Deur die lens van buite – Nuwe lidmate se ervaring van die VGK-gemeenskap
Hoe anders sou die lewe wees as ek saam met my broers en susters in Christus op skool was? Hoe sou my lewe gelyk het as my ouers grootgeword het, en familievriende was, met die mense wat in ons in die kerkbanke sien sit?
Geskryf deur Imaney Janse Van Rensburg, VGK Bellville
Hoe anders sou die lewe wees as ek saam met my broers en susters in Christus op skool was? Hoe sou my lewe gelyk het as my ouers grootgeword het, en familievriende was, met die mense wat in ons in die kerkbanke sien sit? Hoe sou die kerk gelyk het as daar geen buitestaanders ingekyk het in, en uiteindelik deel geword het van die gemeente nie? Dié prentjies is amper ondenkbaar. En tog beter so, of hoe?
Daar is soveel mense in die gemeente vandag wat as jong volwassene lidmaat geword het, wat mens sou kon misgis vir iemand wat gedoop is by die einste doopvont wat nog altyd voor die preekstoel staan. Iemand wie as baba by die oppasdiens afgelaai is, wat hul graad 5 Engels-juffrou in die kerkbank gesien het op Sondae, wat deelgeneem het aan aktiwiteite by die Jeugvereniging (JV), en vandag ‘n betrokke lidmaat is, moontlik selfs ouderling, of sameroeper van die Hulpfondskomitee.
Is dit nie ‘n goeie ding dat ons nie die “inheemse” kerkgangers kan onderskei van dié wat met die wind ingewaai het nie? Immers sê die boek van Levitikus al:
“Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God.” – Lev. 19:34
Dit is presies so vir die inheemse lidmate van die VGK, wie se voorouers oorspronklik vanuit Nederland gekom het, vier of selfs vyf geslagte terug! Hulle was self vreemdelinge in Suid-Afrika, en kan dus nie die verantwoordelikheid van liefde en gasvryheid teenoor ‘n ander vermy nie. Maar hoe ervaar die inkomelinge hierdie gasvryheid? Ek het myself en ses ander inkomelinge (deelnemers 1 tot 7) ‘n stel vrae gevra oor hul ervarings in die kerk aan die begin van hul bywoning, tot hoe hul nou hul eie plekkie in die kerkbanke het.
Meeste van die deelnemers het die dienste begin bywoon deur ‘n beter helfte wat ek sou ag as ‘n inheemse lidmaat. Van die vroeër nuwelinge (2, 3, 5, 7) noem dat van die dienste vóór Ds. Bruintjes se koms in die Kaap, moeilik was om te verstaan as gevolg van ‘n swaar Nederlandse aksent tydens bediening, asook hoë formele taalgebruik (waaraan hulle intussen meer gewoond geraak het).
Deelnemers 6 en 7 het hulself as ongelowig of skepties geag toe hulle aan die begin kerk toe gekom het. Nommer 7 sê veral dat as gevolg daarvan, het hulle gevoel asof hul al een was wat nie geweet het wanneer om op te staan of te sing nie, en dat hul gevoel het asof die manier hoe hulle aantrek verkeerd was en dat daar op hulle neergesien is. Vir hulle het die aanlyndienste tydens Covid egter ‘n unieke kans gegee om in gemak na die Woord van God te luister en daardeur aangeraak te word.
Die meeste ander deelnemers getuig dat hulle van die begin af gemaklik en welkom gevoel het, ten spyte van die vreemde Nederlandse kultuur en die hegte gemeenskap wat reeds gevestig was.
Deelnemers 4 en 5 het albei genoem van ‘n gevoel van eksklusiwiteit van die geslote nagmaalstafel, asook hoe tydens JV gesprekke daar soms ‘n tipe van neerhalende houding teenoor ander kerkverbande was. Deelnemer 1 eggo dit ook, en het ervaar dat hulle ‘n meer opregte belangstelling sien by sending-gemeentes, wat ook eintlik inkomelinge is. Hierdie deelnemer stel voor dat dit iets is waaraan ons hier in die VGK kan werk. Dit wil sê, meer aanvaarding vir die mense daar buite, en ‘n liefde en meelewing vir ons mede-Christen.
Maar dis nie alles slegte terugvoer nie. Inteendeel! Al die deelnemers getuig van die vriendskappe wat gevorm het, die bande wat gebou is, en die liefde vir God wat gegroei het om dit alles in staat te stel.
Deelnemers 5 en 7 sê verder dat dit wel afhang van hoe jy jouself laat voel in die gemeente, en hoe betrokke jy is, want sonder die ondersteuning van die gemeenskap is ons alleen. Die Bybel sê telkens dat ons nie alleen die pad van geregtigheid moet stap nie – dat ons saam met ons mede-Christene deel is van een liggaam waar elkeen sy eie roeping het (1 Kor. 12:12). Tog leer ons ook om mekaar te dien soos wat Christus gekom het om te dien (Mar. 10:45).
Die kerk is ‘n unieke gemeenskap van gebroke mense, mense wat foute maak, en mense wat sondig. Maar terselfdertyd is dit ‘n familie wat mekaar ondersteun, vir mekaar bid, en mekaar dien tot die bou van God se koninkryk. Hoe kan ons dan wil onderskeid tref, of iemand vooroordeel omdat hulle paadjie anders as ons eie lyk?
Jy kan oor enigiets skryf vir ons! Gebruik gerus die volgende skakel vir meer inligting: Skryf vir ons!
Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp