Detransisionering en Genade - Die getuienis van Christopher Yuan

Detransisionering en Genade - Die getuienis van Christopher Yuan

In ‘n wêreld waar identiteit en seksualitiet ‘n sensitiewe onderwerp is, word Christene uitgedaag om vas te staan in wat die Skrif vir ons leer, maar ook om op dieselfde tyd liefdevol op te tree. Hierdie onderwerp raak mense diep en kan nie oppervlakkig hanteer word nie. Die Skrif leer ons dat God die Skepper van die mens is en dat ons na Sy beeld geskape is (Genesis 1:27). God het ook die huwelik ingestel as ’n verbond tussen een man en een vrou (Genesis 2:24). Terselfdertyd leer die Bybel ons dat alle mense sondig is en die heerlikheid van God ontbreek (Romeine 3:23). En daarom is elkeen, ongeag hul stryd, volkome afhanklik van God se genade.

Die evangelie bring egter vir al ons sondige mense hoop. Dit roep ons nie net op tot bekering nie, maar gee vir ons ’n nuwe identiteit in Jesus Christus. Hierdie geld vir elke gelowige, ongeag hul verlede. Tog beteken dit nie dat die Christelike lewe sonder stryd is nie. Inteendeel, gelowiges word geroep tot ’n lewe van heiligmaking en gehoorsaamheid (1 Thessalonicense 4:3-5), waar ons daagliks ons eie begeertes moet onderwerp aan die wil van God.

Met hierdie in gedagte, kom ons staan stil by die getuienis van Christopher Yuan - ’n man wie se lewe gekenmerk is deur worsteling, maar ook deur die transformerende krag van God se genade. Sy verhaal herinner ons daaraan dat niemand buite die bereik van God se liefde en verlossing is nie, en dat die kerk geroep is om getrou te bly aan die Skrif, maar ook om met deernis en sagmoedigheid na mense uit te reik (Efesiërs 4:15).

Christopher Yuan is gebore in die Verenigde State en het grootgeword in ’n christelike huis, Hy het egter later van die pad afgedwaal. Hy het homself begin identifiseer as ‘n homoseksuele man en het betrokke geraak by ’n leefstyl wat uiteindelik gelei het tot dwelmmisbruik en die verkoop van dwelms. Dit het uitgeloop op sy arrestasie en tronkstraf. Tydens hierdie moeilike tyd het sy ma tot ’n dieper geloof gekom en aanhoudend vir hom gebid. In die tronk het Christopher begin om die Bybel te lees, en deur hierdie proses en die werk van die evangelie het hy tot bekering gekom en sy lewe aan Jesus Christus oorgegee.

Na sy vrylating het hy besluit om sy lewe in diens van God se te wy. Hy het teologie studeer en het later ’n dosent geword by Moody Bible Institute. Vandag is hy ’n bekende spreker en skrywer wat wêreldwyd getuig van God se genade en die verandering in sy lewe. In sy boek “Out of a Far Country” deel hy, saam met sy ma, hul verhaal van gebrokenheid, gebed en herstel.

Christopher Yuan se boodskap fokus daarop dat ’n mens se identiteit in Christus gevind word en nie in jou verlede of versoekings nie. Sy getuienis dien as ’n herinnering dat God se genade kragtig genoeg is om lewens te verander. Die kern van ’n Christen se identiteit lê nie in enigiets wat ons doen nie. Ook nie in ons prestasies, gevoelens of selfs seksualiteit nie, maar alleen in Jesus Christus.

Die Skrif leer dat ons van nature ons identiteit soek in dinge wat veranderlik en gebroke is, maar dat God ons roep om onsself te sien soos Hy ons sien: as mense wat deur genade gered en nuut gemaak is. Soos ons lees in 2 Korinthiërs 5:17: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” Hierdie nuwe identiteit is nie gebaseer op wat ons voel of ervaar nie, maar op wat Christus vir ons gedoen het.

Die mens se diepste probleem is sonde. Dit is ‘n gebrokenheid wat elke deel van ons wese raak, insluitend ons begeertes. Romeine 3:23 stel dit duidelik: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Daarom word geen spesifieke sonde uitgelig as die kern van ons identiteit nie; eerder is ons almal gelyk afhanklik van God se genade. Wanneer iemand tot geloof kom, ontvang hy nie net vergifnis nie, maar ook ’n nuwe identiteit as kind van God (Johannes 1:12). Dit beteken dat ons primêre identiteit nie lê in ons stryd of versoekings nie, maar in ons verhouding met Christus.

Hierdie nuwe identiteit bring egter ook ’n roeping tot ’n lewe van heiligmaking. 1 Tessalonisense 4:3-5 sê: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking… dat elkeen van julle sy eie vrou moet verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie.” Vanuit hierdie perspektief word seksualiteit gesien as iets wat onder God se wil gebring moet word, nie iets wat ons definieer nie. Gelowiges word geroep om hulself te verloën en Christus te volg (Lukas 9:23), wat beteken dat ons nie ons identiteit bou op ons begeertes nie, maar dit onderwerp aan God se Woord.

Die getuienis van Christopher Yuan sluit hierby aan. Hy getuig dat sy identiteit nie meer lê in sy seksuele oriëntasie nie, maar in Christus alleen. Sy lewe illustreer die Bybelse waarheid van Galasiërs 2:20: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my”. Dit is die roeping van elke Christen, nie net in terme van seksualiteit nie, maar in elke aspek van die lewe. Om hul ware identiteit in Christus te vind, en daarvolgens te leef in afhanklikheid van Sy genade en krag.

Die verhaal van Christopher Yuan herinner ons daaraan dat geen mens buite die bereik van God se genade is nie. Sy lewe is nie ’n eenvoudige “voor en na”-verhaal nie, maar ’n voortdurende reis van groei, gehoorsaamheid en vertroue op die Here. Vir die kerk bly dit belangrik om waarheid en liefde saam te hou, om vas te staan in die Skrif, maar ook om met deernis en begrip na mense uit te reik.

Geskryf deur Emile Burgers, VGK Maranata