 9:57-62). Dit kan 'n mens slegs doen deur die genade van God en die werking van die Heilige Gees.

Die huwelik is een van die besondere maniere hoe God se verhouding met sy kerk uitgebeeld word in die wêreld. Dit is dié plek waar 'n getroude paartjie van die Here die geleentheid ontvang om hulle Christenskap uit te leef. Regdeur die Bybel gee die Here riglyne oor hoe om dit te doen.

In Efésiërs 5:18-33 leer die Here ons dat die man en vrou mekaar moet dien in hulle huwelik. 'n Vrou dien haar man deur onderdanig te wees aan hom en haar begeerte om in beheer te wees op te gee en 'n man dien sy vrou deur haar lief te hê en homself vir haar op te offer soos Christus dit vir die kerk gedoen het. In sy reeks preke, wat aan die einde van die artikel aanbeveel word, gee John MacArthur 'n mooi verduideliking van wat dit presies beteken.

Indien die Here 'n huwelik seën met kinders (sien Deuteronónium 7:12-14, Psalm 127:3-5 en Psalm 128 oor die seën van kinders), verbreed 'n man en vrou se verantwoordelikhede en take in die gesin. Hulle kry die geleentheid om die Here nie net in die huwelik te dien nie, maar ook in hulle ouerskap. Die begin van ouerskap beteken nie dat die huwelik nou onbelangrik is of tweede moet kom nie, maar dat die huwelik nou die hart van die gesin word (sien Génesis 1:26-28,Matthéüs 19:1-9 en Efésiërs 5:21-6:4). Dit gebeur soms dat jy óf jou verhouding met jou eggenoot óf jou verhouding met jou kinders prioritiseer na aanleiding van omstandighede, maar dit is belangrik om 'n balans te handhaaf tussen die twee.

Een van die verantwoordelikhede wat saam met die seën van kinders kom, is om hulle in die vrese van die Here groot te maak. Deuternómium 6:6-7 (AFR53) sê: "En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan." Dit wys ons die belangrikheid daarvan om ons kinders die weë van die Here te leer, maar ook dat ons (as Christene) altyd besig moet wees met die dinge van die Here. Aanbidding begin in die huisgesin - dis waar kinders leer hoe om God te dien. Ons moet ons daaglikse lewe só inrig, en die alledaagse dinge só aanpak, dat dit getuig van 'n Gees-vervulde hart sodat ons kinders daardie voorbeeld kan volg. (Sien Kolossense 3:16 en 23 en Efesiërs 5:18b).

Daar is baie praktiese maniere hoe om so 'n voorbeeld te wees. Die boek, Habits of the Household (wat aan die einde van die artikel aanbeveel word), stel voor dat jou daaglikse roetine 'n vorm van aanbidding is en dat, hoe jy jou lewe inrig, gesien kan word as 'n tipe liturgie. Die skrywer gee baie praktiese voorbeelde van hoe jy dit kan toepas en watter gewoontes jy kan bou om dit te doen.

Een van die belangrikste dinge wat enige Christen kan doen, is om die dag in stilte voor die Here te begin - deur Bybel te lees en te bid - om bewus te wees daarvan dat die Here daardie dag gemaak het, sodat jy dit ook tot sy eer kan deurbring.

Die eerste gedagte wat opkom wanneer 'n mens daaraan dink dat jy jou kinders van die Here moet leer, is om met hulle daaroor te praat. Dit is goed en belangrik vir ouers om hierdie gesprekke met hulle kinders te hê, maar dit is net so belangrik dat ouers se lewens hulle leer reflekteer, want kinders leer deur te sien - "monkey see, monkey do". Laat hulle byvoorbeeld sien hoe jy jou oggend saam met die Here begin en laat hulle soms deel wees daarvan.

Gereelde erediensbywoning en die gesindheid waarmee ouers dit doen, is 'n ander manier waarop kinders hulle ouers se geloof kan sien. Hulle leer dan ook so getrouheid en hoe dit lyk om deel te wees en deel te neem aan die gemeenskap van die heiliges. Dit is die ouers se taak om ook te verduidelik waarom ons kerk toe gaan en te help waar kinders dalk vrae het oor die preek.

Gesprekke in die gesin moet ook nie net gaan oor amptelike geloofslewe en -leer nie. Dis die ouers se verantwoordelikheid om 'n omgewing te skep waar daar openlik oor enige onderwerp gepraat kan word. 'n Omgewing waar ouers in liefde en met eerlikheid reageer op wat hulle kinders sê en waar kinders ook kan sien dat hulle ouers so met mekaar en ander omgaan.

Dis belangrik om geloofsleer nie slegs oor te laat aan die kerk en katkisasie nie, want ouers het self die doopbelofte afgelê om hulle kinders van God te leer. Daarom is dit goed om deur die week ook saam as gesin Bybelstudie te doen. Ouers kan verder met elke kind afsonderlik Bybelstudie doen en gesprekke hê oor die geloof en sake wat op die betrokke kind van toepassing is.

Kinders leer ook uit die manier waarop ouers omgee vir hulle medemens (binne en buite die kerkgemeenskap). Hulle sien wanneer ouers byvoorbeeld met vreugde kos maak en bring vir 'n gesin wat dit nodig het. Hierdie tipe voorbeeld wat ouers stel, sal kinders dan ook in hulle lewe makliker kan volg eerder as wat ouers net sê dat 'n mens moet lief wees vir jou naaste.

Die verantwoordelikheid om kinders volgens God se wil op te voed, mag dalk swaar op ouers rus, maar hulle word bemoedig in die wete dat hulle dit in vertroue op die Here mag doen.Hulle mag ook onthou dat hulle kinders aan God behoort en dat Hy in beheer is van alles. Wanneer ouers dít doen en hulle taak biddend aanpak, mag hulle rustig wees in die vertroue dat God se wil altyd geskied - dat die Heilige Gees ook in hulle kinders se harte werk en hulle pad só sal lei dat dit tot verheerliking van sy Naam is.

Alhoewel hierdie artikel 'n duidelike fokus het op die “tradisionele” gesinslewe, is dit belangrik om te onthou dat dit nie die Here se plan vir almal is nie. Daar is baie mense wat vir verskeie redes nooit trou nie (sien byvoorbeeld 1 Korinthiërs 7 en Matthéüs 19:12), of nie kan kinders kry nie. Daardie mense is geensins minder geseënd nie, en die Here gee vir hulle ander geleenthede om hul Christenskap uit te leef. Ons moet voortdurend biddend voor Hom staan en vra hoe Hy ons in sy Koninkryk wil gebruik.

Goeie bronne om te lees/luister

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp